Handelinge 27:27-44
Veertien dae lank dobber Paulus-hulle se skip reddeloos iewers in die Adriatiese see tussen die Balkan en Italië. Waar hulle hulle bevind, weet niemand. Hulle kan steeds nie die son of sterre sien om énigsins 'n rigting te bepaal nie. Lukas en Aristarchos het dit sékerlik al diep berou dat hulle besluit het om die reis saam met Paulus deur te maak!
Maar dan kom daar 'n stukkie goeie nuus: een van die matrose sê dat hy vermoed dat hulle nou naby land moet wees. Daar is net iets wat anders is, en hy is séker dat daar iewers 'n stukkie droë aarde naby is. Van die ander manne stem saam. “Laat sak die dieplood!” beveel die kaptein, en tot hulle groot vreugde raak die dieplood bodem op 37 meter (20 vaam)! 'n Entjie verder is dit 27 meter, dus moet daar land naby wees!
‘n Vaam is die afstand tussen 'n man se uitgestrekte arms – van vingerpunt tot vingerpunt – ongeveer 1,83m.
In die donker kan hulle niks sien nie, maar hulle begin inderhaas voorbereidings tref. Die kans dat hulle iewers 'n rotsrif kan tref is groot, en hulle wil beslis nie hier in die middel van nêrens die skip verpletter op rotse nie! Haastig word vier ankers aan die agterstewe van die skip uitgegooi om te keer dat hulle op die rotse loop.
Daar is mos altyd in so 'n situasie mense wat net aan hulleself dink. 'n Paar matrose konkel onder mekaar om die reddingsbootjie te steel en daarmee na veiligheid te roei. Hulle laat sak die bootjie, en dan vertel hulle vir die kaptein dat hulle die bootjie gaan gebruik om die voorste anker te laat sak.
Maar Paulus ruik 'n rot! Hy sien sommer dadelik deur hulle plan, en dan gaan hy haastig na die Romeinse offisier en sê vir hom dat daardie matrose besig is met 'n skelmstreek. “Stop hulle asseblief dadelik, want as hulle wegkom, stel hulle ook óns lewens in gevaar!”
Hierdie slag luister die offisier na hom want Paulus wéét immers waarvan hy praat. Hy het homself mos nou al bewys!
“Kap die bootjie se toue af!” beveel hy sy soldate. En dan moet die oorblufte matrose sien hoedat hulle skelm plan in die onstuimige see wegdryf.
Teen dagbreek roep Paulus almal op die skip bymekaar: “Manne, ons dobber nou al vir veertien dae so rond. Maar nou het die tyd aangebreek dat ons gered gaan word. Julle het krag nodig, ons moet nou die bietjie kos wat ons oorhet alles eet, want julle gaan die energie nodig hê! Maar moenie bekommerd wees nie, want nie een van julle sal iets oorkom nie, almal sal ongedeerd gered word!”
Daarmee voeg Paulus die daad by die woord, en hy vat 'n stuk droë brood. Terwyl almal hom oopmond aangaap, bid Paulus en sê vir die Here dankie vir die kos en dat Hy hulle bewaar het en vir al Sy genade. Dan breek hy 'n stuk af en eet dit smaaklik op.
Die manne skep sommer dadelik moed en spring op om ook iets te gaan eet: “Vandag word ons gered!” sing hulle terwyl hulle die res van hulle vrag oorboord gooi om die skip nóg ligter te maak.
“Daar’s land!” skree 'n matroos. Almal storm op die dek.
“Waar is ons?” wil iemand weet.
“Ek het nie 'n idee nie! Ek het nog nooit daardie plek gesien nie.”
“Kyk, daar is 'n baai en 'n strand! Ons is gered!”
“Kap af die ankertoue,” bulder die kaptein. “Hys die voorseil!”
In dolle vaart storm hulle op die eiland af terwyl die matrose op die dek ronddans van pure uitgelatenheid. Maar hulle blydskap is van korte duur, want skielik kom die skip met 'n sieklike skudding en 'n gekraak van planke tot stilstand, terwyl matrose soos vrot velle teen die dek geslinger word. Dadelik besef die kaptein dat hulle 'n sandbank getref het. Nou is hulle in gróót moeilikheid! Sy gesig hang as hy toekyk hoedat reuse branders die skip stukkie-vir-stukkie van agter opbreek en uiteindelik die hele agterstewe van die skip verpletter.
Dan begin die besef tot die soldate deurdring dat hier 'n ander soort moeilikheid is. Die gevangenes wat hulle aan boord het gaan ontsnap, en almal weet mos wat gebeur met 'n soldaat wie se gevangenes ontsnap: hy word tereggestel! “Kom ons maak hulle dood voordat hulle wegkom!” En hulle voeg sommer die daad by die woord en storm dreigend op die verskrikte gevangenes af.
Nét betyds stop die offisier hulle. Paulus is mos óók 'n gevangene, en hy kan nie toelaat dat hulle hom skade aandoen nie. “Ek sal dit op my neem as hulle ontsnap,” beveel hy sy soldate, “laat hulle gaan! Almal wat kan swem, spring in en swem vir julle lewens!”
“Ek kan nie swem nie,” kerm een van die matrose, “wat gaan van my word?”
“Kry vir jou iets wat kan dryf, en klou vir jou lewe!”
En so kom elke siel aan boord veilig op die strandjie aan op die eiland Malta. God het voorsien dat hulle almal ongedeerd uitspoel, presies soos wat Hy vir Paulus in sy droom voorspel het. Ons God is almagtig. Alles het totaal onmoontlik gelyk, tóg het Hy ingegryp en almal gered. Moenie toelaat dat 'n onmoontlike situasie jou onderkry nie!
Gebed:
Weereens moet ek maar net in aanbidding neerval voor 'n almagtige God. Dankie Here, dat ook ék in U hande is!