Kolossense 1:1,2
Wie skryf vandag ooit nog 'n brief? Ek praat nou van 'n regte, egte brief wat met 'n vulpen op papier geskryf word! Ja, ek weet dat die posdiens nou nie juis meer bestaan nie en as jy 'n brief sal pos, twyfel ek of hy óóit sy bestemming sal bereik! Boonop het die elektroniese media alles vir ons so gemaklik gemaak dat ons totaal verleer het om ‘n brief te skryf. Selfs 'n brief wat per e-pos gestuur word het raar geword, want sosiale media soos Whatsapp het veroorsaak dat 'n paar kriptiese woordjies in 'n boodskappie klaar genoeg geword het!
Onthou jy nog die dae van 'n handgeskrewe brief? O, hoe dink ek met groot nostalgie terug aan my weermag dae, toe ek daar iewers in die veld met groot opgewondenheid die stofstreep van die weermag posbode se Jeep dopgehou het. In sy possak was daar ‘n brief aan my geadresseer en my hart het sommer wild aan die bons gegaan as die posman uiteindelik my naam uitroep. Met opgewonde hande het ek dit baie versigtig oopgemaak. Dit was natuurlik van my Mosbolletjie! Ek het die geur wat aan die papier kleef diep in my longe ingetrek en haar skaam, laggende gesiggie voor my gesien, verweef in die geur van die brief. Dan het ek plat op die grond onder 'n boom gaan sit en elke woord ingedrink en dit weer en weer gelees. O watter saligheid! Ek het behóórlik op ‘n wolkie gesweef......
Paulus was ’n man wat die kuns van briefskryf baie goed verstaan en bemeester het. Hy begin sy brief met ‘n aanhef wat so ‘n ietsie van homself sê, net vir ingeval daar dalk iemand is wat nie weet wie hy is nie. Hy stel homself bekend as ‘n apostel, ‘n spesiale gestuurde van Christus. Natuurlik was daar baie mense wat sy apostelskap betwyfel het, want hy was nie een van die twaalf wat vir drie jaar saam met Jesus was nie. Jesus het egter ná Sy hemelvaart een dag persoonlik aan Paulus verskyn op die Damaskuspad. Dit gee hom die gesag van Jesus en natuurlik ook die gesag van God. Paulus word dan ook uiteindelik ‘n ware uitgestuurde wanneer sy gemeente in Antiogië hom na die heidenlande stuur om die Evangelie te verkondig.
Omdat Paulus se oë swak was, het hy sy briewe aan ‘n sekretaris gedikteer wat die skryfwerk vir hom gedoen het. Paulus was egter nie die ware skrywer nie. Inderdaad weet ons vandag dat die Heilige Gees eintlik die ware Outeur van hierdie brief was, net soos ook al die ander boeke in die Bybel. Paulus skryf ook van ‘n medeskrywer, Timoteus. Ons weet nie presies waar hy ingepas het nie. Het hy dalk saam geskryf aan die brief? Of was hy dalk die sekretaris?
Paulus het hierdie brief nie maar net in die algemeen aan ‘n gemeenskap geskryf nie. Dit is ‘n baie persoonlike brief, gerig aan sy eie “bloedfamilie”. Inderdaad is hulle “God se mense”, maar dit gaan veel dieper as net dit, want hulle is ook sy “broers”, sy naaste familie. Ons kan nooit weet wat dit werklik beteken voordat ons nie eers besef hoe 'n geweldige belangrike rol die familieband in die bevolking rondom die Middellandse See gespeel het nie. Die gesin was ‘n hegte, onverbreeklike eenheid. Hulle sou hulle gesinslede met hulle lewe verdedig ten alle koste, al was die persoon selfs ook verkeerd! Wanneer Paulus hulle dus broers noem, beklemtoon hy hoe sterk die band tussen hom en die gelowiges van Kolosse was, alhoewel hy hulle nog nooit tevore eers persoonlik ontmoet het nie. Ten spyte hiervan was daar egter steeds daardie band wat hulle as “familie” saamgebind het. Ons sien dat ook telkens in die brief hierdie soort gesinsterme, soos pa, broers, en erfenis.
In die lig van die belangrikheid van hegte familiebande, is hierdie manier van aanspreek júís veelseggend van die band wat hulle bind as Christene. Ook in die seëngroet noem Paulus God “ons Vader”, wat beteken dat God soos ‘n Pa vir al die broers en susters in Christus sorg. Paulus is dus ‘n kind wat vir sy Pa vra om vir die ander kinders goed te wees. Sal ons Pa dit ooit weier?
Paulus noem dat hulle God se mense is wat in Kolosse bly. Daarmee wil hy sê dat Kolosse wél nou hulle aardse woonplek is, maar terselfdertyd is hulle geestelike woonplek éíntlik in Christus!
God het egter op ‘n wonderlike wyse voorsien dat hierdie persoonlike brief bewaar gebly het en vandag in ons Bybel opgeteken is. Dit is dan ook nét so persoonlik gerig aan my en jou en elkeen wat dit vandag lees. Ja, ons is steeds net so naby familie van Paulus as wat die gelowiges van Kolosse was. Nog meer: ek en jy is net so naby familie van mekaar! Daar is die onverbreekbare familieband van Jesus wat ons vandag aan mekaar bind en mekaar boeties en sussies maak in Jesus, al is daar dikwels groot verskille oor hoe ons lyk en hoe ons dink en reageer. Kom ons wees lief vir mekaar met ‘n ware broederliefde, net soos Paulus dit vir ons voorgeskryf het en soos Jesus dit vir ons as voorbeeld uitgeleef het.
Gebed:
Dankie Here, dat ek ook deel kan wees van daardie geseënde gesin van God. Leer my om waarlik my geestelike broers en susters intens lief te hê.