Onafhanklik

25 January, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Onafhanklik

Jakobus 4:13-17

VIDEO OUDIO

Vanoggend wil Jakobus met ons gesels oor onafhanklikheid, of dalk eerder oor my afhanklikheid aan God.

'n Klompie jare gelede het dit finansieel met ons baie goed gegaan. Ons het 'n groot huis gehad en 'n besigheid wat gefloreer het. Van Skoonpa het ons boonop genoeg geërf om vir ons 'n boshuisie in die paradys, in Marloth Park te bou. Hier het ons ál ons vryetyd deurgebring. Dit was heerlik salig om sorgvry te kon leef, sonder om afhanklik van enigiemand anders te wees. Ons kon geld spandeer wanneer ons wou, want daar was oorgenoeg.

Ons kon na hartelus beplan om te gaan vakansie hou wanneer ons wou. Die Bos was natuurlik ons grootste trekpleister, maar dikwels het ons dit afgewissel met die berge of die een of ander luukse tyddeel-oord. Ek was my eie baas, en ek het nie nodig gehad om iemand te smeek om verlof nie!

Maar soos met Job van ouds, het my wiele ook eendag skielik afgekom! Ons besigheid het begin swaar trek. Ons het reuse verbande op ons eiendom geneem om ons tydelik deur die drif te trek, maar dit het net al slegter en slegter gegaan, totdat ons uiteindelik tot oor ons ore in die skuld was. My stresvlakke het ongekende hoogtes bereik. Ek kon sien hoedat ons besig was om ál ons onafhanklikheid te verloor!

Om 'n lang storie kort te maak, het ons uiteindelik alles verloor, selfs ons geliefde huisie in die Bos. En skielik moes ons leer hoe dit voel om ander mense in die oë te moes kyk vir gunstes en gawes. Ons was skielik sonder 'n huis, en die ergste van alles, sonder enige geld om iewers 'n huisie te huur.

Een baie groot les wat ek hieruit moes leer, was om te besef hoe geweldig afhanklik ek eintlik van God was. Toe ons groot huis op 'n vendusie verkoop word vir ‘n appel en ‘n ei, beplan ek en Mosbolletjie om 'n tentjie te gaan opslaan in die karavaan park. Maar hulle wou ons nie daar toelaat nie. God het egter op 'n wonderbaarlike manier gesorg, en uit die bloute skakel iemand my en bied vir ons 'n klein woonstelletjie aan – gratis! Hoe het hy geweet in watter soort verknorsing ons werklik was? Ek het dit dadelik ingesien as 'n wonderwerk, een van vele wat oor die volgende jare sou volg.

Jakobus skryf in vers 13-14: “Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na hierdie of daardie stad gaan, en 'n jaar daar deurbring, en handel dryf en wins maak.” Julle weet nie eers wat môre gaan gebeur nie!

Ons moet baie goed besef, dat al het jy oorgenoeg rykdom, dit in 'n oogwink van jou weggeneem kan word. Daarvan is ek 'n getuie! Ons moet te alle tye ons afhanklikheid van God besef, dit bely en dit uitleef. In vers 15-16 sê hy vir gelowiges wat te seker van hulle eie saak geword het: “Julle moet eerder sê: “As die Here wil en ons nog leef, sal ons dit of dat doen.”

Maar nou spog julle oor julle hoogmoedige optrede. Hy sê dit is verkeerd om so selfversekerd te wees, dis sonde!

n Paar jaar gelede was ek weereens baie deeglik daaraan herinner. My dierbare Mosbolletjie se gesondheid was baie goed. Tot daardie verskriklike Saterdag oggend van 25 Julie 2015! Sy het soos gewoonlik opgestaan en 'n draai in die badkamer gaan maak. Toe sy in die kamer terugkom, gee haar bene onder haar pad en in 'n oogwink is sy totaal verlam. Sy is gediagnoseer met Guillain-Barré Sindroom, en sy land vir ses weke lank in die intensiewe sorg eenheid en altesaam twee en 'n half maande in die hospitaal. Ons lewens is in 'n enkele oomblik totaal omgekeer. Tot vandag toe sukkel sy steeds om oor die nagevolge te kom, en sy kan slegs met moeite deur middel van ‘n loopraam loop.

Weereens moes ons baie deeglik besef hoe afhanklik ons van die Here is, en ook van ons mede-gelowiges wat ons wonderlik deur hierdie moeilike tyd ondersteun en bygestaan het. Die verskeie selgroepe in ons gemeente het byvoorbeeld onder mekaar gereël om vir ons kospakkies te maak, gevriesde geregte wat ek net kon opwarm vir 'n heerlike ete, want vir kosmaak was daar beslis nie tyd nie. Ander het weer tougestaan om vir haar in die hospitaal te kuier. Nie eers gepraat van die menigte boodskappies van ondersteuning wat ons in ons e-pos gekry het van mense wat ons nie eers ken nie!

Hierdie verhaal vertel ek nie om simpatie te soek nie, maar om te illustreer hoe kwesbaar ons as gelowiges werklik is, en hoe geweldig afhanklik ons van God is. Ons moet dit elke oomblik van die dag besef. Jakobus skryf in vers 14: “Julle weet nie eers wat môre gaan gebeur nie. Hoe is julle lewe dan? Dit is maar 'n miswolkie, wat net vir 'n kort rukkie verskyn en dan weer verdwyn.”

Gebed:

Here, vandag besef ek net weereens hoe afhanklik ek werklik van U is. Alles, álles is slegs genade! U is my álles, Here!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026