Brief aan die Kolossense

17 July, 2026

Kolossense 1-4

Die dae gaan verby waar Paulus 'n gevangene is in sy eie gehuurde huis in Rome, en die dae word weke en maande. Paulus ontvang dikwels gaste en daar is kort-kort van die gelowiges wat met hom kom gesels. Natúúrlik verwelkom hy dit! Hy probeer ook gereeld geselsies aanknoop met die soldate wat hom bewaak. Maar vir Paulus is dit nie genoeg nie. Hy wil soveel meer doen, maar sy hande is afgekap!

Op 'n dag kom Epafras by hom aan. Die vreugde is groot om hom te sien, want hulle het jare gelede in Kolosse ontmoet. Maar Epafras bring ontstellende nuus: alles is nie baie lekker in sy tuisgemeente in Kolosse nie. Nie een van die gemeentelede het 'n teologiese opleiding nie, en diegene wat op Sondae die Woord bring, doen dit uit die beperkte Skrifkennis wat hulle het. Die probleem is egter dat daar sommige van hierdie lekepredikers is wat andersdenkend is, en die Woord anders verkondig as wat hy dit destyds van Paulus gehoor het. Hy kom soek raad!

“Kyk, ek sit hier as 'n gevangene, en ek kan my nie uit hierdie huis roer nie. Ek wens só dat ek dinge daar kan gaan regstel. Maar ek sal 'n brief skryf vir die gemeente om die probleem aan te spreek. Moenie bekommerd wees nie Epafras, ons sal dit uitsorteer.”

Dan laat roep hy vir Timoteus: “My seun, ek het nóg 'n werkie vir jou: kan jy vir my nóg 'n brief skryf?”

Timoteus is sommer dadelik opgewonde. Hy het alreeds 'n week of wat gelede 'n brief vir Paulus geskryf aan die gemeente in Laodisea. Hy geniet hierdie briefskrywery, want sodoende leer hy sommer baie dinge van Paulus oor geloofsake.

Timoteus is nie die enigste van Paulus se getroue vriende hier in Rome nie, Dokter Lukas is ook op die oomblik hier met een van sy vele besoeke aan Paulus, asook Demas, Aristargos, en Justus. En dan is daar ook Barnabas se nefie, Markus. Dis nou die een wat vir Paulus en Barnabas in die steek gelaat het tydens hulle eerste sendingreis. Uiteindelik het hy en Paulus vrede gemaak, en nou is hy een van Paulus se getroue ondersteuners.

Timoteus maak homself gemaklik voor die skryftafel. Alles is netjies uitgepak: 'n paar velle papirus, sy skerpgemaakte gansveer en 'n potjie ink wat hy self aangemaak het.

Diep ingedagte dikteer Paulus terwyl hy op en af begin stap, “Van Paulus, 'n apostel van Christus Jesus deur die wil van God, en van die broer Timoteus.” Die mense moet weet dat dit Timoteus is wat die fisiese skryfwerk doen. Hierdie jongman gaan dit nog baie ver in die lewe bring!

“Ek moet dalk net eers vir jou verduidelik waarom ek die brief só begin,” verduidelik hy vir Timoteus. “Dis nie almal in Kolosse wat my ken nie, daar het baie nuwe bekeerlinge gekom nadat ek daar was, daarom moet ek myself mos ter wille van hulle bekendstel. Ek sien myself as 'n apostel, 'n gestuurde, want by Damaskus het Jesus my persoonlik gestuur. Almal stem nie noodwendig daarmee saam nie, hulle sê dat slegs die twaalf manne wat saam met Jesus was, apostels kan wees!”

Timoteus knik sy kop, hy verstaan. “Aan die heiliges in Kolosse, gelowige broers in Christus: Genade vir julle en vrede van God, ons Vader!

Dan gaan Paulus voort met sy brief: eers 'n dankbetuiging teenoor die Here vir hierdie gemeente, en daarin noem hy pertinent dat Epafras 'n goeie leermeester is, en dat hulle moet agslaan op dít wat hy vir hulle leer. Hy skryf vir hulle dat hulle almal gedurig in sy gebede is en hy bid dat hulle sal groei in die kennis van God, en dat daar baie vrug sal wees in hulle lewe.

Dan begin dit sommer in Paulus te borrel oor die goedheid van God, en hy val weg met 'n gedig oor Jesus. Die trane stroom oor Timoteus se wange wanneer hy hierdie aangrypende gedig op papirus neerpen.

Maar dan word dit tyd vir ernstige sake, die éintlike rede vir sy brief. Met groot omsigtigheid skryf Paulus oor die probleme wat in die gemeente voorkom. Hulle moet baie versigtig wees vir allerhande teorieë en mooi argumente wat hulle kan mislei. Ja, inderdaad ís daar mense in die gemeente wat anders dink. Daar is byvoorbeeld van die Joodse gelowiges wat nog vasklou aan al die ou Joodse tradisies, maar hulle wil dit ook afdwing op die nie-Jode. Hulle wil beweer dat álle gelowiges kwansuis besny moet word! Daardie dinge is alles verby! Christus het gekom om ons vry te maak van ál daardie ou bande. Nou moet ons leef soos vrygemaakte mense!

Paulus dikteer onder meer in Kol. 2:16 vir Timoteus: “Moet dus nie dat iemand julle oordeel oor wat julle eet of drink, of oor 'n fees, 'n nuwemaansfees of 'n Sabbat nie. Hierdie dinge is net 'n voorafskaduwing van dit wat aan die kom was, maar die werklikheid is Christus!”

Wanneer hy klaar is, verseël hy die brief en gee dit vir Markus om in Kolosse te gaan aflewer. Sy opdrag is dat wanneer hulle dit klaar gelees het, dan moet dit na Laodisea gaan. Die gemeente in Kolosse moet dan sommer ook die brief lees wat hy aan die mense van Laodisea geskryf het.

Daar is baie maniere wat ek en jy vandag die Woord kan versprei. Paulus het kreatief gedink en baie miljoene bereik. Dink kreatief!

Gebed:

Here, gee my asseblief die wysheid om op kreatiewe maniere die Evangelie uit te dra!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026