Oorlog in die Hemelse Ryk

5 September, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Oorlog in die Hemelse Ryk

Daniël 10:18-11:1

VIDEO | LUISTER

Daniël hiperventileer - alles wat hier om hom gebeur is net eenvoudig te groot vir sy verstand om in te neem, en stadig voel hy hoe sy krag uit hom vloei. Dit voel vir hom kompleet asof daar nie genoeg suurstof in die lug is nie. Die engel kom weereens tot sy redding en hy raak aan hom. Dan gebeur die wonderlike: nuwe lewe - nuwe krag stroom sy liggaam binne wanneer die engel hom bemoedig met baie mooi woorde: “Moenie bang wees nie, baie geliefde man! Vrede vir jou. Wees sterk!” En skielik is hy weer die ou Daniël wat nie eers vir ‘n trop leeus bang is nie! Met nuwe moed kan hy luister na die asemrowende boodskap van die engel.

Daniël moet aanhoor dat hierdie engel betrokke was in ‘n titaniese stryd met helse magte wat die Persiese Ryk probeer manipuleer. Hierdie hemelse oorlog was egter nog nie verby nie. Die engel was genoodsaak om sy geveg te onderbreek om met Daniël te kom praat, terwyl die engel Migael vir hom ingestaan het. Hierna moet hy egter teruggaan om weer verder te gaan veg. Wanneer hierdie geveg verby is, lê daar egter nog ‘n reuse stryd voor, want die bose engel wat in Griekeland verwoesting saai, is volgende aan die beurt. Só erg is hierdie stryd dat die hulp van die engel-vors Migael weereens ingeroep moet word. In Darius se tyd was die bordjies egter verhang, toe hierdie engel weer vir Migael te hulp moes snel. Die engel vertel ook vir Daniël dat hy eintlik maar ‘n alleenstryd stry sonder iemand wat hom ondersteun, buiten nou vir Migael. Terloops, volgens Judas 9 en Op. 12:7 is Migael die aanvoerder van die hemelse magte.

Hierdie dinge laat ‘n mens se kop draai - dit klink amper na wetenskapfiksie. G’n wonder dat Daniël so lighoofdig geraak het nie! Hier sit ons rustig en weet van g’n sout of water nie, terwyl daar oorlog heers en verwoede gevegte geveg word in die “ander dimensie”, die wêreld van engele en van die bose.

Die engel lig die sluier so ’n klein bietjie vir Daniël, wanneer hy vir hom vertel van die dinge wat in “die Boek van die Waarheid” opgeteken is - dit is die boek van God se ewige raadsbesluit. God het ‘n verlossingsplan asook ‘n wêreldplan daargestel, alreeds lank voordat die aarde gevorm is. Wat ookal in die geskiedenis gebeur het, en wat vandag op hierdie oomblik gebeur, en wat nog in die toekoms gaan gebeur, staan vas in God se raadsplan. Daarom kan die engel met sekerheid vir Daniël sê wat vir die wêreld voorlê.

In hierdie Skrifgedeelte word die sluier so ‘n effe vir ons gelig, oor wat agter die skerms aangaan in die lugruim om ons. Daar is engele wat oor die Kerk van God op die aarde waak - hulle veg daarvoor! Maar dan is daar ook die bose magte wat probeer om die Kerk van God te verswelg. Hulle is natuurlik die bose engele wat saam met Satan afvallig geword het. Dit is teen húlle wat die engelemagte veg, en die uitwerking van wat daar om ons aangaan, kan ons hier op die aarde duidelik sien.

“Aag, ek weet darem nie so mooi nie”, hoor ek iemand sê oor al hierdie engelemagte en goed, “Is dit werklik, of is dit maar net deel van ou Daniël se drome?” In Gen. 32:1 lees ons hoe Jakob ‘n engele-leërmag teëgekom het by die grens van Kanaän. In 2 Kon. 6 lees ons van die oormag van Arameërs wat op pad was om die Israeliete by Dotan van die gesig van die aarde af te vee. In vers 17 lees ons dan dat die berge rondom Elisa gewemel het van “perde en strydwaens van vuur” - engelemagte wat hulle beskerm het en die ganse Aramese leër verblind het. Die bekendste van engelemagte is natuurlik die een waarvan ons lees in Luk. 2, waar die herders hierdie asemrowende koor in die hemel gesien het wat hulle hemelse musiek laat weergalm het oor Betlehem se velde. In Mat 26:53 vertel Jesus vir Sy dissipels dat daar twaalf legioene engele gereed staan om in te gryp by die kruisiging, as God dit sou wou hê.

Wat is die aandeel van engele en bose magte in vandag se plofbare wêreldpolitiek? Ons kan maar net raai. Was hierdie magte betrokke in die berugte 11 September-gebeure? En wat van die dinge wat nou in Gasa gebeur? Ek dink dat daar ‘n titaniese stryd heers oor Suid-Soedan en dat Putin maar net ‘n marionet is wat deur die duiwel beheer word en dans soos wat die duiwel die toutjies trek, om sy bose plan ten uitvoer te bring om die Oekraïne te laat sneuwel!

Op die aarde kan daar nooit ‘n paradystoestand wees solank die duiwel bly rondloop soos ‘n brullende leeu nie. Die oorlog duur al duisende jare voort, maar die intensiteit daarvan was nog nooit so erg soos juis vandag nie. Die duiwel weet dat sy uurglas besig is om uit te loop - die laaste sandjies verdwyn deur die gaatjie, en daarom veg hy verbete om oorlewing. Die Boek van die Waarheid - God se groot Raadsbesluit staan egter vas, en daarom is ons gelowiges se hoop nie verniet nie. Ons weet dat die groot oorwinning op ons wag, en dan sal ons stryd in glorie eindig. Ons kan met groot verwagting uitsien na daardie heerlike dag wanneer die Seun van God - die Leeu van Juda - in glorie op die wolke verskyn om die finale oorwinning aan te kondig. Eers dan sal die paradys volkome herstel wees!

Gebed:

Here, maak my asseblief sterk en gewillig vir die stryd, en hou my staande teen die aanvalle van die bose!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026