Miga 3:5-8
Destyds, in Miga se tyd was die profete die skakel tussen God en die mense. Daar was nie Bybels wat jy kon lees nie, want die enkele geskrifte wat toe beskikbaar was, was met die hand geskryf op perkament of papirus, met tuisgemaakte ink en gansveer penne. Daar was nog nie eers papier soos ons dit vandag ken nie. Dit was slegs die Skrifgeleerdes en profete wat insae gehad het in die Woord van God, en geskrifte hieroor was uiter beperk. Dit was eers tydens die ballingskap wat meeste van die mondelike oorlewerings op skrif gestel is. Dit was dus die profete se taak om die wil van God aan die mense bekend te maak. Dit was hulle wat die Woord moes verkondig.
Daar was dus twee metodes om met die Woord om te gaan: ‘n Man het Skrifgedeeltes by ‘n rabbi uit sy kop geleer, en dan word dit mondelings aan sy kinders oorgedra. En dan was daar die profete wat die volk moes leer en die Woord oordra. Jy kon dus nie gou in jou Bybel gaan naslaan of iemand die waarheid preek nie.
Ongelukkig was Miga een van die baie min profete wat oorgebly het wat nie korrup geraak het nie. Wanneer Ds. Miga dus die dag by die erediens instap waar die profete besig is om die volk te leer, begin hy vir die profete preek, want wat hy daar hoor laat hom yskoud word. En wat hy vir hulle preek is beslis nie vleiend nie. Hy sê dat hulle preke bepaal word deur die kos wat by hulle mond ingaan. As sodanige profeet gevoer word met kaviaar, garnale en kreef, dan preek hy baie mooi preke, net soos die mense daarvan hou om te hoor. Maar as hy net droë pap kry of dalk moet honger ly, dan maak hy behóórlik oorlog teen sy gemeente.
Dit gaan met ander woorde nie vir hulle primêr om die Woord van God te verkondig ten spyte van alles nie, maar dit gaan om geld. As hulle ‘n ruim vergoeding kry, is hulle bereid om ‘n “preek op aanvraag” te lewer, een waarvan almal hou en wat almal laat goed voel. As die geld nie daar is in oorvloed nie, dan word die gemeente sleggesê. Paulus het jare later met dieselfde probleem gesit in Korinte, waar daar leraars opgetree het wat net vir die geld gepreek het.
En vandag? Dit gebeur nog steeds vandag! Ons hoor dikwels nog van leraars wat skatryk word uit hulle prediking. En dan is dit in die meeste gevalle slegs oor mooi woorde, hulle preek die dinge wat die gemeente graag wil hoor en nie wat die Woord van God sê nie.
Ons het ook al gesien hoe sulke leraars tot ‘n val kom, nie finansieel nie, maar geestelik. Waar daar hofsake teen hulle gevoer is en allerhande lelike dinge gebeur.
Miga sê dan ook dat hierdie soort “preke op aanvraag” tot ‘n einde sal kom. Hierdie profete gaan agterkom dat hulle absoluut niks meer het om te kan sê nie. Daar sal net eenvoudig nie meer openbarings van God na hulle kom nie.
Het jy enige idee hoe “skrywersblok” voel? As jy nog nie iets moes skryf nie, is dit maar net ‘n vae begrip. Vir die ernstige skrywer is dit die grootste nagmerrie in sy lewe. Sy lewe is afhanklik van sy skryfwerk. Skrywersblok is wanneer die dag gaan sit om te skryf, en in sy kop is daar net hierdie groot leë holte waarin daar géén gedagtes is nie. Dit kan soms vir dae en weke en selfs maande aanhou. Hy móét ‘n nuwe storie skryf, maar hy het nie ‘n storie om te skryf nie. Dit dryf hom tot raserny.
En dit is sekerlik hoe hierdie profete in Miga se tyd moes voel, want hulle moes oor iets preek om geld te kan kry, maar God gee hulle absoluut niks om oor te kon preek nie.
Miga, aan die ander kant, het iets wat hulle nie het nie: die Gees van die Here! Die Heilige Gees is in hom en werk deur hom omdat hy bereid is om te doen wat God van hom vra. Dalk kry hy nie die geld wat die ander profete kry nie, en dalk hou die gemeente nie juis daarvan om na hom te luister nie, want hy sê dinge wat hulle nie graag wil hoor nie. Maar een ding is seker: die Here is gedurig in gesprek met Miga, en hy het nooit ‘n tekort aan woorde nie. Dit borrel gedurig in hom want God praat met hom en God wys hom waar Israel se sonde lê.
Miga het ‘n taak op sy skouers, en hy doen dit sonder om te skroom. Hy is nie bang om die volk en selfs die ander profete vreesloos, kaalkop die waarheid te vertel nie. Dankie tog: Miga was darem nie die enigste een nie. Daar was ander profete ook wat nie gehuiwer het om die waarheid te praat nie, soos Amos, Jesaja, Jeremia en Esegiël. Hulle was ook bereid om op te staan vir die waarheid.
Die vraag is of ek en jy bereid is om onvoorwaardelik op te staan vir die waarheid? Is ons bereid om God te verdedig, maak nie saak wat die omstandighede is nie? Of gaan ons ook maar met die stroom saamgaan net om die vrede te bewaar en ons eie situasie gemaklik te maak? Liewers te sê waarvan mense hou?
Gebed:
Here, gee my asseblief die moed en krag om nie stil te bly vir die waarheid nie.