Matteus 20:1-16
Gestel jy werk vir jare en jare by ‘n maatskappy, en jy het jouself opgewerk na ‘n hoë posisie. Die baas was nog altyd vir jou baie goed, en hy gee jou ‘n ruim salaris. In kort: jy is gelukkig! Op ‘n dag word ‘n skoonmaker aangestel. Al wat sy doen is om vloere te vee, want haar vermoëns is maar bitter beperk. En dan bars die bom: sy kry presies dieselfde salaris as jy, wat al vir donkiesjare die ster van die maatskappy was. Sal jy nie bitter ongelukkig wees oor hierdie verskriklike onreg wat jou aangedoen is nie? Die vraag is: is jy werklik ‘n onreg aangedoen? Was jy nie dolgelukkig met jou salaris totdat jy uitgevind het wat háár beloning is nie?
Die storie wat Jesus vertel laat ‘n mens baie ongemaklik voel. Net gister nog het ons gelees dat die gelowiges wat bereid is om hulle álles vir die Here te gee, ‘n groot loon in die hemel sal ontvang. En nou lyk dit asof die loon in die hemel onregverdig uitgedeel gaan word. Hoe moet ek dit verstaan? Het ek dan nie baie duidelik geleer dat God regverdig is nie? Hierdie verhaal vra nie alleen van ons ‘n totale omkeer van ons denke oor loonpraktyke nie, maar ook oor hoe ons verhouding met God werk. Daar maal gedurig in jou agterkop die gedagte van “beloning volgens verdienste.” Dit ten spyte van die feit dat ons protestantse erfenis vir ons oor en oor leer van die Genade van God. Die vorige gedeelte het afgesluit met die woorde: “Maar baie wat eerste is sal laaste wees, en wat laaste is eerste.” Hierdie gedagte word nou deurgedra, en dit is tiperend van die Koninkryk van die hemel.
Jesus se verhaal gaan oor die eienaar van ‘n wingerd wat op verskillende tye van die dag arbeiders gehuur het om in sy wingerd te werk. Toe die eerstes begin werk was hulle heeltemal tevrede om vir die “gewone dagloon” te werk. Met die wat later begin het, was die ooreenkoms “’n billike betaling”. Die verwagting word by ‘n mens geskep dat elkeen betaal sal word volgens die aantal ure wat hy werk.
Wanneer dit egter by die betaalslag kom, is daar die een ongerymdheid na die ander. Die voorman kry opdrag om by die laastes te begin betaal. Maar die toppunt van onregverdigheid word bereik wanneer die eerstes hulle geld kry, en dit is niks meer as dié van die laastes nie.
Ons simpatie lê beslis by die arme ouens wat heeldag lank geswoeg het! Is hulle klagtes nie dalk volkome regverdig nie? Wat het die eienaar hierop te sê? Sy verweer is dat hy hulle gladnie verkul het nie. Hy het hulle bloot betaal wat hy met hulle ooreengekom het. Tweedens wil hy graag vir almal dieselfde gee, omdat hy goed is, en derdens is dit immers sý geld! Hy kan mos daarmee maak wat hý wil. As hy vir iemand meer wil gee as wat hy verdien het, is dit tog sy reg om dit te doen!
Die eienaar sluit sy verweer af met twee vrae. Daarmee veroordeel hy nie die klaers nie, maar eintlik rig hy hiermee eerder ‘n appél tot hulle om tot ander insigte te kom. Hy wil hulle vra om dinge te begin sien soos hy dit sien. Sy vergoeding is nie volgens kille berekenings nie. Hy vergoed volgens ‘n maatstaf van liefde en barmhartigheid.
Op hierdie punt begin die saak waaroor dit eintlik gaan, deurskemer. Dit is nie om dowe neute dat hier van ‘n wingerd gepraat word nie. God se volk, Israel, is dikwels in die Ou Testament beskryf as God se wingerd. Dit gaan dus in die eerste plek hier om die verhouding tussen God en Sy uitverkore volk, Israel. Deur die eeue het God ál Sy liefde en genade oor hierdie volk uitgestort. Ja, en meer as dikwels het hulle dit nie eers waardeer nie! Dit gaan egter verder ook oor die Joodse leiers (die klaers) wat dit nie kan verwerk nie, dat Jesus juis die verstotenes (die tollenaars en sondaars) asook gewone mense deel maak van God se Koninkryk. En dit nogal terwyl hulle, die Skrifgeleerdes, al die werk moes doen! God se Koninkryk is een van genade, en nie van verdienste waar jy jouself moet in-presteer nie.
In die derde plek sien ons in ‘n later stadium, ná Jesus se hemelvaart, hoedat heidene ook deel word van die Koninkryk. Nou kan hulle óók saam met die Jode aansit by die feesmaal. Vir baie Jode was dit ‘n bitter pil om te sluk want hulle loop immers al die pad saam met God vir die afgelope paar duisend jaar. Nou kom die heidene skielik van nêrens af in en hulle kry presies dieselfde seëninge as hulle!
Vierdens nooi hierdie gelykenis mense van vandag (ook my en jou) uit om na die wêreld rondom ons te kyk met dieselfde goedheid van liefde en barmhartigheid as wat God dit hier doen. Dit is eers wanneer ons die genadekarakter van die Koninkryk van die hemel ons eie maak dat die wêreld begin sin maak. Ons begin eers die karakter van die Koninkryk begryp wanneer ons insien dat die wêreld ten diepste leef van liefde en genade, en nie van kille berekenings nie. As gelowiges wat met die Woord grootgeword het en reeds ‘n lang pad met God gestap het, raak ons dikwels jaloers wanneer iemand tot bekering kom na ‘n roekelose lewe, en dan God se seëninge baie intens ervaar. Wat is hy beter as ek?
Kom ons begin vandag om God se genade te sien uit God se oogpunt.
Gebed:
Here, vergewe my waar ek so baie keer al jaloers was op mense wat volgens my nie U genade verdien het nie.