Onderhoud met Paulus

10 February, 2026
Luister Na Hierdie Dagstukkie Onderhoud met Paulus

1 Korintiërs 9:1-18

VIDEO | LUISTER

‘n Ruk gelede hoor ek hoe iemand gal-afgaan oor ‘n sekere leraar se vergoeding. Dit sou kwansuis ‘n skande wees dat die gemeente hom soveel moet betaal!

Baie mense gaan nog steeds van die standpunt uit dat ‘n gemeente se leraar op ‘n hongerloon moet klaarkom, want hy doen die werk tog immers uit die liefde vir die saak. En boonop werk hy mos net een dag per week! Sommige reken selfs dat hy sonder enige vergoeding die gemeente behoort te dien, en sélf vir sy onderhoud moet sorg, soos wat Paulus immers gedoen het!

Ek het die wonderlike voorreg gehad om ‘n eksklusiewe onderhoud met Paulus te voer, terwyl hy in Rome in huisarres was. Dit het só verloop:

“Oom Paulus, daar is teenstrydige berigte oor jou apostelskap. Vertel ons nou vir eens en altyd of jy een is of nie.”

“Is ek nie ‘n apostel nie? Het ek nie vir Jesus, ons Here gesien nie? Kyk ou seun, daar op die Damaskuspad waar ek Hom ontmoet het, het Hy my persoonlik gestuur! Dus is ek in volle reg ‘n apostel, ‘n uitgestuurde! En die vrug op my arbeid bewys dit!”

“Oom Paulus, die tameletjie-vraag wat ons éintlik wil vra is of ‘n leraar geregtig is op vergoeding?”

“Kyk, nou raak jy ‘n báie teer puntjie aan. Ek voel soms ‘n bietjie seergemaak oor mense wat my so gedurig wil veroordeel as daar iets na my kant toe kom. Maar gaan kyk ‘n bietjie na Petrus en die ander apostels, en selfs ook ons Here Jesus se eie broer, Jakobus. Hulle het nie nodig om honger te ly nie, en boonop word daar nog vir hulle vrouens óók gesorg! As hulle gaan reis, dan gaan die vroumense saam, en die gemeente betaal daarvoor. Dis net ek en die arme Barnabas wat bedags ons hande moet deurwerk met die tentmakery om aan die lewe te bly.”

Paulus beduie met ’n krom vinger na een van die soldate wat daar naby wagstaan: “Daardie soldaat - dink jy hy werk vir niks nie? Dink jy miskien dat hy verniet sy land en die keiser dien? Natuurlik nie! Hy word betáál vir wat hy doen!”

“Ja goed Oom Paulus, maar dis darem ‘n bietjie anders.....”

“Nou goed dan, wat van ‘n boer? Dink jy miskien ‘n druiweboer gaan nie van sy eie druiwe eet nie? Of die veewagtertjies wat beeste oppas - dink jy miskien dat hulle nie soms van die koeie se melk gaan drink nie? Dis hulle reg man! Nét so moet ‘n gemeente ook bereid wees om iets af te staan om sy leraar aan die lewe te hou.”

Paulus kry ‘n glimlaggie op sy gesig: “Het jy al ooit gestaan en kyk waar ‘n boer besig is om graan te dors?” Ek verstaan nie mooi waarop hy afstuur nie. “Waarom dink jy dat die boer nooit, óóit die bees wat hy daar gebruik se bek toebind dat hy nie dalk ‘n deel van sy profyt opvreet nie?

Nou begin ek sélf wonder, want die beeste gaan nie hulle bekke van die koring afhou nie!

“Kom ek vertel jou - dis omdat Moses se wet sê dat hy dit nie mag doen nie! Nou waarom sou Moses dan so ‘n simpel wet maak? Was hy lief vir beeste? Nee, laat ek vir jou verduidelik: dit was God se opdrag aan Moses! Nie omdat God bekommerd was oor beeste nie, maar Hy wou iets baie dieper daarmee sê. Hy wou onder andere sê dat evangeliedienaars soos ek en Barnabas, net soos daardie bees, nie verhoed mag word om ook ‘n deel van die gemeente se opbrengs te kry nie. Nes jy daardie bees se bek nie mag toebind nie, so mag jy my bek – dis nou geestelik gesproke - ook nie toebind nie. Verstaan jy?”

“Ja, ja Oom Paulus, maar nou is daar ‘n ander ding wat nog minder vir my sin maak. Waarom het jy dan nooit geld gevra van die gemeentes nie?”

“Om die eenvoudige rede, dat die Evangelie vir my só geweldig belangrik is, dat ek eerder myself onderhou met tente maak as om een enkele siel te verloor omdat mense dink dat hulle my moet betaal om te preek. Dit was my persoonlike keuse! Ek put in elk geval soveel genot uit die verkondiging, dat ek nie nog geld ook wil hê nie!”

“Oom Paulus, wat sou jou boodskap hieroor wees aan die mense van die jaar 2026?”

“Ek sou sê: sorg mooi vir julle leraars! Hulle is immers kosbaar vir die Koninkryk. Moenie toelaat dat hulle hulle kosbare tyd gebruik om rond te skarrel vir aanvullings om aan die lewe te kan bly nie. Steek maar jou hand diep in jou sak sodat daar genoeg in die gemeente se skatkis is om behóórlik vir jou leraar te sorg! En dan moet daar nog oorgenoeg oorbly om vir die armes te sorg en die werk van die Here óók te kan doen. Dink aan die sendelinge soos ek en Barnabas, en gee maar mildelik na hulle kant toe ook, want hulle werk dikwels vir ‘n hongerloon.”

Die vraag wat Paulus dalk vanoggend vir jou en my wil vra, is nie alleen of ons behoorlik vir ons leraar sorg nie. Dit gaan baie verder: het ek 'n oop hand en beursie vir die werk van die Here? Dit gaan nie daaroor dat ek móét gee nie, maar dat ek wíl gee uit dankbaarheid vir wat die Here vir my gedoen het. Dit is een manier om jou dankbaarheid uit te leef!

Gebed:

Here, ek bely vanoggend dat ek nie genoeg gee vir U werk nie. Vergewe my, en help my om my hand oop te maak!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026