2 Timoteus 1-4
Paulus het een groot begeerte, om vir oulaas nog 'n brief te skryf aan Timoteus. Hy weet dat dit soms maar baie swaar gaan met die jong man wat in moeilike omstandighede die leraar moet wees in die Efesiër-gemeente. Nadat hy vir Timoteus in Efese gelos het, is hy na Masedonië. En kort daarna het hy vir Timoteus 'n brief geskryf om hom te bemoedig en raad te gee. Hy het vir hom verduidelik hoe 'n gemeente behoort te funksioneer, en wat die pligte was van die verskillende groepe mense in die gemeente, soos ouderlinge, vroue, jongmense ensovoorts.
Paulus pleit by die tronkbewaarder om hom asseblieftog toe te laat om iemand in te kry wat hom kan help om 'n brief te skryf. En wonder bo wonder stem die man in.
'n Paar dae later daag die sekretaris op met sy papirus, ink en skerpgemaakte gansveer, en hy neem stelling in langs Paulus. Hy skrik as hy sien hoe oud en vervalle Paulus geword het in hierdie kort tyd. Maar ten spyte daarvan is daar steeds die sprankel in Paulus se oë, en die glimlag plooi steeds om sy mondhoeke.
Hy begin skryf: “Aan Timoteus, my geliefde kind: Genade, barmhartigheid en vrede van God, die Vader, en Christus Jesus, ons Here.”
Onwillekeurig dink Paulus aan die laaste keer toe hy vir Timoteus gesien het, daar toe hulle in Efese afskeid geneem het. Die trane het onbeskaamd oor Timoteus se wange gestroom. Het hy dalk toe al geweet dat dit die laaste keer sou wees wat hulle mekaar sou sien?
“As ek aan jou trane terugdink, verlang ek daarna om jou te sien, sodat ek met blydskap vervul kan word.” skryf Paulus, al weet hy dat dit nie sal gebeur nie. “Ek dink steeds aan jou opregte geloof, daardie geloof wat eers in jou ouma Loïs, en in jou moeder Eunice was – en ek is oortuig dat dit ook in jou is.”
Die sekretaris kyk Paulus vraend aan. Ingedagte staan hy en wonder hoe hy dit vir Timoteus moet stel? Paulus se innige gebed is dat daardie vuur in Timoteus nooit sal blus nie. Ja, inderdaad moet 'n mens maar gedurigdeur die vuur aanblaas sodat die krag van die Heilige Gees ons kan vul met liefde en selfbeheersing.
“Moet jou dus nie skaam vir die getuienis van ons Here nie, ook nie vir my, sy gevangene, nie.” Hy wil dit vir Timoteus op die hart druk dat hy te alle tye getrou moet bly aan die Evangelie. Hy moet toegewy bly aan die Here. In die jare wat Timoteus saam met Paulus gewerk het, het Paulus vir hom 'n voorbeeld gestel van wat dit beteken om in diens van die Here te staan. Nou wil Paulus hê dat Timoteus daardie voorbeeld sal navolg. Maar dit moet verder gaan: hy moet ook ander bekwame mense leer en opleiding gee om sélf leraars te wees om só die Evangelie verder uit te dra.
Hy gebruik 'n beeld wat hy veral die laaste tyd baie mee te doene gehad het, dié van 'n soldaat, om vir Timoteus te verduidelik dat hy nes 'n soldaat absoluut gehoorsaam is aan sy bevelvoerder, so moet Timoteus dieselfde onvoorwaardelike gehoorsaamheid teenoor die Here hê. En hy moet maar daardie begeertes wat so deel is van elke jongmens vermy en eerder streef na opregtheid, geloof, liefde en vrede asook 'n rein hart. “Bly asseblief maar weg van die sinlose strydvrae waarvoor die mense van Efese so lief is. En wees vriendelik! Selfs teenoor die mense wat jou bloed laat kook!”
En dan is daar die dwaalleringe wat nog steeds in die gemeente versprei word. Timoteus ken tog van kleins af al die Heilige Skrif. As hy die Skrif as riglyn gebruik, gee dit hom ál die nodige kennis. “Elke Skrifdeel is deur God geïnspireer,” skryf Paulus vir hom in 2 Tim. 3:16, “en is nuttig vir onderrig, weerlegging, teregwysing, en opvoeding om God se wil te gehoorsaam, sodat die mens wat aan God behoort, bekwaam kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie taak.”
Dan pleit Paulus by Timoteus, nee, eintlik beveel hy hom in God se Naam om vol te hou om die Woord van God te bly verkondig, tydig en ontydig.
“Die tyd van my dood is voor die deur,” skryf hy vir Timoteus, “Maar ek het die wedloop voltooi, ek het die geloof behou. Nou wag die oorwinningskrans van geregtigheid op my, wat die Here, die regverdige Regter, op daardie dag vir my sal gee – en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat sy koms liefhet.”
Vir oulaas, voordat hy die brief afsluit, spreek hy die versugting uit dat Timoteus tog asseblief gou vir hom sal kom kuier.
“Paulus, jou tyd het gekom!” hoor hy die soldaat wat hom na sy verhoor moet neem.
“Dankie Here,” bid Paulus, “dankie vir U groot genade!”
Volgens oorlewering is Paulus onthoof onder die regering van die wrede Nero in Mei van die jaar 68nC. Slegs 'n maand later, op 9 Junie van dieselfde jaar pleeg Nero selfmoord.
Paulus het 'n vol lewe gehad en 'n ryk nalatenskap agtergelaat vir baie miljoene mense!
Gebed:
Here, dankie vir die wonderlike lewe van Paulus, vir alles wat Hy ons geleer het en die wonderlike voorbeeld wat hy gestel het!