Matteus 18:6-20
Eers klink dit soos die geruis van die wind deur die bome, maar dis ‘n doodstil dag. Daar is nie eers 'n ou luggie wat trek waar ek op my bosveldhuisie se stoep sit nie. Dan hoor ek die botone: skwiek, tjorrel, knor, mor, borrel, en ek wéét sommer wat op pad is! Bo die vaal gras loer ‘n koddige klein gesiggie uit om te sien of alles veilig is. Hy duik weer grondwaarts, en met ‘n vaart wat Sarel v d Merwe (dis nou Super Van) sou laat bloos, vleg hy tussen die grasse en bossies deur, reguit na ons huis toe. ‘n Entjie agter hom kom die bondel, ‘n lang streep grys gevaartetjies. Hulle beentjies maal presies soos opwensoldaatjies, net baie vinniger. Daar is ‘n opgewondenheid wat in my borrel. Hierdie muishondjies is my gunsteling diertjies, want vir hulle is omgee vir mekaar ‘n lewenswyse. As hulle kom kuier, dan is my dag sommer gemaak!
Ek gooi ‘n paar stukke gemufde brood na hulle kant toe, en die reaksie is oorweldigend! Dit stoei en raas en knor en skarrel, maar uiteindelik het elkeen ‘n stukkie brood, en nou kloek en koer dit vir ‘n vale, want hulle is tevrede. Tevrede? Nie húlle nie! Een outjie ontdek die dammetjie, en gaan lê pens en pootjies binne in die water. ‘n Ander outjie ontdek weer die braairooster, en dit word besnuif en besnuffel. Hy kry ‘n maatjie of drie, en saam lek hulle die sif blinkskoon. Gisteraand se pappot loop natuurlik ook deur. Daar is maklik twintig van die narre, kleintjies en grotes, brawes en banges, stilles en hansworse.
Skielik knor Meneer Voorloper ‘n waarskuwing, en almal gaan staan doodstil en kyk stip na die groot knoppiesdoring, die rigting van waar die gevaar dreig. Die kleintjies word op 'n bondel gedruk en beskerm teen daardie wat-ookal. Dan skud die takke van die ou groot boom. 'n Blouaap loer arrogant deur die blare na onder. Baie duidelik het hy g'n respek vir hierdie spul hansworse nie. Hy skree ‘n belediging (wat ek liewer nie hier sal herhaal nie) na onder, maar só laat die muishondjies hulle nie slegsê nie. Weldra is daar ’n oor en weer gevloekery wat enige ordentlike matroos sal laat bloos. Een baie brawe muishondjie besluit dat die aap en sy trawante vir die brose muishond-gemeenskap ‘n ernstige bedreiging inhou, en dat hulle landuit gejaag moet word. Hy voeg sommer die daad by die woord en hardloop teen die skuins stam van die knoppiesdoring op. Aap se kind is nie geneë met sulke arrogante gedrag nie, en hy klim dreigend van sy troon af daar bo in die blarekroon, om met hierdie japsnoet te kom afreken. Hy is immers baie groter, en hy het baie langer slagtande! Die muishondjie se moed begewe hom, en hy laat spaander teen die stam af met ‘n groot gejuig.
Maar moenie dink dat hy verslaan is nie. Hy kom net versterkings soek. Hy maak baie vinnig ‘n paar maters bymekaar, en voor die aap sy skelm ogies kan uitvee, storm hulle in 'n bondel teen die stam op. Die res van die gepeupel drom nou soos een man saam onder die boom, en por hulle helde luidkeels aan. Blouaap, wat intussen selfvoldaan op sy nuwe troon bly sit het, val byna uit die boom uit van skok, en oorhaastig klouter hy holderstebolder terug na veiligheid.
Tevrede met wat hulle vermag het, klim die muishondjies af, baie waardig en onder ‘n luide toejuiging. Selfvoldaan draai Meneer Aanvoerder om en met 'n tevrede getjor, tjorrol, kloek en skwiek streep hulle weg deur die droë grasse na ‘n nuwe onbekende, rustiger bestemming.
Ons kan beslis leer uit die natuur wat omgee vir mekaar werklik beteken. Kyk maar net byvoorbeeld hoe ‘n trop (wrede?) wildehonde mekaar versorg en omgee vir hulle mede-honde. Dit is veral die kleintjies wat gepamperlang word, nie alleen deur die ma nie, maar deur elke lid van die trop.
In hierdie preek van Jesus noem Hy gedurig die “kleintjies” en hulle kwesbaarheid. Hier word nie gepraat van kinders nie, maar van volwassenes wat klein geword het in hulleself, en weer opreg kinderlik glo. Moenie so ‘n persoon minag nie! Hy het naby aan God se Koninkryk gekom. Maar hy kan baie maklik seerkry, veral as mede-gelowiges hom laat struikel. Jesus laat baie harde woorde val oor mense wat die kleintjies laat struikel.
Die klem val in hierdie gedeelte baie sterk op die omgee vir mekaar. As gelowige moet jy soos daardie herder wees wat baie moeite doen om die skapie wat verdwaal het terug te bring. Iemand wat in sonde verval het, moet nie maar sommer afgeskryf word nie, maar met groot deernis teruggelei word na die kudde. Jesus verduidelik dan ook watter stappe geneem moet word, en selfs wanneer die persoon hom verhard, en hy weier om te breek met sy sonde, dan is dit nie die einde nie. Dan word hy behandel soos 'n "heiden en 'n tollenaar". Is hy dan afgeskryf? Nee, beslis nie! Dan is hy 'n "sending geval." Dit beteken dan dat die Evangelie weer aan hom gebring moet word net soos vir 'n ongelowige. 'n Mens se omgee moet nooit ophou nie, selfs al word jou liefde verwerp.
Gebed:
Here, so dikwels vergeet ek van ware omgee. Leer my om diep uit my hart uit om te gee vir elke mede-gelowige, en veral die kleintjies in U Koninkryk.