Handelinge 17:19-34
"Wat moet ek doen, Here? Hoe kan ek hierdie mense oortuig van die Evangelie?" Paulus is radeloos, want vir hom wil dit voorkom asof hierdie mense van Atene net hééldag lank wil redeneer, en dat hulle nie eers belangstel om die ander kant se saak uit te luister nie. Hulle is só verstrengel in hulle eie kultuur en boonop nog die talle gode ook, dat hulle menslik-gesproke onbereikbaar is. "Here, ek weet werklik nie watter kant toe nie!" bid hy radeloos.
Maar die volgende dag kom die antwoord uit 'n totaal onverwagse rigting. Een van die filosowe met wie hy die vorige dag 'n vrugtelose redenasie gehad het, kom haal hom by sy blyplek. "Paulus, ek het gesien dat jy 'n uitstekende redenaar is! Ek dink die mense sou graag jou redenasies wou hoor. Ek wil jou uitnooi om saam met my na die Areopagus te kom. Dis nou die plek waar al die filosowe bymekaarkom, en daar kan jy ons meer kom vertel van hierdie nuwe leer wat jy verkondig."
"Dankie Here," prewel Paulus, "waarom was ek tog so kleingelowig? Ek moes mos weet dat U op die regte tyd sou voorsien! Vergewe my asseblief Here!"
Die man neem vir Paulus oor die markplein in die rigting van die manjifieke Akropolis. "Dit is darem só jammer dat só 'n asemrowende gebou 'n afgodstempel moet wees!" sug Paulus terwyl die magtige gebou op die berg voor hom opdoem.
Maar dan verrys daar 'n reuse wit rots voor hulle op. Hy wil nog wonder oor die rots, maar dan is dit asof die man sy gedagtes lees: "Die beroemde Areopagus! Hier kan jy jou sê sê." lag die kêrel. "En boonop is dit ook die bymekaarkomplek van die beroemde raad van ons stad wanneer hulle belangrike sake moet bespreek en gewigtige besluite moet neem."
Hulle bestyg die rots. Bo is dit plat, en oral sit of staan groepies mense rond en niksdoen. Paulus is baie beïndruk. Maar hy het nie baie tyd om hom te verwonder oor alles nie, want baie gou word hy aangepor om sy betoog te lewer. Die mense wil mos hoor wat hy te sê het. "Here, gee my asseblief hope wysheid!" pleit hy terwyl hy in die middel van die rots gaan staan.
Hy laat sy oë gly oor die manjifieke stad Atene wat hier uitgestrek aan sy voete lê. Hy ril as hy weer die talle afgodsbeelde en tempels voor hom sien, en hy kan maar net nie die Akropolis uit sy gedagtes kry nie! En skielik weet hy presies wat hy moet sê!
"Ateners, ek merk op dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is!" Hy sien sommer dadelik dat die mense baie hou van wat hy sê. Hy móét net eenvoudig hulle vertroue wen!
"Terwyl ek so deur julle mooi stad geloop het, het ek die talle plekke gesien waar julle aanbid. Daar is 'n menigte tempels en baie gode. En dan is daar natuurlik hierdie argitektoniese wonder wat hier agter my op die berg staan, die Akropolis."
Almal stem heelhartig saam met Paulus. Hierdie man se toespraak maak darem mos nou vir jou sin!
"Ek het iets baie interessant in julle stad raakgeloop wat ek nog nêrens op al my reise teëgekom het nie: 'n altaar wat opgedra is aan 'n onbekende god."
Almal knik instemmend: hierdie man weet beslis waarvan hy praat!
"Wel, ek het vandag vir julle baie goeie nuus, want ek ken hierdie onbekende God, en dit is juis van Hóm wat ek vir julle wil vertel."
Nou is almal die ene ore, want hulle het al baie gewonder oor hierdie onbekende God. Dan begin Paulus verduidelik dat Hy die Here van hemel en aarde is, die Een wat alles gemaak het. In 'n lang, ingewikkelde relaas vertel hy vir hulle van Jesus, en dat Hy gesterf het en weer uit die dood opgestaan het.
Hierdie was egter één te veel vir hierdie mense. Dat iemand uit die dood kon opstaan? Dis tog mos gans onmoontlik! Hulle lag hom uit oor hierdie sinnelose opmerking. "Ons sal jou weer later hieroor wil hoor!" spot hulle hom terwyl hulle huistoe loop.
En só draai Paulus weereens onverrigtersake om. Maar alles is nie puur verniet nie, want daar is tóg 'n klompie mense wat agter hom aanloop, een van hulle 'n man met die naam Dionisius. Hy beklee 'n baie belangrike posisie in die stad as lid van die beroemde Areopagus raad.
As gelowige wat ernstig is om die Evangelie uit te dra, raak jy dikwels moedeloos wanneer dit lyk asof jou woorde net die hele tyd op dowe ore val. Jy probeer só hard, maar jy sien net eenvoudig nie resultate nie. En dan voel jy dalk dat jy dit maar sal opgee vir 'n slegte saak.
Moenie moed verloor nie! Hou aan! Al lyk dit dalk vir jou asof niks gebeur nie, is die Here tóg aan die werk op ander maniere as wat jy dink. Ja, dikwels word daar vir jou op die mees onverwagte tyd en plek wonderlike deure oopgemaak, wat jou na jou asem laat snak!
Al wat die Here van my en jou vra is om gehoorsaam te wees en om met volle oorgawe te doen wat ons hand vind om te doen. Hy sal voorsien en Hy sal die res doen!
Gebed:
Here, maak my gewillig om met volle oorgawe te doen wat U van my vra, al lyk dit soms vir my hopeloos!