Johannes 12:12-19
Die spanning is besig om op te bou tot ‘n geweldige crescendo. Gisteraand het Maria die duur nardusolie oor Jesus se voete uitgegooi en met haar hare afgedroog. Vanoggend is die hoogspanning voelbaar in die oggendluggie, waar Jesus en Sy dissipels uit Betanië vertrek na Jerusalem. Van heinde en verre kom mense aangestroom vir die fees. Die nuus, dat Jesus ook op pad is daarheen, laat dit behóórlik gons. Dit kronkel soos ‘n lewende rivier die laaste entjie af na Jerusalem. Almal is vrolik en opgewonde. So ‘n gebeurtenis kom net eenkeer per jaar. Maar vanjaar is dit anders. Iets baie groot is aan die opbou, maar niemand kan ‘n vinger daarop lê nie.
“Daar is Jesus!” roep een uit, en soos ‘n reuse swerm sprinkane breek ‘n groot groep mense weg, reguit na Jesus toe. Langs die pad pluk hulle palmtakke en kom al takswaaiende en singende op Jesus afgestorm. “Prys Hom!” sing hulle uit volle bors, “Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!”
Die Jode het nog al die jare ‘n baie sterk nasietrots gehad. Palmtakke was die itradisie om hierdie nasionalisme te versterk en uit te basuin. “Die Koning van Israel! Die Koning van Israel!” dreun dit deur die menigte, wat aangroei teen ‘n verbysterende tempo.
Het die einde van die verpestelike Romeinse oorheersing nou uiteindelik aangebreek? Hierdie skare dink beslis so! En ja, daar is die klein handjievol wat bitter bekommerd ook maar deel in die feesvreugde. Wat gaan môre oplewer? Gaan hulle Meester dalk tereggestel word? Besef hierdie jillende skare dit dan nie?
‘n Jong donkie, ‘n eg-koninklike rydier, word nadergebring. Wanneer Jesus opklim, raak die skare histeries. Hulle dreunsang weerklink deur die klowe, en eggo deur die berge rondom Jerusalem.
Maar daar is ook ‘n groepie manne wat gladnie meedoen nie. Rasend van woede, en tegelyk ook bekommernis, staan hulle daar en beraadslaag. “Kyk net wat doen Hy!” sis een Fariseër, rooi van woede. Hy wys ‘n bewende krom vinger na sy kollegas: “Sien julle nou! Julle het net mooi niks uitgerig gekry nie!”
“Hier het ons dit nou: die ganse wêreld tou nou agter Hom aan!” brom ‘n ander beswaarde. “As ons nie nou bitter vinnig optree nie, gaan hierdie ding baie lelik skeefloop. Dink nou maar vir julleself: wat gaan die Romeine doen as hulle sien dat hier ‘n groot opstand aan die uitbroei is? Dan is dit klaarpraat met ons! Dan is al ons harde werk van die afgelope jare tot niet gemaak! Daardie Romeine gaan ons opfrommel!”
“Ja, ons moet onmiddellik van Hom ontslae raak, of ons is in groot moeilikheid!” Die manne is bitter bekommerd.
In Sagaria 9:9 spring en jubel die woorde uit die bladsye van die profesie: “Jubel, Sion! Juig Jerusalem! Jou Koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en Hy is ‘n oorwinnaar, Hy is nederig en ry op ‘n donkie, op die hingsvul van ‘n donkie.”
Het enigeen van die duisende mense wat so al singende agter Jesus aan dans, hierdie woorde onthou? Eers later, toe alles verby was, het hierdie woorde begin sin maak vir die groepie dissipels. Nou wil hulle huil, want hulle sien hoe hulle Meester na Sy dood ry. Tóg ry Hy gedweë die stad binne, soos ‘n Lam ter slagting gelei. Hulle verstaan dit nie. Hoe kan Hy so willens en wetens reguit in die slagyster inry?
“Hosanna!” skreeu die skare dit histeries uit. “Hosanna! Gee nóú verlossing!” Hoe profeties is hulle woorde nie! “Hosanna! Hosanna!” weergalm dit teen die stadsmure wat al nader kom. Dit is presies wat Jesus op pad is om te gaan doen. Hy gaan om verlossing te bewerkstellig! Maar dit is totaal anders as wat hierdie mense verwag. Hierdie Koning ry nie op ‘n vurige perd om oorlog te gaan maak, soos wat hierdie skare wil hê nie. Nee, hierdie Koning ry op ‘n sagmoedige donkie. Hy bring vrede! Die verlossing en vrede wat húlle soek, kan alleen met geweld kom. Ja, die gruwelike geweld wat teen Jesus gebruik is, laat jou sidder. Maar Hy het dit nie met geweld be-antwoord nie. Wanneer hulle Hom op die mees grusame manier behandel, antwoord Hy met liefde: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”
Die gebeure daar voor Jerusalem se trotse stadspoorte, ruk my aan die hart, net soos wat dit sekerlik ook Sy dissipels geruk het. Kon die Vader nie maar net verlossing gegee het nie? Waarom moes Jesus nou juis so verskriklik ly? Dalk kon Hy, maar dan was dit goedkoop en afgewater. Ons verlossing het verskriklik duur gekom. God se genade is nie goedkoop nie, en juis dáárom vra dit van jou en my om ons dankbaarheid met passie uit te leef. Jesus was bereid om die volle pad te stap. Hy was bereid om doelbewus in die put vol adders in te klim om ons te red. Die skrikwekkende is dat Hy presies geweet het waarvoor Hy Hom inlaat.
Gebed:
Here, dit ruk in my, en ek kry diep seer as ek dink aan U groot offer vir my. Ek wil U dien met alles wat in my is, omdat ek so dankbaar is vir wat U vir my, sondaar, gedoen het.