Matteus 9:27-34
Mens staan verstom as jy sien wat vandag gedoen word om die lewe vir ‘n blinde persoon normaal te maak. Die rekenaar programmering om rekenaars ook vir blindes toeganklik te maak, is verstommend. AI of KI (Kunsmatige intelligensie) het baie deure oopgemaak vir onder meer blindes. DepthNavAI is byvoorbeeld 'n toep wat 'n blinde op sy selfoon kan aflaai. Dit help byvoorbeeld met navigasie, om d.m.v. klank te “sien” wat voor jou is en hoe ver dit is. Dit doen ook gevorderde gesigherkenning, selfs al het die persoon 'n donkerbril op, asook teksherkenning. So kan die persoon met sy ore 'n beeld vorm van wat rondom hom aangaan.
Ek het die grootste bewondering vir blindes wat ‘n absoluut normale lewe lei en ‘n doodgewone dagtaak uitvoer ten spyte van hulle gebrek. Jare gelede het ek bevriend geraak met ‘n blinde kêrel in Welkom, Staffie Pelser, ‘n fisioterapeut. Hy was ook intens betrokke by sy gemeente, veral by die jongmense. Sy vernuf om die Bybel met sy vingers te lees in braille, het my asem weggeslaan.
Ten spyte daarvan dat ‘n blinde leer om met sy gebrek te kan saamleef, is daar tóg dinge waarna hulle dikwels smag, soos om ‘n motor te kan bestuur, om ‘n reënboog te kan sien, om ‘n sonsondergang te kan beleef en die kleurewonder van blommetjies te kan ervaar.
Vir blindes in Bybeltye was dit nie so maklik nie. Hulle het nie dieselfde geleenthede en opleiding gehad as vandag nie, en hulle was totaal afhanklik van die samelewing en hulle familie. Hoe moes baie van hulle nie daarna gesmag het om ‘n volwaardige deel van die samelewing te kon wees en ook ‘n eie huisgesin te kon hê en vir hulle te kon sorg nie!
Hoe moet dit voel om blind te wees vir die grootste deel van jou lewe, en dan skielik, een dag weer helder te kan sien? Watter soort van ervaring moet dit nie wees om skielik alles te kan sien waaroor jy al die jare gewonder het nie! Dink net: dalk weet jy nie eers hoe jou lewensmaat met wie jy al soveel jare getroud is, lyk nie, en skielik sien jy hom of haar van aangesig tot aangesig.
Twee blindes het eendag ’n sprankie hoop gekry in hulle lewe. Hulle het gehoor van die wonderlike dinge wat gebeur deur Jesus. En dan gebeur dit een mooi dag dat hierdie einste Jesus in hulle omgewing is. Sal Hy nie dalk iets vir hulle kan doen nie? “Ontferm U tog oor ons, Seun van Dawid!” skree hulle dus wanhopig wanneer hulle die skare by hulle hoor verbyloop. As Hy hulle tog maar net sal hoor! As Hy tog maar net op hulle pleidooi sal agslaan!
Met ons moderne mediese wetenskap is dit vandag moontlik om in sommige gevalle weer vir ‘n blinde persoon sy sig te kan gee. Waar ‘n katarak tot ‘n paar jaar gelede nog permanente blindheid beteken het, is dit vandag net ‘n klein operasietjie om ‘n nuwe lens in die oog in te plant om jou weer te laat sien. In die Bybelse tyd was daar egter geen genesing vir blindheid nie. Hierdie twee manne het dus die absolute onmoontlike van Jesus gevra. Hoe reageer Hy? Hy wil weet of hulle werklik glo dat hulle gesond kan word. Só groot is hulle begeerte om hierdie een ding in hulle lewens te kry, dat hulle onomwonde antwoord: “Ja Here!”
Ek kan nie eers begin om te begryp hoe dit moet voel om jou hele lewe lank in duister gehul te wees nie. Die asemrowende wonderwerk wat volg, waar hulle skielik helder kan sien, oorheers hulle lewens. Jesus probeer hulle nog stilmaak, maar dit is onmoontlik vir die twee om stil te bly oor daardie wonderlike ding wat met hulle gebeur het. So ver as wat hulle gaan, vertel hulle opgewonde vir almal wat gebeur het.
Die vraag is of geloof altyd ’n voorwaarde is vir genesing? Sommiges sal “Ja” sê, maar ons moet besef dat Jesus nie volgens vaste resepte optree nie. Petrus se skoonma is byvoorbeeld genees sonder dat sy daarvoor gevra het. Die fokus lê nie op die voorgeskrewe prosedure nie, maar die erkenning van Jesus as die ware Seun van God. Hy is die Een wat omgee vir gewone mense soos ek en jy. As ons Jesus met hierdie oortuiging en verwagting nader, sál ons ook Sy barmhartigheid ervaar.
In die volgende perikoop verneem ons van ’n stom man. Die arme kêrel was in die mag van ’n bose gees. Wanneer Jesus hom egter gesond maak, mor die kerkleiers. Volgens hulle gebruik Jesus die mag van die duiwel om bose geeste uit te dryf. Wat ‘n verskriklike ding om te sê! Vandag word dit steeds gedoen, en dikwels word die werk van evangeliste wat onkonvensionele metodes gebruik, afgeskiet deur sommige kerkleiers. Ons moet baie versigtig wees voordat ons sommer oordeel. As iets nie vir jou reg lyk nie, moet jy dit eers deeglik gaan toets aan die Skrif, en daarna moet jy dóódseker maak van jou saak voordat jy dit aan die duiwel toeskryf.
Matteus se verhaal van die blindes herinner ons ook aan ‘n ander soort blindheid: geestelike blindheid! Het jy al genesing daarvan gekry? Indien wel, bly jy stil daaroor? Of maak jy soos die twee wat Jesus genees het, en basuin dit uit aan die hele wêreld? Moenie stilbly nie! Jubel dit uit!
Gebed:
Here, ek wil dit uitjubel van vreugde - U is die groot geneesheer wat selfs geestelike blindheid genees - wat ook my eie geestelike blindheid genees het!