Handelinge 28:30-31
Net 'n nota: die gegewens vervat in die volgende paar dagstukkies word nie in die Bybel beskryf nie, maar ons kan uit ander geskrifte en oorlewering, asook sekere inligting uit Paulus se briewe aflei dat hierdie waarskynlik die verloop van Paulus se verdere lewe was. Kyk gerus na die aanhangsel wat die bronne beskryf waaruit ons die inligting kry by hierdie skakel: BRONNE
Dit is die jaar 67nC. Paulus sit in die tronk in Rome, 'n stokou man, afgeleef. Hierdie slag is hy nie in huisarres nie, maar in die Romeinse kerker onder haglike omstandighede. Hy is in Griekeland gevange geneem en toe in die tronk gesmyt in Rome, waar hy wag op net nóg 'n verhoor, hierdie keer deur die wrede Nero, wat intussen die keiserlike kleed op sy skouers gekry het. Nero haat alle Christene met 'n passie! Paulus wéét al klaar dat hierdie volgende verhoor hom tot die dood gaan veroordeel.
In hierdie moeilike tyd van eensaamheid dwaal Paulus se gedagtes. Dit is nou reeds vyf jaar sedert sy eerste verhoor in Rome. Toe het die keiser hom vrygespreek op alle aanklagte teen hom. Die keiser was daardie dag moeilik, want hy het gevoel dat die Jode sy kosbare tyd gemors het deur vir Paulus te laat verhoor.
Met sy vrylating was Paulus weer vry om te gaan waar hy wou, en die eerste wat hy wou doen was om van die ou gemeentes te gaan opsoek. Eerste op sy lys was Kolosse, en daarna Efese. Hy het vir Timoteus saamgevat op hierdie besoeke, maar toe hulle in Efese kom, besef Paulus dat hierdie vinnig-groeiende gemeente nou 'n leraar nodig het om hulle leiding te gee. Daar was ook probleme met mense wat dwaalleringe verkondig het. Die aangewese persoon om daar aan te stel, was Timoteus. Die jong man was in die wolke om so 'n aanstelling te kry. Maar dit was nie 'n maklike een nie, soos Timoteus wel baie gou sou agterkom!
Van Efese is Paulus na Masedonië. Maar Timoteus het steeds in sy gedagtes gebly. Sou die mannetjie die mas kon opkom met so 'n moeilike gemeente? Is hy nie dalk nog te jonk nie?
En nét daar besluit hy om vir Timoteus 'n brief te skryf om hom te bemoedig en hom raad te gee. In Efese was daar 'n sieklike beheptheid met allerhande twisvrae. Paulus druk dit vir Timoteus op die hart dat hy as teenvoeter die gesonde leer moet verkondig wat in ooreenstemming is met die Evangelie wat die Here aan Paulus toevertrou het. Volgens hierdie Evangelie het Jesus na die wêreld gekom om sondaars te verlos.
Paulus het ook vir Timoteus baie duidelik laat verstaan dat hy 'n voorbeeld moet stel aan die ander gelowiges. Hy is nou die leraar in die gemeente, en sy gedrag moet onberispelik wees, want almal kyk op na hom. Jy kan nie gelowiges lei op die pad na heiligmaking deur bevele uit te blaf nie, maar deur die voorbeeld wat jy stel, rig jy hulle lewens.
Paulus verduidelik verder vir Timoteus dat dit nie maklik gaan wees nie, hy gaan beslis baie teenstand kry! Juis om daardie rede mag hy nie halfhartig die stryd betree nie, maar hy moet sy volle gewig ingooi om die goeie stryd, die stryd van die Here te stry.
En dan is daar die kwessie van jou gewete. Hoe ver strek my verantwoordelikheid? Doen ek werklik wat God en die mense van my verwag? Moenie jou gewete toeskroei nie! Doen wat God van jou vra, en hou jou gewete skoon!
Ja, Paulus onthou hierdie brief nog byna woordeliks!
Maar toe vertrek hy na Klein-Asië, waar hy vir byna twee jaar bly en die verskillende gemeentes besoek en hulle geestelik versterk.
En dan kom die geleentheid waarvan Paulus al die tyd nog net gedroom het. Ja, hy het selfs in van sy briewe geskryf dat hy eendag nog na Spanje wou gaan. En dan kom hierdie wonderlike geleentheid, en Paulus gryp dit met albei hande aan. Nou het hy wáárlik die Evangelie verkondig aan die verste uiteindes van die wêreld! Vir 'n volle twee jaar werk Paulus in Spanje, voordat hy terugkeer na die wêreld van die Grieke en Romeine.
Hy kommandeer vir Titus op om saam met hom te gaan na een van die nagmerrie gedeeltes van die wêreld, die eiland Kreta. Titus is een van Paulus se bekeerlinge, en hierdie knap jong Griek leer baie vinnig. Sommer gou is hy, nes Timoteus, sommer 'n voorslag. Om die Evangelie op Kreta te verkondig onder daardie goddelose inwoners, verg iemand met baie energie, vermoë en Geesvervuldheid. Titus het beslis hierdie eienskappe! Die Kretense was berug daarvoor dat hulle kansvatters, bedrieërs en diewe was. Hulle het selfs so ver gegaan om Romeinse skepe te plunder. Dit het hulle uiteindelik duur te staan gekom!
Titus kry die taak om agter te bly as leraar van die klein gemeente wat hy en Paulus daar tot stand bring, en daarna vertrek Paulus weer na Klein-Asië. Maar Paulus het baie kommer in sy hart oor die arme Titus!
Wat Paulus vir Timoteus geskryf het, het nét so betrekking op my en jou. Moontlik is ons nie geordende leraars nie, maar ons dra presies dieselfde verantwoordelikhede. Kom ons leef dit uit!
Gebed,
Here, help my asseblief om my verantwoordelikhede as Christenleier met my hele hart uit te leef!