Handelinge 17:1-9
Wanneer Paulus en sy geselskap uit Filippi vertrek, moet Lukas hulle verlaat en teruggaan na sy tuisdorp. Dit sal egter beslis nie die laaste keer wees wat hy saam met Paulus sendingwerk doen nie!
Paulus, Silas en Timoteus se volgende bestemming is Tessalonika. Hulle reis neem hulle deur Amfipolis en Apollonië.
In Tessalonika aangekom, mors hulle nie tyd nie, maar hulle gaan reguit na die sinagoge en begin daar met die Jode redeneer oor die Messias. Vir drie Sabbatte na mekaar is hulle elke keer in die sinagoge, en Paulus verduidelik vir hulle uit die Skrif van Jesus. Hy wys vir hulle hoedat die profete alles haarfyn voorspel het, en dat Jesus volgens die Skrif móés ly en sterf. En Hy moes ook uit die dood opstaan, soos Hy inderdaad gedoen het! “Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig,” sê Paulus vir die Jode, “Hý is die Christus vir Wie almal so lank gewag het!”
Paulus en Silas se prediking is baie suksesvol. Inderdaad oortuig hulle 'n klompie van die Jode. Maar die gróót sukses kom onder die “Godvresende” Grieke, nie-Jode wat hulle tot die Joodse Godsdiens bekeer het. 'n Groot aantal van hulle word gelowig en sluit hulle aan by Paulus en Silas. Daar is ook 'n groot klomp vooraanstaande vroue wat diep geraak word deur die manne se prediking en volgelinge word van hierdie nuwe geloof.
Paulus, Silas en die jong Timoteus is in die wolke! Is dit nie absoluut wónderlik hoedat die Here hierdie mense se harte aangeraak het nie?! Met 'n lied in die hart stap die drie daardie aand terug na hulle blyplek waar hulle tuisgaan by een van die gelowiges, ‘n man met die naam Jason.
Maar soos gewoonlik is alles nie hééltemal pluis nie. En weereens is dit die Jode wat die klippie in die skoen is. 'n Klompie van hulle is bymekaar, en hierdie manne is gládnie gelukkig nie. Een van die ou ringkoppe val sommer met die deur in die huis: “Hierdie Paulus-kêrel het nou net álles kom staan en deurmekaarkrap!”
“Ja, en kyk net hoe tou ál daardie Grieke agter hulle aan! En ons het júís so hard gewerk om hulle te bekeer! As ons nie baie gou iets doen nie, loop ons sinagoge hééltemal leeg!”
“Maar wat gaan ons doen? Kyk, daardie Paulus het dalk 'n punt beet! Hy is baie oortuigend, en alles wat hy sê, haal hy uit die Skrif uit. As dit nie was dat my tradisies so vasgestaan het nie, het ek hom dalk nog geglo ook!”
“Ja jy’s reg, daai man is só glad met die bek, dat ons hom nooit as te nimmer gaan vastrek as ons die Skrif as grondslag gebruik nie. Ons sal iets anders moet doen om hom te uitoorlê.”
Een kêrel kry 'n slinkse glimlag op sy gesig: “Ek weet presíés hoe ons hulle hier gaan wegkry. Ons reël 'n opstand!”
“Nee, nou verstaan ek nie, hoe kry ons dit nogal reg?”
“Eenvoudig: ons koop bloot daardie spul leeglêers om, die skuim wat elke dag by die stadspoorte sit en niksdoen. Ons sê hulle aan om in opstand te kom teen hierdie vreemdelinge wat ons mooi stad kom staan en in beroering bring met hulle mooi praatjies.”
Die volgende oggend is daar 'n verskriklike rumoer voor Jason se huis. Die woedende skare eis van Jason om sy gaste aan hulle te oorhandig, want hulle is moeilikheidmakers. Jason trek sy skouers op: “Hulle is al vroegoggend hier uit.”
“Dan vat ons jóú in sy plek!” skree hulle, en hulle gryp hom en sleep hom voor die stadsbestuur. Op pad kollekteer hulle nóg 'n paar gelowiges wat ook hardhandig saamgesleep word.
Voor die munisipale amptenaar skree hulle: “Hier is mense wat besig is om die hele wêreld in beroering te bring, en Jason gee vir hulle huisvesting! Daardie manne doen alles wat in stryd is met die keiser se wette, hulle wil beweer dat 'n sekere Jesus eintlik die koning is, en nie die keiser nie!”
Die manne van die stadsbestuur is bitterlik ontsteld. Maar wanneer Jason en sy medebeskuldigdes die nodige waarborge gee dat Paulus-hulle nie die openbare rus verder sal versteur nie, word hulle vrygelaat.
Daardie nag, onder dekking van die donker word Paulus en sy geselskap uit die stad gesmokkel om hulle reis voort te sit na die stad Berea.
Die beskuldigings teen Paulus-hulle het 'n baie sterk politieke kleur gehad. Hulle en hulle medegelowiges word voorgehou as 'n rewolusionêre groep wat die bewind wil oorneem.
As Christene mag ons nooit vyandig wees teenoor ons regering nie! Ons moet gesag aanvaar. Dit is slegs wanneer die regering optree in stryd met God se wil, en dan van gelowiges verwag om dieselfde te doen, dat ons onverskrokke standpunt moet inneem. Ons mag egter nooit gewelddadig wees nie, maar slegs die gesindheid weerspieël van: ons is aan God meer gehoorsaam as mense!
Gebed:
Here, waar ek soms so opstandig raak teenoor die owerhede, veral wanneer ek die korrupsie sien wat aangaan, gee my dan asseblief kalmte in my gemoed!