Uiteindelik Rome!

15 July, 2026


Handelinge 28:11-16

Vir drie maande bly Paulus-hulle op die eiland Malta. Dit is in die middel van die winter, en géén skip waag dit gedurende daardie ysige tyd op die see nie. In Februarie van die jaar 60nC vertrek die skip, die Dioskuri vanaf Malta. Aan boord is Paulus, Lukas en Aristarchos asook al Paulus se mede-gevangenes en die soldate wat hulle begelei. Op pad doen hulle aan by Sirakuse en drie dae later vertrek hulle na Regium aan die “toon” van Italië. Hulle volgende bestemming is Puteoli, die belangrikste handelshawe in Italië. Hier loop Paulus 'n aantal gelowiges raak, en hy bring 'n week by hulle deur.

Van Puteoli af vertrek hulle te voet na Rome, 'n reis van sowat 150 kilometer. Die nuus van Paulus se aankoms in Italië loop hom ver vooruit, en halfpad na Rome word hy ingewag by die mark van Appius deur 'n klomp gelowiges. 'n Ent verder, by Drie Herberge wag daar 'n verdere klomp gelowiges op hom.

Dis vir Paulus waarlik 'n riem onder die hart wanneer die gelowiges hom tegemoet kom. Hy het 'n paar jaar vantevore die beroemde brief aan die Romeine geskryf, en nou is hierdie mense aan wie hy geskryf het hier om hom van aangesig tot aangesig te kom ontmoet. Paulus is oorstelp van vreugde, en hy bars uit in 'n lofbetuiging tot God. Hy dank die Here vir dit wat besig is om hier te gebeur. Nou skep hy sommer ook weer nuwe moed, en dit sit 'n huppel in sy stap vir die laaste skof na Rome.

Is dit nie 'n wonderlike voorreg om medegelowiges te hê wat vir jou omgee nie?! Dis veral wanneer die pad swaar raak, dat sulke mense jou las sommer baie ligter maak, al help hulle nie eers fisies nie. In my eie lewe kan ek getuig van dierbare mense, nie alleen in ons gemeente nie, maar ook van elders, wat my geestelik op die hande dra deur hulle omgee. Wanneer ek op 'n Sondag by die kerk aankom, is daar 'n klomp mense wat my hartlik groet en omhels en die liefde straal uit hulle gesigte wanneer hulle my sien. Dit gee jou die gevoel van: “Hier hoort ek!”

Maar daar is ook dierbare vriende iewers daar ver, wat my gedurig bemoedig met briefies, vriende wat hierdie dagstukkies ontvang en meelewe met dit wat ek skryf. Enkeles het ek al ontmoet, maar die meeste het ek nog nooit met 'n oog gesien nie. Hulle is egter vir my soos hegte familie. Baie dankie vir elkeen van julle, julle sal nooit besef wat dit vir my beteken nie!

En dan is daar natuurlik ons manne groep. Elke Donderdagoggend ry ek al voordat die hoenders nog wakker is, want hierdie byeenkoms mis ek vir niks op aarde nie! Hierdie klomp manne is vir my soos hegte familie. Ons dra mekaar se laste en deel in mekaar se vreugdes. Die manne kan net eenvoudig nie uitgepraat raak nie en jy moet sukkel om ‘n woordjie in te kry. Hier is ware omgee!

Maar terug by Paulus: terwyl hy saam met al sy vriende die laaste klompie kilometers na Rome op die bekende Romeinse pad, die Via Appia stap, kan hy nie help om te wonder wat in Rome op hom wag nie. Hy is opgewonde, want daar wag 'n splinternuwe sendingveld op hom. En die skare van gelowiges wat nou om hom saamdrom is die klinkklare bewys dat hierdie uiters vrugbare aarde is. Maar daar is tóg ook die stukkie onsekerheid, want die keiser is uiters onvoorspelbaar. Gaan hy vir Paulus laat opsluit of gaan hy vrygelaat word? Niemand kan 'n voorspelling waag nie.

Uiteindelik doem die manjifieke stad voor hom op, en onwillekeurig snak Paulus na sy asem. Die bouwerke is, om die minste te sê, asemrowend. Wanneer hulle deur die strate van die stad stap kan hy nie help om die aangrypende Kolosseum oopmond aan te gaap nie. Paulus is 'n man wat baie lief is vir sy sport, die talle verwysings na sport in sy briewe, is 'n bewys daarvan. En hierdie aangrypende gebou is spesifiek ontwerp suiwer vir sportgeleenthede! Hy kry hoendervleis as hy die opgewonde skares op die stadion hoor skree en lag. Maar hy het ook al gehoor van die wrede dinge wat agter die hemelhoë ringmuur aangaan. 'n Yskoue rilling gaan teen sy ruggraat af.

Wanneer Paulus in Rome aankom, word hy ingelig dat hy nie in die gevangenis opgesluit gaan word nie. Hy is in huisarres. Dit beteken kortweg dat hy sy eie huisvesting moet gaan soek, maar dat hy 'n gevangene in sy eie huis sal wees, en dat daar gedurig 'n soldaat sal wees om hom op te pas. Hy het egter 'n groot mate van vryheid, en hy kan vryelik besoekers ontvang.

Kyk net hoe wonderlik voorsien die Here! As 'n gevangene word Paulus gedwing om hom “stil” te gedra. Hy mag nie uit die huis beweeg nie, en dus kan hy nie tyd spandeer om 'n gemeente te organiseer nie. Nou word hy gedwing om na ander opsies te kyk om die Evangelie uit te dra. Die gevolg is 'n hele reeks briewe wat die ganse wêreld verander! En steeds het hy die gerief van sy eie huis waar hy rustig kan skryf met behulp van 'n sekretaris wat die fisiese skryfwerk vir hom doen. Maar steeds kan hy ook mense ontmoet en 'n inspirasie wees vir talle mense wat hom kom besoek.

Gebed:

Here, U is groot! U gebruik situasies tot U eer en om U Koninkryk te bou. Help my om dit altyd so raak te sien, en om U te loof en dank vir elke situasie en geleentheid!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Vir Oulaas, Timoteus
27 July, 2026
Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026