Rut 1:5-19
Droefheid het deel geword van Naomi se lewe. Met groot droefheid moes sy haar vaderland, Juda verruil vir die heidense Moab. Toe sterf die anker in die lewe, haar man Elimelek, en kort daarna haar seun, Maglon. Daar was oorlog, en omdat Kiljon nie ‘n Moabiet was nie, moes hy in die voorste linie veg. Hy is noodlottig gewond. En vir die tweede keer in ‘n baie kort tydjie huil Naomi en haar liewe skoondogters hartverskeurend op mekaar se skouers.
Met ’n skok besef Naomi dat sy nou ‘n reuse krisis op hande het. Hier is skielik drie weduwees saam in een huis – ‘n gróót ramp! Skielik is daar géén vooruitsig van enige inkomste of oorlewing nie. Boonop het haar man, Elimelek, nou geen nageslag nie, en sy is ‘n vreemdeling in ‘n heidense land. Die twee meisies kan dalk weer trou, maar sy…..?
Maar gelukkig is dit nie waar die verhaal van Rut eindig nie, dit is eintlik waar die regte verhaal eers begin. As Naomi se krisis ook jou krisis is, kan jy gerus maar verder lees, want soos wat die verhaal ontvou, sien ons dat Naomi se krisis verander word in ‘n geleentheid wat baie, báie verder reik as net die enkele hoofkarakter in die verhaal. Waar God betrokke is in jou lewe, kan ‘n situasie wat vir jou na ‘n ramp lyk, dikwels ‘n geleentheid word vir God om iets totaal nuut in jou lewe te begin. Daarvan kan ek persoonlik getuig!
Net wanneer dinge op hulle héél ergste is, kom daar vir Naomi ‘n stukkie goeie nuus, dat die Here ‘n uitkoms gegee het in haar vaderland, Juda. Dit het goed gereën en daar was ‘n goeie oes. Dit laat weer ‘n sprankie hoop in haar opvlam. Dadelik besluit sy om terug te keer na haar geboorteland.
Maar één ding het Naomi nie in gedagte gehou nie, haar twee skoondogters, Rut en Orpa. Hulle was saam met haar in hierdie ellende gedompel, en hulle was albei nog steeds lojaal aan hulle skoonma. Naomi besef egter dat albei nog bloedjong meisies is. Al is hulle weduwees, is hulle nog in die fleur van hulle lewens en albei beeldskoon en uiters hubaar. Hulle moet maar agterbly, hulle sal wél albei baie vinnig opgeraap word.
Maar só eenvoudig is dit nie, want albei besluit om saam te trek! Naomi besef maar ál te goed dat haar twee skoondogters lojaal is aan haar, en dat hulle haar graag wil versorg. Maar sy kan dit nie aan hulle doen, om hulle saam met haar te sleep na ‘n vreemde land met ‘n baie vreemde kultuur en ‘n vreemde God nie. Sy probeer met allerhande soorte argumente om Rut en Orpa van hulle plan te laat afsien om saam met haar te trek, maar hoe harder sy probeer, hoe droewiger huil hulle. Dis naderhand ‘n tranedal soos hulle kerm: “Ma, ons wil saamgaan na Ma se volk toe!”
Dan speel Naomi haar troefkaart. Sy begin om haarself aan hulle te beskryf as ‘n ongeluksvoël, as iemand wat maar altyd aan die kortste end trek. “Die Here het teen my gedraai.....” verklaar sy.
En dan maak Orpa uiteindelik ‘n logiese keuse: sy sal omdraai. As Moabitiese meisie sou sy nooit aanvaar word deur die Israeliete nie. Dit is ‘n groot tranedal as hulle groet, en dan draai Orpa (haar naam beteken “weerstrewige”) vir goed haar rug op Naomi en die moontlikheid om dalk deel te kon word van die Volk van God. Sy gaan terug na haar mense ….. en haar gode!
Maar Rut (haar naam beteken “vriendin”) hou voet by stuk: “Waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God.”
Mooi woorde! Maar hierdie is nie maar hol beloftes nie. Rut bedoel elke woord wat sy sê. Sy besef baie deeglik wat die moontlike gevolge kan wees, dat sy verwerping in die gesig staar van die dikwels genadelose Israeliete wat nie buitelanders kan verdra nie en haar beslis gaan uitsluit uit hulle hegte vriendekring. Sy besef baie duidelik dat daar vir haar baie groot swaarkry voorlê. En boonop besef sy dat sy haar godsdiens waarmee sy grootgeword het, sal moet prysgee en ‘n totale nuwe Godsdiens, wat vir haar baie vreemd is, aanneem.
Sy verklaar haarself bereid tot al hierdie dinge, en om te bewys hoe ernstig sy daaroor voel, sweer sy ‘n eed.
En so begin die merkwaardige verhaal van Rut. Haar verklaring: “Waar u gaan, sal ek gaan…..” eggo deur die eeue as sekerlik die bekendste uitspraak óóit deur enige vrou!
Beskou jy jouself dalk as ‘n “niemand”? Soos Rut? Wees verseker dat jy baie, baie belangrik is vir God. Hy het jou met ‘n baie spesiale doel op aarde geplaas, en Hy wil elkeen van ons graag gebruik. Maar net soos die geval van Rut, moet jy bereid wees om jouself tot Sy beskikking te stel!
Gebed:
Here, ek is bereid om te gaan waar U my stuur. Ek is bereid om te doen wat U wil. Gebruik my asseblief, Here!