Genesis 24: 59-67
Wanneer Rebekka die kameel bestyg, dwing daar twee kontrasterende gedagtes deur haar liggaam: Opgewondenheid aan die een kant, oor die groot avontuur wat op haar wag, en natuurlik haar prins wat daar vir haar staan en wag met ope arms. Maar aan die ander kant is daar ‘n mate van vrees wat haar hart omklem oor die onsekerheid oor wat voorlê. Daar is die uitmergelende reis na die land Kanaän, ‘n reis wat twee maande gaan duur en haar deur onherbergsame gebiede gaan neem. En dan ook die gedagte: sê nou maar haar prins is nie die man wat sy verwag nie? Sê nou maar die slaaf het net stories gespin, en dat die man daar anderkant ‘n stokou, lelike man is? Sy pa is immers al 135 jaar oud!
Rondom Rebekka is daar ‘n gewoel en gewerskaf, en sy word teruggeruk na die werklikheid. “Die Here seën jou, Rebekka!” hoor sy haar vriendinne uitroep. Hulle is álmal daar. Die nuus het soos ‘n veldbrand deur Mesopotamië getrek, en dit voel asof die ganse stad rondom haar staan. Rebekka se kop draai. “Ons suster, mag jou nageslag tienduisende word!” sing die meisies. “Mag hulle die stede van hulle vyande verower!” sing die manne wat nog almal hoopvol was dat sy dalk aan een van hulle sou behoort.
Laban staan tevrede eenkant en hy glimlag van oor tot oor: Sy mooi sussie het gesorg dat hy sakke vol geskenke kry. Daardie ver familie van hom gaan hom nog skatryk maak! Hy moet net die regte toutjies trek.......
Rebekka kry haar sit op die woestyn-skip. ‘n Swaar sluier bedek haar gesig sodat net haar twee donker oë wys. Onder die sluier loop die trane, maar gelukkig sien niemand dit nie. Sal sy ooit weer haar ma sien? Sal sy ooit weer die laggende, skertsende mense van Mesopotamië sien? Sy gaan die gode wat hulle aanbid mis! En hulle vrolike feeste. Die slaaf het haar vertel dat daar by Abraham-hulle géén afgode is nie. Hy aanbid ‘n God wat niemand kan sien nie. Hoe doen ‘n mens dit? Sy het al gehoor dat Oupa Nahor en Pa Betuel praat van hierdie God. Maar sy en boetie Laban steur hulle nie juis aan die oumense se praatjies nie.
Onder groot gejuig kom die karavaan in beweging. “Ons suster,” sing die meisies, “mag jou nageslag....”, maar die sang word verswelg deur die skril stemme van die vroue as hulle al dansende om haar “Ululululu” met bibberende tonge. Die klank is oorverdowend. Al wiegende laat sy die skare agter, en weldra verdwyn die stad Mesopotamië agter die horison.
Nou is dit stil, en al wat hoorbaar is, is die ritmiese klank van kameelpote in die sand. “Waarvoor het ek myself ingelaat?” wonder sy. “Sal ek nou ook hierdie onsigbare God van Isak moet aanbid?” Uur na uur wieg die kamele voort deur die moordende woestyn en sy son wat alles verskroei. Maar uiteindelik sak die son, en dit word tyd om uit te span. Daar word ‘n tent opgeslaan vir Rebekka, maar die res slaap sommer so onder die sterre.
As die dag breek, wieg die karavaan al weer voort op sy lang tog na Kanaän, dag in, dag uit. Die dae word weke, lang, vervelige weke van ry en ry en nogmaals ry. “Hierdie Isak beter die moeite werd wees, want ek offer darem baie op vir hom!” stoom Rebekka.
Daardie aand om die kampvuur soek Rebekka Abraham se slaaf se geselskap op. “Vertel my van Isak se God,” por sy hom aan. Sy gesig helder sommer dadelik op. “O, Hy is wonderlik!” Skielik is hy baie spraaksaam. Hy vertel van die beloftes wat God aan Abraham gemaak het, en van die ongelooflike dag toe Isak gebore is. “Sara was al negentig jaar oud! Dit was ‘n baie groot wonderwerk!” babbel hy. Rebekka kan nie help om met verwondering te luister na alles wat hierdie God gedoen het nie. Sy hoor hoe Abraham met slegs ‘n handjievol slawe ‘n hele oorlog gewen het; sy hoor van die afgryslike verwoesting van die Goddelose stad Sodom. Aand na aand sit Rebekka oopmond en luister na die verhale van God - hoe Hy die hemel en aarde geskep het uit niks, van Noag, die groot vloed en die toring van Babel.
Twee maande het dit geduur, en dan uiteindelik vertel die slaaf opgewonde vir Rebekka: “Ons is hier! Ons is tuis! Nog net ‘n paar uur, dan is ons by die huis!”
As die son laag oor die horison hang, sien Rebekka die tente - Isak se tente. ‘n Man kom aangehardloop, en sy kan sien dat hy baie opgewonde is. “Wie is dit daardie?” Maar sy kan alreeds raai. “Dis my eienaar!” Die slaaf is trots.. Rebekka spring rats van die kameel af, en sy trek haar sluier oor haar gesig. “My bruidegom!” Opgewonde jubel dit in haar: “My prins!”
Is ek en jy ook so opgewonde oor Jesus soos Rebekka was oor Isak? Is ons ook so gretig om te leer oor die Here as wat Rebekka was? Dalk vertel die Bybel dit nie in soveel woorde nie, maar ek is séker dat Rebekka álles wou weet oor Isak en God. Om waarlik die Here te kan lief hê, moet jy so veel oor Hom leer as wat menslik moontlik is. Ek wil jou vandag uitdaag om leergierig oor Hom te word.
Gebed:
Here, dankie vir hierdie wonderlike liefdesverhaal. Dit wil my ook iets leer van U groot liefde vir my, en hoe ek U moet liefhê. Ek wil meer en meer van U leer, Here!