Matteus 26:47-56
Die slottoneel in Getsemane is een gevul met geweld. ‘n Klomp mense daag met swaarde en stokke op en gryp Jesus. Een van Jesus se dissipels kap ‘n slaaf se oor af. Nogtans is die blywende indrukke wat ons kry uit die toneel nie die geweld nie, maar iets héél anders.
Dit is donker (onthou, daar is nie straatligte nie!) en boonop is Jesus nie só bekend in Jerusalem nie. Die grootste deel van Sy bediening was op die platteland, baie ver van Jerusalem af. Slegs enkele male besoek Hy die stad. Daarom spreek Judas met die soldate af dat hy Jesus vir hulle sal uitwys deur Hom met ‘n soen te groet. So sal hulle Jesus kan uitken en so sal hulle dan weet wie om te arresteer.
Dit was daardie tyd gebruiklik dat Rabbi’s mekaar met ‘n vredeskus groet. Hierdie vredeskus van Judas het egter alles behalwe vrede beteken! Hoe laag kan ‘n mens daal! Jesus se reaksie hierop is baie moeilik om reg te vertaal. “Vriend, doen wat jy gekom het om te doen!” lees ons 1983 vertaling. Die 1953 vertaling: “Vriend, waarvoor is jy hier?” Die nuwe vertaling is dalk ‘n beter een: “Vriend, dis waarvoor jy hier is.”
Die bedoeling hiervan is eintlik dat Jesus Judas se verraad sien as deel van God se lydensplan vir Hom. Hy erken God se plan vir Hom, en Hy onderwerp Hom aan God se wil. Ons sien dit dan ook baie duidelik in die gebedsworsteling wat so pas afgespeel het in die tuin.
Die vraag wat ons onwillekeurig vra, is of God nie darem baie onregverdig was teenoor Judas nie? Hy is dan verdoem om God se wil te laat geskied! Die antwoord is: “Nee!” Ek glo dat Judas steeds na sy verraad die geleentheid gehad het om God se vergifnis op te soek. Petrus het vir Jesus verloën, maar hy het berou gehad en is vergewe. Judas het presies dieselfde geleentheid gehad, maar hy het dit nie gebruik nie.
Een van die dissipels (Petrus) pluk sy swaard uit. Hy wil met geweld vir Jesus verdedig. Hy kap woes na die eerste persoon wat in sy pad kom, en die Hoëpriester se slaaf moet dit ontgeld as sy oor in die stof byt. Jesus kalmeer hom - geweld is nie ‘n opsie nie! In Mat. 5:38-42 het Jesus immers vir Sy dissipels geleer oor hoe ‘n mens geweld hanteer, dat jy jou nie daarteen verset nie. Dat jy ook die ander wang moet draai en die tweede myl moet stap. Nou pas Jesus prakties toe wat Hy al dáárdie tyd gepreek het. Hy verduidelik vir hulle dat alle mag tot Sy beskikking is, en dat dit net ‘n enkele woord sou kos om die hemelse leërskare te laat neerdaal en al Sy vyande uit te delg. Hierdie dinge moet egter gebeur soos dit in God se raadsplan geskryf is. Die saak van die Koninkryk kan nie gedien word met geweld nie, want God se Koninkryk wil juis vrede op aarde bring. Dit wil haat in liefde verander. Dit kan beslis nie met weerwraak bewerkstellig word nie. Iémand moet bereid wees om die verskriklike geweldspiraal te breek. Daardie taak lê vierkantig op die skouers van ons as Christen-gelowiges. Soos Jesus, moet ons as Sy volgelinge ook bereid wees om die ander wang te draai sodat die groter saak van die Koninkryk, God se versoening uitgeleef kan word.
Wat Jesus ons hier wil leer is nie maklik nie, inteendeel, dit is bitter moeilik. Vat nou maar jou daaglikse rit kantoor toe: hoeveel keer het jy jouself vanoggend in spitsverkeer bloedig vererg vir iemand wat roekeloos bestuur? Hoeveel lelike woorde en vulgêre vingers het jy rondgeswaai om jou mede-padgebruikers presies te laat verstaan wat jy van hulle dink? ‘n Mens se eerste reaksie is om te doen wat Petrus gedoen het. Jesus se voorbeeld is egter om die situasie kalm te oorweeg, en dan in liefde te handel.
Op daardie stadium was Jesus se dissipels beslis nog nie bereid om hierdie pad van liefde te volg nie. Hulle wil die situasie met geweld oplos. Wanneer hulle sien dat hulle dit nie kan regkry nie, kies hulle die enigste ander opsie: vlug die nag in! Die manne spat uitmekaar en hardloop weg. Hulle los vir Jesus agter om alleen die pad van marteling te stap. Daar moes nog eers baie water in die see loop voordat hulle sal begryp wat Jesus gedoen het, en wat Hy bedoel het. Inderdaad het daar ‘n groot verandering gekom op Pinksterdag. Dan sien ons dieselfde manne wat so aggressief en terselfdertyd papbroekig gereageer het. Nou is hulle bereid om selfs die Joodse Raad onverskrokke aan te vat. Wanneer hulle geslaan word en in die tronk vasgeketting word, sing hulle lofliedere tot eer van God.
Om die liefde uit te leef wat Jesus verkondig, beteken nie dat jy ‘n askuus-dat-ek-leef houding moet inneem nie. Dit beteken eerder om onverskrokke God se liefde uit te leef, maak nie saak wat die koste is nie. Dit kan jy nie doen uit jou eie krag nie, maar alleen uit die onuitputlike krag wat die Heilige Gees ‘n mens gee. En dan alleen as jy hand-aan-hand met Jesus loop.
Gebed:
Here, ek leef in ‘n wêreld vol verskrikking, en daar is so baie dinge wat my na my swaard wil laat gryp. Gee my asseblief daardie liefde in my hart, sodat ek geweld met liefde kan beveg, en gee my ook asseblief die moed om onverskrokke te kan bly staan te midde van dit alles.