Lukas 18:31-19:10
Petrus loop vanoggend met 'n lied in die hart. Dit is nou al byna drie jaar sedert hy besluit het om Jesus se dissipel te word en al was daar baie swaar tye, was alles deur en deur die moeite werd! Hy wonder watter opwindende dinge die Meester vandag gaan doen. Hy het nou al feitlik elke wonderwerk onder die son aanskou. “Petrus,” hoor hy die Meester roep, “kry die manne bymekaar, ons gaan vandag na Jerusalem vertrek.”
Petrus voel hoe sy hart in sy skoene sink. Die laaste keer wat hulle in Jerusalem was het die Fariseërs hulle letterlik weggejaag. Wat wil die Meester dan nou weer in Jerusalem loop doen?
“Alles wat die profete oor My geskryf het, gaan nou vervul word. Dis waarom ons nou Jerusalem toe moet gaan,” vertel Jesus vir die manne as hulle bymekaar is. “Hulle gaan My spot, beledig, gésel, op My spoeg en My doodmaak,” verduidelik Jesus, “maar op die derde dag sal Ek opstaan uit die dood.”
Skielik is Petrus se lied net skoonveld weg. 'n Paar uur later vertrek hulle in die rigting van Jerigo. “Dankie tóg!” sug Petrus, “hierdie keer reis ons darem nie weer deur die vervloekte Samaria nie!”
Twee dae se uitmergelende stap later kom die manne in Jerigo aan, die laagste stad op aarde. Hulle aankoms het hulle vooruitgeloop en teen die tyd dat hulle die stad binnekom, loop daar alreeds 'n groot skare nuuskierige mense saam met hulle.
Langs die pad sit 'n blinde bedelaar, waar hy al vir jare elke dag sit. Hy hoor die gedreun van stemme en dan vra hy die verbygangers wat aan die gang is. “Jesus van Nasaret kom hier verby,” vertel iemand hom.
Hy het al baie gehoor van hierdie Profeet en hy bewe eintlik van opgewondenheid: “Uiteindelik!” prewel hy. “Dankie Here God!” En dan begin hy skree so hard hy kan om bo die geraas gehoor te word: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U oor my!”
“Bly stil, ons kan nie vir Jesus hoor nie!” probeer hulle hom stil kry, maar hy skree net al harder en harder.
Petrus vererg hom sommer vir die lastige kêrel. “Jerusalem wag, die Meester het nie nou tyd vir blindes nie!”
“Bring hom na My toe,” hoor Petrus die Meester sê. En wanneer die blinde voor Hom staan, vra Hy: “Wat moet Ek vir jou doen?”
“Dat ek kan sien.....” snik die man. Dit was al die jare sy groot droom om te kon sien, maar dis tog so gans onmoontlik! Dit bly maar net 'n mooi droom......
Asof in 'n waas hoor hy Jesus se stem: “Goed, jy kan sien! Jou geloof het jou gered.”
Petrus kry 'n knop in die keel as hy die man sien rondspring en dans en jubel, al agter Jesus aan. En hy bly vir almal vertel wat so pas met hom gebeur het: “Ek kan sien! Ek kan sien!” babbel hy oor en oor.
“Nou sal ons sukkel om van hom ontslae te raak!” brom Petrus in sy welige baard.
In die stad aangekom, bars Petrus skielik uit van die lag. Wanneer hulle onder 'n groot Wildevyeboom deurstap, merk hy daar hoog in die takke 'n potsierlike mannetjie wat klou om lewe en dood. Petrus gaan staan en lag dat die trane loop. Die Meester reageer egter totaal anders op hierdie snaakse gesig: “Saggeus, klim dadelik af.” beveel Jesus, “Vanaand wil Ek by jou tuisgaan.”
Skielik is Petrus se lag in die kiem gesmoor wanneer die klein mannetjie amper uit die boom val. Tot sy ontsteltenis sien Petrus dat hierdie man dan 'n tollenaar is! Moet hy dan wéér hierdie vernedering deurmaak deur by 'n sondaar te gaan oorslaap?
Saggeus is baie opgewonde wanneer hy voor Jesus kom staan: “Here,” babbel hy, “ek gaan die helfte van my goed vir armes gee, en vir diegene wat ek afgepers het gaan ek hulle geld vierdubbel terug gee!”
Petrus snork sy misnoeë uit, maar Jesus sê vir die manne rondom Hom: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom. Hierdie man is nés julle ook 'n kind van Abraham. Ek het immers gekom om te red wat verlore is.”
Petrus voel baie skuldig as hulle na Saggeus se huis toe stap. Hulle word gul ontvang en bederf tot in die afgrond in. En skielik voel Petrus nie meer so antagonisties teenoor die tollenaar nie.
In vandag se verhaal sien ons drie desperate manne: 'n blinde, desperaat om te kan sien; 'n sondaar, desperaat om redding te kry en 'n Petrus wat desperaat Jesus nét vir homself wil hê. In die blinde kan ons dikwels onsself sien, want ons is blind vir die dinge wat die Here vir ons wil sê. In die Sondaar kan ons ook onsself sien, want hóé hard ons ookal probeer, kan ons net nie lewe soos God wil hê nie. Nogtans is Hy genadig en Hy vergewe keer op keer. En in Petrus kan ons óók onsself sien, want ons klou krampagtig aan ons redding en ons is te suinig om dit met ander mense te deel.
Gebed:
Here, vergewe my dat ek so dikwels blind en sondig en suinig is met die Evangelie. Help my en gee my die vrymoedigheid om dit vryelik met ander te deel!