Laaste Skof na Jerusalem

23 June, 2026

Handelinge 21:1-16

Uiteindelik vertrek Paulus en sy geselskap op die laaste been van hulle reis. Van Melite af vaar hulle al om die kuslyn van Asië, verby Siprus tot by Tirus in Fenisië, waar die skip sy vrag aflaai en daar vir sewe dae oorstaan.

Natuurlik benut Paulus hierdie sewe dae deeglik deur die gelowiges daar te gaan opsoek. Hulle bly die volle sewe dae by die gelowiges. In daardie tyd pleit die mense by Paulus om nie na Jerusalem te gaan nie. Hulle sê dat die Heilige Gees hulle gelei het om so te sê. Nogtans verontagsaam Paulus hulle pleidooie en hy sit sy reis voort ná hierdie besoek. Die hele gemeente, mans, vrouens en kinders is saam met Paulus-hulle na die hawe om hulle af te sien. Op die strand kniel hulle en bid saam, en dan neem hulle van mekaar afskeid.

Dit is interessant om te weet dat kinders in die antieke tyd nie normaalweg aan Godsdienstige aktiwiteite deelgeneem het nie. Maar hier sien ons dat kinders 'n belangrike en integrale deel was van die vroeë kerk. En só moet dit natúúrlik vandag steeds wees. Ons mag hulle nie uitsluit nie!

Ek het al verskeie kere gehoor dat iemand sê dat die Heilige Gees vir hom sus en só gesê het. Ons moet baie versigtig wees wanneer ons sê dat die Gees ons gelei het om sekere dinge te sê of te doen of standpunt oor iets in te neem. Ons moet doodseker maak of dit nie dalk maar net onsself is wat voor die tyd al besluit het wat ons wil doen nie, en dan ná die tyd die Heilige Gees se Naam gerieflikheidshalwe gebruik of eerder misbruik om gesag te gee aan ons besluite!

Ons moet baie versigtig en veral baie nederig wees wanneer ons oor die leiding van die Heilige Gees praat. Natúúrlik lei die Gees ons in ons daaglikse lewe, maar Hy doen dit op Sy eie manier, en ons moet inval by Sy leiding. Pasop dat jy nie dalk probeer om die Heilige Gees te dwing om by jou eie wil in te val nie!

Paulus-hulle sit hulle reis voort en doen by die Fenisiese hawestad Ptolemaïs aan waar hulle die gelowiges vlugtig besoek voordat hulle verder vaar tot by Sesarea. Daar klim hulle af en gaan vir 'n paar dae tuis by Filippus. Lukas vertel vir ons dat hierdie man se vier dogters die gawe gehad het om die Boodskap te verkondig. Dit is 'n baie belangrike opmerking, want dit wil vir ons sê dat vroue reeds in die vroeë kerk 'n onderwysende rol gehad het en waarskynlik dalk selfs gepreek het in die gemeente!

Maar dan gebeur 'n ontstellende ding: Daar daag 'n profeet op uit Judea, 'n man met die naam Agabus. Hy stap na Paulus en begin Paulus se gordel uitryg. Dan neem hy die gordel en bind sy eie hande en voete daarmee vas. Terwyl die manne vraend na hom staar, kyk Agabus op: “So sê die Heilige Gees, ‘Op hierdie manier sal die Jode in Jerusalem die man aan wie hierdie gordel behoort, vasbind en in die hande van nie-Jode oorgee.

Lukas en die ander by hom het groot geskrik. Hulle smeek Paulus met trane in hulle oë om asseblief uit Jerusalem weg te bly. Maar hy het klaar besluit: “Wat probeer julle bereik deur te huil en my hart te breek?” wil hy weet. En dan maak hy dit duidelik dat hy bereid is om ter wille van die Naam van Jesus tronk toe te gaan of selfs te sterf!

Die manne probeer dié kant toe en dáái kant toe redeneer, maar Paulus hou voet by stuk. Vir géén oomblik twyfel hy dat hy na Jerusalem toe moet gaan nie. Dan het hulle uiteindelik géén ander keuse nie as om te sê: “Laat die wil van die Here geskied.

Ons onthou ook dat Jesus se dissipels Hom ook probeer keer het, want hulle het geweet wat daar op Jesus wag, maar Hy het nie vir 'n oomblik gewyfel nie, want Hy het geweet dat Hy daardie pad móés loop.

Uiteindelik is al hulle voorbereidings vir Jerusalem afgehandel, en dan vertrek hulle na die groot stad. Dit is 'n lang reis, ongeveer 100 kilometer. Nogtans besluit verskeie van die gelowiges van Sesarea om saam met hulle die langpad aan te durf. Hulle gaan nie maar net saam as geselskap nie, maar omdat die reis 'n paar dae sou duur, en hulle langs die pad moes oornag, gaan hulle saam om die manne voor te stel aan Mnason, 'n gelowige vir baie jare al. Hy gee dan vir hulle broodnodige huisvesting. Op hierdie manier word vreemdelinge eensklaps vriende!

Lukas se hart klop in sy keel wanneer hulle die stad op die berg sien. Wat wag daar op hulle? Wat wag daar op Paulus? Gaan dit dalk die einde van die pad vir hom wees?

Ons raak dikwels angsbevange wanneer dinge vorentoe donker lyk, en ons nie weet wat om te verwag nie. Waarom kan ons nie maar Paulus se voorbeeld volg en vol vertroue op die Here aangaan nie? Alles het daarop gedui dat Paulus dalk hier sou sneuwel, nogtans skroom hy nie om aan te gaan nie.

En later loop dit so amper-amper op 'n tragedie uit, maar die Here is getrou en Hy bring steeds vir Paulus op sy regte bestemming, Rome. Maar nou loop ek die verhaal vooruit!

Gebed:

Here, help my asseblief om my oog altyd op U gevestig te hou en op U te vertrou, al lyk dinge vir my sleg!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026