Eksodus 17:8-16
Nomadiese volke is verskriklik jaloers op hulle waterbronne in die woestyn. Dit is kosbaarder as goud, en daarsonder kan ‘n mens nie lewe nie. Die gevolg is dat as iemand anders op jou waterbron toesak en dit vir homself wil toeëien, dan soek hy vir groot moeilikheid. Dan is dit oorlog!
Maar wat nou gemaak as jy in ‘n woestyngebied bly waar die waterbronne bitter skaars is, en skielik kom hier ‘n swerm vreemdelinge aan, en hulle ontdek in jou eie gebied ‘n waterbron wat daar nooit was nie - een wat genoeg water voorsien vir driemiljoen mense? Gaan jy nie dalk ook probeer om dit van hulle af weg te neem nie? Jy was mos éérste hier - dit is jóú woestyn - nie húlle s’n nie!
Die Amalakiete was so ‘n nomadiese volk wat in die omgewing van Refidim rondgeswerf het. Die Bybel sê nie vir ons waaroor hulle met Israel skoorgesoek het nie, maar ons kan maar net raai. Was dit dalk oor hierdie water wat nou skielik uit die dorre rots uitspuit nadat Moses daarteen geslaan het? Dit was genoeg om énige woestynbewoner groen te maak van jaloesie. Wat dalk ook daartoe kon bydra, was dat hulle verspieders gesien het hoe hierdie klomp Israeliete elke dag kos optel. Wat was daar by Rafidim wat hulle nog nie raakgesien het nie? Netnou besluit die klomp dat hulle permanent hier wil kom bly. Nee, dit kan beslis nie! Hulle moet uit die weg geruim word!
Maar die nakomelinge van Amalak het nooit besef waarvoor hulle hulle sou inlaat nie. Die spul “woestynrotte” lyk nou wel baie weerloos, maar onsigbaar saam met hulle is die Almagtige God. En dit het die Amalakiete eers begin besef toe dit totaal te laat was!
Die aand voor die geveg kom die manne van Amalak bymekaar so ‘n ent van Israel se kamp af. “Dit gaan maklik wees!” praat die Generaal sy manne moed in, “Ons gaan sommer dwarsoor hierdie spul hardloop!”
“Jaaaaa!” skree hulle in ‘n koor. Hierdie is beslis nie die eerste oortreders wat hulle uit hulle stukkie woestyn uitgejaag het nie. Hulle is propvol selfvertroue!
In Israel se kamp is Moses in diep gesprek met God. “Here, wat moet ek maak? Ja, ons is baie, maar die mense is moeg van al die trek deur die woestyn.”
Dan antwoord die Here hom: “Moses, hou net jou hande hoog opgehef na My.” Moses kry die opdrag om op ‘n koppie te gaan staan waar almal hom kan sien en sy arms opgehef te hou. Dit is ‘n teken dat hy krag kry van God af, en dat hierdie wonderbare krag herlei word tot die manskappe wat Israel moet verdedig.
Dan roep Moses vir Josua nader. “Hier is nou wáárlik ‘n jong man uit een stuk - sal dit nog ver bring in die lewe!” dink Moses as Josua voor hom kom staan. “Josua, gaan soek vir ons goeie manskappe uit. More veg ons teen ‘n gedugte vyand!”
Dit was nog donker daardie volgende oggend toe Moses vir Aäron en Hur opkommandeer om saam met hom die berg op te stap. Wanneer hulle bo kom, kyk hulle af op die dorre vallei daar onder. Israel se kamp is opgeslaan oor ‘n baie wye gebied. Hulle sien die kindertjies daar rondspeel en die mammas wat besig is om manna op te tel vir die dag. Nie ver daarvandaan nie sien hy hoe die Amalakiete besig is om op te warm vir die geveg. Moses glimlag: “Vandag is die dag dat julle julle rieme gaan styfloop!” dink hy. “Dankie dat U by ons is Here!” kom die dankbare sug uit sy hart.
En dan gee Moses se hart ‘n wilde sprong as hy sien hoe die Amalakiete hulle stormloop begin. Hy steek sy hande hoog in die lug op en dan sien hy hoe die manne van Josua die Amalakiete terugdryf. Dit is ‘n verwoede geveg. ‘n Uur het verbygegaan, twee, drie ure, en steeds woed dit voort daar onder. Maar Moses se tagtig jaar begin teen hom tel en sy arms raak moeg. Hy laat sy arms sak om ‘n bietjie te kan rus. Maar dan, tot sy groot ontsteltenis sien hy hoe die Amalakiete verwoed storm en die oorhand kry. Verskrik hou Moses weer sy arms op en dan is dit weer Josua en sy manne wat die oorhand het. Elke keer as Moses sy arms laat sak, wen die Amalakiete. “Here, wat moet ek maak?” huil Moses by God - hy het net eenvoudig nie meer die krag om sy arms op te hou nie.
En dan kom sy broer tot sy redding. Hulle laat Moses op ‘n groot klip sit en hy en Hur hou die ou man se arms vir hom omhoog. Moses is dankbaar, want daar onder in die vlakte kan hy sien hoe daardie skrander jong Josua sy troepe aanvoer en die Amalakiete in die stof laat byt. Wanneer die son daardie aand sak, is dit ‘n baie moeë Moses wat deur die twee manne die berg afgehelp word - moeg maar tevrede: God het aan hom en sy volk die oorwinning gegee.
Moses moes uitvind dat hy nie alles alleen kon doen nie - hy het hulp nodig gehad. Maar die Here het voorsien dat Hur en Aäron daar was vir hom, om hom by te staan toe sy kragte nie meer wou hou nie. Ons gelowiges is daar om mekaar te ondersteun. As jy sien dat die “Moses” in jou lewe se arms moeg word - moenie hom kritiseer nie - help hom en hou sy arms hoog!
Gebed:
Here, dankie dat U die een is wat oorwinning gee. Maar dan vra ek ook asseblief Here, dat U my oë sal oopmaak om raak te sien wanneer die “Moses” in my lewe moeg raak, en dat U my die wysheid sal gee om te help waar hy dit nodig het!