Markus 6:7-13
Vroeg een oggend roep Jesus die twaalf manne bymekaar: “Die tyd het aangebreek dat julle nou die dinge wat Ek julle geleer het prakties gaan toepas.”
Die manne is opgewonde, maar terselfdertyd ook bang. “Ons het dan nog skaars begin met opleiding,” wil hulle nog protesteer, maar Jesus dink anders daaroor. As jy bloot net leer en nie prakties toepas wat jy leer nie, sal jy nooit die taak behoorlik bemeester nie.
“Julle gaan aan die mense daar buite verkondig dat die Koninkryk van God naby gekom het.”
“Ons gaan visvang!” gaan daar skielik ‘n liggie op vir Petrus. “Daardie dag toe ek en boetie Andreas deur Jesus geroep is, het Hy gesê dat Hy ons vissers van mense gaan maak. En nou het ons tyd aangebreek!”
“Ek gee aan julle manne die mag oor bose geeste,” deel Jesus hulle mee. Die gedagte is amper te groot om te begryp!
“Maar dis mos slegs die Meester wat sulke dinge kan doen!” wonder Thomas. Hy is baie skepties oor hierdie ding. Hoe kan Jesus van hulle verwag om dieselfde as Hy te doen? Maar jy kan sommer sien hoe die bloedjong Johannes se bors swel van trots!
Jesus se verdere instruksies laat hom egter baie gou besef dat hierdie g’n piekniek is nie! Dit is nie ‘n oggend-uitstappie om sommer gou-gou ‘n bietjie te gaan oefen nie. Hulle gaan sommer vir ‘n volle week aaneen in die pad val. “Al wat julle mag saamvat is ‘n kierie,” verduidelik Jesus.
“Maar hoe gaan ons oorleef, Meester? Ons sal tog seker padkos moet vat, en skoon klere?”
“Nee, géén kos, géén geld, géén klere! Niks! Net die klere aan julle lyf en die skoene aan julle voete!”
Nou verstaan die manne gladnie. Hier word hulle vir ‘n volle week die wildernis ingestuur, en hulle mag nie eers voorsorg tref nie? Maar hoe dan gemaak? Jesus verduidelik dat waar hulle iewers in ‘n dorp kom, iemand hulle wél daar huisvesting sal aanbied. Daar sal vir hulle gesorg word. Hulle moet net vertrou. Die eerste doel van hierdie oefening was dus dat die manne sal leer hoe om waarlik op God te vertrou vir alles. Hulle moes besef dat hulle ten volle afhanklik is van die Here! Sonder geld, kos of blyplek voel jy totaal hulpeloos. Eers dan kan jy begin besef dat jou hulp nie van mense is nie, maar van God wat mense gebruik in Sy Koninkryk.
Die tweede les wat die manne moes leer, was om tevrede te wees met dit wat hulle ontvang. Jesus se opdrag was dat wanneer iemand hulle verblyf aanbied, moes hulle daar bly vir die hele tydperk. Die rede was dat dit is dikwels die armoedige mense was wat gasvry was, en verblyf was dus dikwels karig. As iemand dan vir jou ‘n gemakliker plek aanbied, kom jy maklik in die versoeking om eerder vir die gemak te gaan. In sendingwerk gaan dit nie oor gemak nie, maar suiwer die verkondiging van die Woord. Die manne moes leer om hulle eie gemak tweede te stel. Dit is iets wat hulle in hulle latere lewe bitter nodig sou kry, want daar het vir hulle ‘n harde pad voorgelê.
Dan hoor die manne verder dat hulle nie oral waar hulle kom hartlik ontvang sou word nie. Sommige mense sou hulle verwerp. “Skud dan bloot die stof van julle voete af,” sê Jesus. Dis ‘n oordeelsaankondiging vir diegene wat nie die Evangelie wil aanvaar nie, maar hiermee sê Jesus ook dat hulle daarvan moet vergeet en aangaan met hulle taak.
Die boodskap vir ons vandag is baie duidelik. Sending is nie maar net ‘n bysaak vir die kerk nie. Dit is dalk die héél belangrikste rede waarom die kerk bestaan! Die kerk is daar sodat hy na die wêreld uitgestuur kan word.
Verder is dit belangrik dat ons nie die sendingtaak op eie krag of alleen op ons eie kan aanpak nie. Dit moet in die eerste plek in volle afhanklikheid van God gebeur, en natúúrlik met God se volmag. En soos wat Jesus hierdie ’n georganiseerde oefening gemaak het, mag sendingwerk nie maar lukraak gedoen word nie, maar moet dit behoorlik georganiseer word.
Wanneer jy sendingwerk doen, gaan jy baie beslis verwerping kry. Maar moenie dat dit jou onderkry nie. Bly konsentreer op jou taak. En boonop moet jy bereid wees om soms ongemak te verduur. Daar mag by niemand wat sendingwerk doen, enige motiewe wees van selfverryking of selfsug nie. Alles moet gaan oor die Koninkryk van God alleen.
Maar dan moet jy weet, dat as jy jou ten volle in God se hande plaas, en in afhanklikheid van Hom die taak verrig, Hy jou die krag en wysheid sal gee om jou sendingtaak uit te voer soos wat Hy dit graag wil hê. Die twaalf manne het dit ervaar, en jy sal dit ook so ervaar.
Gebed:
Here, my gebed gaan vandag uit vir elkeen wat in die sendingveld is, mense wat baie prysgegee het om te werk in U Koninkryk. Ek bid dat U seën ryklik op elkeen sal rus, en dat hulle die nodige krag en wysheid sal kry vir hulle reuse taak.