Onverskrokke

21 May, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Onverskrokke

Handelinge 2:14-36

Video

Audio

Petrus is een van my gunsteling karakters uit die Bybel. Rof en onbeskof, só het ons hom leer ken as die ongekunstelde visserman wat praat en doen voor hy dink. Hy is so verskriklik menslik, en sy onverskrokke waagmoed word afgewissel met tiepiese menslike gebreke en foute. In baie opsigte kan ek myself vereenselwig met Petrus: om die een oomblik my onwankelbare geloof uit te basuin, en net die volgende oomblik te verval in twyfel. Petrus, die een wat die hele Romeinse leër wou aanvat met sy swaard! Hy het dit so wild rondgeswaai dat hy die hoëpriester se slaaf se oor afgekap het. Hy stuit vir g’n niemand nie! Enkele ure later krimp daardie selfde onverskrokke held ineen van vrees vir ‘n doodgewone diensmeisie, as hy heftig ontken dat hy vir Jesus ken.

Ja, ons het vir Petrus leer ken uit die Evangelies, as die impulsiewe prater wat dikwels dinge gesê het voordat hy gedink het, en agterna sy vuis in sy mond kon druk. Impulsiewe beloftes wat hy nie kon nakom nie, was dikwels op Petrus se spyskaart. Ten spyte van al sy foute was Petrus ‘n gebore leier. Altyd bereid om nie maar net te hiet en gebied nie, maar sélf die voorbeeld te stel. Toe Jesus op die rowwe see aangestap kom, was dit Petrus wat sy lewe gewaag het om ook op die water te loop! Tog so jammer dat sy moed hom daar begewe het toe hy die wilde branders sien!

Maar nou, op Pinksterdag, sien ons ‘n totale ander Petrus. Iets geweldig het met hom gebeur. Aan die een kant is hy steeds dieselfde Petrus wat onverskrokke leiding neem, maar aan die ander kant is daar niks te bespeur van die impulsiewe, rowwe, ongeletterde visserman nie. Vol vertroue staan hy op en begin vir die reuse skare van derduisende mense te verduidelik wat daar so pas plaasgevind het. Van die Petrus wat struikel oor sy woorde en onbesonne dinge kwytraak, is daar skielik nou géén teken nie. Die ou Petrus wat gebewe het voor ‘n diensmeisie is skielik skoonveld! Onverskrokke staan hy daar en met woorde wat behóórlik geweeg en gemeet is spreek hy die mense toe. Hy haal lang gedeeltes aan uit die Septauginta (die Griekse Ou Testament). Hy verduidelik vir hulle uit die boek Joël asook uit Psalm 16.

Petrus wy die hoofdeel van sy toespraak aan die redes vir die uitstorting van die Heilige Gees. Jesus van Nasaret is deur God sélf na Israel gestuur. Daar het Hy groot wonders gedoen. Sodoende het Hy onteenseglik bewys dat Hy die langverwagte Messias is. Dan word Hy egter verwerp deur die Jode, God se eie volk. Hy ly onder hulle aanslae en sterf uiteindelik ‘n grusame dood aan die kruis. Nee, God was nie onkant gevang nie! Sy plan was júis dat Jesus moes kom ly. Maar die aandeel van die Jode aan hierdie lyding kan nie weggewens word nie. Hulle staan skuldig daaraan! Petrus wys vinger na die einste mense wat sy toespraak aanhoor. Hulle is mede-beskuldigdes, want hulle eie volksgenote, broers, familie het saam geskreeu: “Kruisig Hom!”

Teenoor die mense wat Jesus aan die Romeine uitgelewer het, staan die Almagtige God egter. Hy het Jesus uit die greep van die dood kom verlos. Jesus het uit die graf opgestaan! Hy leef! Hulle wat hier bymekaar is, is almal getuies daarvan! Hulle het Jesus persoonlik sélf gesien en met Hom gepraat. Hulle het selfs per geleentheid saam met Hom geëet.

En nou het Jesus die Heilige Gees oor Sy volgelinge uitgestort, net soos wat die Gees ook oor Jesus gekom het met Sy doop. Na Jesus se verhoging is Hy by magte om ook die Heilige Gees oor te dra na al Sy volgelinge.

Wat het Petrus nou skielik so anders gemaak? Wat het gebeur dat Petrus in ‘n baie kort tydperk so ‘n onbegryplike verandering kon ondergaan? Die antwoord is eenvoudig: die Heilige Gees het in Petrus se lewe gekom. Hier sien ons duidelik die verskil wat die gebeure van Pinksterdag in ‘n enkeling se lewe gemaak het.

Die wonder is egter dat die Heilige Gees nie beperk is tot Petrus en die klein groepie gelowiges wat op Pinksterdag bymekaar was nie. Die Heilige Gees is óók vandag deel van élke gelowige se lewe. En nee, niemand hoef te wag vir ‘n “vervulling met die Gees” nie, want die oomblik wanneer jy die stap neem om Jesus die Koning van jou lewe te maak, is die Heilige Gees reeds in jou. Daar is egter ‘n geheim: jy moet plek maak vir Hom in jou lewe. Sien, jou lewe is soos ‘n emmer en die Heilige Gees is soos water wat jou emmer volmaak, oftewel vul. As daar egter ‘n klomp klippe in jou lewensemmer is, is daar nie baie plek vir die Gees nie. Hierdie klippe is die klippe van sonde, van onwilligheid, van afsydigheid teenoor die Here ens. Hoe meer van hierdie sonde-klippe jy uitgooi, hoe meer neem die Heilige Gees oor, en hoe meer raak jy "vervul" met die Heilige Gees, totdat jy ook soos Petrus onverskrokke kan staan vir die saak van Jesus Christus, die opgestane Here.

Hy is reeds in jou, dit hang net van jouself af hoeveel plek jy toelaat vir Hom in jou lewe!

Gebed:

Here, help my asseblief om die sonde in my lewe uit te gooi sodat daar plek kan wees vir U Heilige Gees om my ganse lewe te vul.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026