Opstanding, ‘n Werklikheid?

12 October, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Opstanding, ‘n Werklikheid?

Markus 12:18-27

VIDEO * OUDIO

Die groepie Sadduseërs kom na Jesus toe aangestap, en Petrus sien sommer dat hier alweer splinternuwe moeilikheid is. “Wat sou hiérdie manne wou hê?” wonder Petrus. “Hulle stel mos nie juis só belang in Godsdienstige sake nie?”

Moenie die Sadduseërs met die Fariseërs verwar nie! Anders as die Fariseërs, was hulle baie wêreldsgesind, eintlik eerder kultuurmense wat die Griekse beskawing baie hoog geag het. En dít was iets wat ‘n Fariseër beslis nooit óóit sou doen nie! Sadduseërs was meestal welgestelde lede van die samelewing, en dikwels baie invloedryk. Om daardie rede het hulle gewoonlik hoë posisies beklee, soos om op die Joodse Raad sitting te hê, dikwels nogal langs hulle aardsvyande, die Fariseërs!

Ten spyte van al hulle streke, was die Sadduseërs tóg in ‘n sekere sin godsdienstig. Hulle het egter nou nie juis veel erg gehad aan die bestudering van die Skrifte nie. Om die waarheid te sê, het hulle slegs die vyf Boeke van Moses as Woord van God aanvaar! Die Profete en ander geskrifte was vir hulle gladnie belangrik nie. Hulle het dit gladnie eers as deel van die Woord beskou nie! En dan is daar die kwessie van engele, geeste en die opstanding: hierdie sake het hulle totaal verwerp. Engele en alles buite die tasbare aardse lewe, het net eenvoudig nie vir hulle bestaan nie. As jy die dag gesterf het, was dit die finale einde. Daar was nie lewe na die dood nie, uit en gedaan! Juis omdat hulle só geglo het, was daar by hulle ‘n soort fatalisme. Jy was vry om te doen wat jy wou, solank jy net God aanbid het!

Petrus onthou nog hoe die Sadduseërs se hare regop gestaan het die dag toe Jesus vir Lasarus uit die dood opgewek het. Die Sadduseërs moes sekerlik die gevaarligte sien flikker het, en toe besluit hulle saam met hulle aardsvyande dat Jesus moes dood. Hy het immers hulle hele argument omver gegooi!

Dit laat Petrus se hare regop staan as hy besef dat hierdie mense juis dikwels poste beklee in die kerk. Baie van hulle is priesters! Die grootste deel van die Sanhedrin is juis saamgestel uit Sadduseërs. Selfs Kajafas, die Hoëpriester en sy voorganger, Annas is albei Sadduseërs, beslis twee baie invloedryke manne! Terloops, Kajafas is mos Annas se skoonseun. Hy moet sékerlik maar doen wat Skoonpa sê, al is hy die hoëpriester!

Dit is vir Petrus aan die een kant skrikwekkend, maar terselfdertyd tóg ook interessant om te sien dat, alhoewel dit die Fariseërs is wat so giftig teen Jesus is, en dan nog die feit dat hulle nooit met die Sadduseërs kan saamwerk nie, hulle tóg uiteindelik saamspan teen Jesus. Petrus wonder heimlik watter een van hierdie twee groepe die hoof aanvoerder gaan wees om sy Meester tereg te stel. Maar hy voel iewers hier binne séker dat dit eintlik die Sadduseërs gaan wees!

Petrus word teruggeruk na die werklikheid. Hierdie groepie Sadduseërs kom met ‘n absurde situasie na Jesus, net om te wys dat die hele gedagte van die opstanding uit die dood belaglik is. Hulle argument is gegrond op die sogenaamde leviraatshuwelik wat beskryf word in Deuteronomium 25. Volgens hierdie wet van Moses is dit ‘n man se plig, as sy broer kinderloos sou sterf, om met sy broer se vrou te trou en kinders te verwek namens sy broer. Hierdie Sadduseërs beskryf ‘n belaglike situasie waar ‘n vrou al deur sewe broers was, en dat almal dood is, en steeds is sy kinderloos. By die opstanding - wie se vrou sou sy dan nou eintlik wees?

Jesus se antwoord gryp totaal die wind uit hulle seile. In die eerste plek kan God die onmoontlike doen. Dit is binne Sy mag om mense uit die dood te kan laat opstaan. Maar hulle moet duidelik verstaan dat die hemelse lewe nie maar net ‘n voortsetting is van die aardse lewe nie. Dit is iets totaal anders, ‘n totale nuwe vorm van lewe. Geen mens kan hom dus nou al voorstel presies hoe dit gaan lyk nie. Dit is vir ons ‘n reuse verrassing!

Maar dan sê Jesus vir hulle verder dat hulle gladnie die Bybel ken nie, want as hulle die Skrif, dis nou die gedeelte wat hulle wél aanvaar, sou lees, dan sou hulle besef dat God die God van lewendes is en nie van dooies nie, en dat daar in Eksodus 3:6 staan dat Hy die God van Abraham en Isak en Jakob is, drie mense wat reeds gesterf het, en wat nou LEWE in die hemel.

Paasnaweek herdenk ons nie alleen die dood van Jesus nie, maar ook Sy opstanding. En as ons hiermee saam ook lees wat Paulus in Kolossense 3:1-4 skryf, dat ons saam met Jesus uit die dood opgewek is, en dat ons saam met Hom Sy heerlikheid sal deel by Sy wederkoms, dan kan ons nie anders nie as om te jubel en juig in die opstanding uit die dood! Ja, daar bestaan by my géén twyfel dat daar wél ‘n opstanding is nie! En wat meer is: as ek lees wat die Here my belowe op talle plekke in die Bybel, dan is ek baie seker dat ek deel gaan hê in hierdie opstanding. Hy sê dat almal wat in Jesus glo die ewige lewe het - nie eers eendag nie, maar vandag alreeds! En ek glo, dus het ek daardie ewige lewe. En jy? Is jy seker daarvan?

Gebed:

Here, dankie dat ek vanoggend net weereens die versekering gekry het dat U vir my die ewige lewe gegee het, en dat ek eendag ook weer gaan opstaan uit die dood!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026