Handelinge 25:1-12
“'n Nuwe besem vee skoon” – só lui die gesegde. Porkius Festus is die nuwe besem in Sesarea, en die Jode vestig ál hulle hoop daarop dat Festus skoon sal vee. Skaars drie dae na sy aankoms in Sesarea as splinternuwe goewerneur, vertrek hy na die kookpot van die provinsie, Jerusalem om dinge vinnig daar te gaan regruk.
Skaars is hy in die stad, of die Joodse leiers takel hom oor Paulus. Hulle gooi hom toe met beskuldigings teen Paulus. Hulle smeek vir Festus: “Asseblief, stuur tog daardie belhamel vir ons hier in Jerusalem, doen vir ons daardie een enkele ou gunsie!”
Maar hierdie is weereens eintlik net 'n slinkse set van die kerkleiers. Hulle stel gladnie daarin belang om vir Paulus te verhoor nie, hulle beplan alweer om hom in 'n hinderlaag voor te lê om hom dood te maak.
Hierdie “besem” weier egter om na hulle pype te dans: “Paulus word in Sesarea aangehou. Stuur julle maar julle mees bekwame manne saam met my wanneer ek teruggaan, dan kan ons hom daar verhoor.”
'n Week of wat later is Festus terug na Sesarea, vergesel van 'n groep Jode. Met sy aankoms gaan sit hy by die regbank en roep vir Paulus in. Die Jode kom staan 'n kring om Paulus en hulle slinger allerhande aanklagte teen hom. Festus sit die spulletjie en bekyk, en hy kan nie kop of stert uitmaak wat die manne nou eintlik wil probeer bewys nie. “Wat sê jy op al hierdie aanklagte?” vra hy vir Paulus.
Paulus haal sy skouers op: “Ek het niks verkeerd gedoen nie, nie teen die Joodse wet óf die tempel of selfs die keiser nie.”
Festus is nou eintlik in 'n baie moeilike posisie: hy besef maar ál te goed dat Paulus onskuldig is. Hierdie Jode kon met géén konkrete bewyse vorendag kom nie. Maar hy sou wát wou gee om in hulle goeie boekies te kom. Dit kan nogal baie vir sy status beteken!
“Sou jy bereid wees om na Jerusalem te gaan vir 'n verhoor daar?” wil Festus weet. Hy weet dat as hy vir Paulus daarheen stuur, dan het hy sommer dadelik die Jode se vertroue gewen. Maar Paulus besef ook dat as hy na Jerusalem gaan, teken hy sy eie doodsvonnis. Dit moet hy ten alle koste vermy.
Paulus wys egter vir Festus op sy regte: “Ek staan tereg voor die keiserlike regbank. Hier moet ek verhoor word! U weet baie goed dat ek die Jode niks aangedoen het nie. As ek skuldig is, dan is ek bereid om te sterf daarvoor, maar ek is onskuldig.”
En dan neem Paulus 'n baie moeilike besluit. Hy besef maar ál te goed dat hy nou hier vrygelaat kan word as die goewerneur reg sou handel. Maar Festus is bitter onvoorspelbaar, en as hy nou sou besluit om vir Paulus na Jerusalem te stuur, is dit klaarpraat! Dan is sy droom oor Rome óók daarmee heen! Hy kan egter sy burgerlike reg uitoefen en hom beroep op 'n verhoor deur die keiser. Dit sal egter beteken dat hy beslis in aanhouding sal moet bly totdat die verhoor afgehandel is, en dit kan nog jare duur!
“Ek beroep my op die keiser!” sê Paulus nadat hy die saak goed oorweeg het.
Die goewerneur se gesig val! Daar vlieg al sy goeie aspirasies om vriende te maak met die Jode, by die venster uit. Die Jode wil hulle klere skeur, want hulle besef dat dit nou neusie verby is om hulle aardsvyand in die hande te kry. Festus weet nie mooi wat om te doen nie, en hy roep sy raadgewers nader: “Wat moet ek doen?”
Hulle haal die skouers op: “Ons het nie 'n keuse nie! Hy is 'n Romeinse burger, en as hy hom op die keiser beroep, mag ons dit nie teëstaan nie!”
“Jy het jou op die keiser beroep; na die keiser toe sál jy gaan!” Festus is moedeloos; die Jode is woedend; Paulus besef skielik die volle implikasies van sy besluit, dit beteken dat hulle hom na Rome gaan stuur!
“Rome, hier kom ek!” juig dit in hom.
Hóé lank droom Paulus nie al daarvan om in Rome te kom nie. Maar die geleentheid het hom nog net nooit voorgedoen dat hy daarheen kon gaan nie. En nou, vanuit hierdie totaal onverwagse oord doem die geleentheid skielik op! En hy hoef nie eers reisgeld te betaal om daar te kom nie, die Romeinse regering stuur hom gratis na Rome! “Dankie Here, dankie, dankie, dankie!” jubel Paulus wanneer hy weer in sy sel kom.
Skielik begin die besef tot Paulus deurdring dat daardie Jode wat hom so genadeloos vervolg het, indirek die hoof oorsaak is dat hy nou sy droom kan uitleef! En hy word nie op hierdie “uitreikaksie,” gestuur deur medegelowiges nie, maar deur afgodsaanbiddende heidene! Hoe wonderlik is die Here ons God nie! Hy gebruik Paulus se vyande en heidene om Sy wonderlike doel te bereik!
Kan ons dan nog vir één oomblik twyfel dat God almagtig is? Kan ons nog énigsins dink dat God nie in vólle beheer is nie? Kom ons vertrou Hom met ons héle wese!
Gebed:
Here, vanoggend moet ek net in aanbidding voor U neerval en U almag erken en U loof omdat U steeds in volle beheer is!