Josua 8:30-9:27
Dit was tyd vir ‘n verposing, om eers weer ‘n slag rustig asem te haal.
Hierdie volk het groot dinge ervaar, eers die groot wonderwerk by Jerigo, waar die stad as’t ware in hulle skote geval het. Toe weer hulle groot oorwinning oor Ai. Nou was almal aan die brand om voort te veg en meer en meer in te palm. God is aan hulle kant en die veglus is groot!
Maar dan besluit Josua om hulle eers ‘n slaggie terug aarde toe te bring. Hulle moet rustig raak en weer tot die besef gebring word waaroor dit alles gaan. Daarom neem Josua hulle na die Ebalberg naby Sigem, sowat 50 kilometer noord van Gilgal. Hy wil hulle terugbring na hulle wortels toe sodat hulle kan verstaan dat dit nie alles oor oorlog en suksesvolle veldslae gaan nie. Daar is véél meer in die lewe! Hulle moet tot besinning gebring word en tot die besef gebring word waarop hulle verhouding met die Here gebou is.
Soms gebeur dit ook in ons lewe dat alles voor die wind gaan en jy stoomroller voort na sukses. Moontlik is jou gemeente besig met die een of ander projek en dit kan net nie beter nie. Die fondsinsamelingsprojek vir die ouetehuis oorskry alle verwagtinge. Die kinderhuisprojek vorder beter as wat enigeen óóit verwag het. Dan is dit só maklik om te begin vergeet waaroor dit werklik gaan. Juis dán is dit dikwels nodig om halt te roep en eers te gaan besin oor die grondslag van die projek waarmee julle besig is. Is die Here steeds julle primêre uitgangspunt? Is Hy stééds die belangrikste, of het die projek, hoe edel dit ookal mag wees, belangriker begin raak as God?
By Ebalberg laat bou Josua ‘n altaar vir die Here en daar word aan God geoffer ten aanskoue van die hele volk. Almal was daar, selfs die vreemdelinge uit ander nasies wat hulle by Israel kom aansluit het. Dan bring Josua die wetboek te voorskyn en hy begin vir hulle voorlees oor presies wat die Here van hulle as volk verwag. Om deel te kan wees van die volk van God, verg van jou ‘n bepaalde leefwyse. Die riglyne daarvoor is opgeteken in Sy wetboek. Die volk moet daaraan herinner word anders sal hulle dit vergeet.
Op soortgelyke wyse moet ek en jy vandag gereeld herinner word aan presies wat die Here van ons verwag, want nes Israel van ouds, vergeet ons tog so maklik. Hoe groot is God se genade nie oor my en jou nie, want ons het nie nodig om elke keer eers na Elbaberg toe te trek om te kan hoor wat die Here se wil vir ons is nie. Ons kan maar net die Bybel oopslaan.
Die Israeliete se asemrowende suksesse op die slagveld en veral dit wat by Jerigo gebeur het, het hulle vooruitgeloop. Hulle vroeëre suksesse soos toe hulle die Amoriete platgeloop het, het verder daartoe bygedra. Die nuus het soos ‘n veldbrand versprei oor die hele Kanaängebied. Selfs die groot konings het gebewe as die naam “Israel” voor hulle genoem word!
Dan besluit die konings om saam te staan en ‘n militêre alliansie te vorm teen hierdie nuwe gedugte vyand. Elkeen op sy eie sal teen die Israeliete nie hond-haaraf maak nie, maar as almal saam teen hulle optrek, sal hulle die knoop kan deurhaak.
Die inwoners van Gibeon was egter steeds skepties. Hulle het mos gesien wat gebeur het. Hierdie God van Israel is almagtig en selfs al staan almal saam – wie kan teen só ‘n God bly staan? Dan beraam hulle ‘n slinkse plan. Hulle moet die Israeliete aan hulle kant kry. Maar nou het hulle ook al gerugte gehoor dat die inwoners van Kanaän almal gedoem is. Hulle sal moet voorgee dat hulle nie van hier is nie, anders is dit tiekits met hulle!
En so vermom hulle hulleself as mense wat baie ver gery het. Hulle klere is verslete en selfs hulle padkos is stokoud. Hulle het hierdie ding baie mooi uitgewerk om ‘n antwoord op elke vraag te hê. Hulle ry na Josua toe en pleit by hom om “beskerming”. Hulle wil ‘n verdrag met hom sluit en hulle is selfs bereid om onderdanig te wees aan die Israeliete.
Sonder om eers die Here te raadpleeg oor hierdie klomp bedrieërs, val Josua vir hulle slenter. Die Here wou nie hê dat Israel verdrae sluit met die Kanaänitiese volke nie, want dit sou bydra daartoe dat die volk afvallig van Hom raak. En nou doen Josua presies dit wat die Here nie wil hê nie. Die volksleiers word betrek en hulle belowe om nie hierdie Gibeoniete aan te val nie.
Drie dae later kom hulle agter dat dit alles ‘n bedrogspul was. Hulle besef egter dat hulle rééds hulle woord gegee het, en dan doen hulle dit gestand ten spyte daarvan dat die manne hulle bedrieg het. Josua spreek egter ‘n vloek uit teen hulle, en die Gibeoniete word Israel se slawe.
Wanneer iemand ontrou teenoor gelowiges optree, gee dit God se kinders geen reg om hulle eie woord te verbreek nie, al was hulle bedrieg. Uit eerbied vir die Here het Israel nie die Gibeoniete doodgemaak nie. Hulle het ‘n belofte gemaak. Dieselfde word van my en jou gevra. Ons betaal nie ontrou met ontrou nie. Selfs teenoor súlke mense leef ons steeds liefde uit!
Gebed:
Here, ek is so gou om ander te veroordeel. Lei my asseblief om te alle tye liefde uit te leef!