Matteus 14:22-33
Om mense gesond te kan maak, is darem nog aanvaarbaar. Om water in wyn te laat verander, is asemrowend. Om vir ‘n skare van vyftien duisend kos te gee uit niks, grens aan die absoluut onmoontlike. Maar om op die water te kan loop - dit is slegs die gode beskore! So het die mense van die antieke tyd geglo. As daar darem nou één ding was wat absoluut onmoontlik was vir ‘n mens, dan was dit om op die see te kan rondloop. Dan betree jy die godewêreld!
Met hierdie vertelling wil Matteus egter vir ons baie meer sê as dat dit maar net nog ‘n wonderwerk van Jesus is. Hy wil die ware identiteit van Jesus beklemtoon. Hy is nie maar bloot van die godewêreld nie, Hy is die Almagtige God!
Nadat Jesus en Sy dissipels vir die reuse skare kos gegee het, is dit te verstane dat hulle totaal uitgeput is. Jesus stuur die manne solank met ‘n skuit vooruit na die oorkant van die meer, terwyl Hy nog die laaste mense huistoe stuur. Dan kry Hy uiteindelik ook rus, en klim Hy die berg op om te gaan bid sodat Hy Sy kragte kan herwin. Dit lyk asof Jesus die grootste deel van die nag in gebed deurgebring het. Dit beklemtoon ook net weereens die ontsettende waarde en noodsaaklikheid van gebed vir ons as gelowiges.
Intussen roei en stoei die ander manne met die see. Hulle kry letterlik die wind van voor, en hulle skuit wil maar net nie vorder nie. Dan, in die wasige mistigheid van die vroeë oggendskemering sien hulle daardie figuur oor die see aangeloop kom, reg op hulle af. Hulle skrik hulle skoon in ‘n ander geloof in, want wat hier gebeur is die absolute onmoontlike. Het hulle nou die gode- of geesteswêreld betree? Is dit ‘n spook?
Ek kan my nogal assosiëer met die manne. ‘n Geheimsinnige figuur wat oor die woeste golwe na jou toe aangestap kom, en daar is nêrens waarheen jy eers kan vlug nie! Ek dink dat dit bloedstollend, skrikwekkend vir die arme manne moes wees. Hulle het geskreeu van angs.
Dan kom hulle Meester se gerusstellende woorde: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.” Jesus se woorde: “Dit is Ek” herinner ons aan Moses se ontmoeting met God by die brandende bos. Moses wou weet: “Wie is U?” “EK IS WAT EK IS” stel die Here Homself aan Moses bekend (Eksodus 3). Skielik word ‘n vreesaanjaende situasie ontlont. Wat meer is, Jesus sê hiermee vir hulle dat Hy dieselfde troue Verbondsgod is wat aan Moses verskyn het en wat nie alleen aan Moses en die Israeliete uitkoms gegee het nie, maar wat ook NOU uitkoms in húlle nood kom gee. Hy is Immanuel, God By Ons! Alle mag behoort aan Hom, selfs die totaal onmoontlike soos om op die water te kan loop!
Hierdie twee gedagtes bring onmiddellik vir hulle kalmte.
Skielik skep Petrus moed: hy wil óók op die water loop! Ja, ou Petrus was die een wat altyd dinge gedoen en gesê het op die ingewing van die oomblik, sonder om te dink. Vuriglik impulsief! En kort-kort laat dit hom in die moeilikheid beland. En nou wil hy sowaar die totaal onmoontlike doen, die ding wat alleen die “gode” kan doen, net omdat hy vir Jesus dit sien doen het. As Jesus hom uitnooi om uit die skuit te klim, is dit Petrus se impulsiewe geloof wat hom die mag gee om die eerste treë op die water te gee.
Hy het dit reg gekry! Hy staan op water! Sy maters kan hulle oë nie glo nie, want hier loop hy wat Petrus is, ‘n doodgewone mens op die rowwe see. DIE ROWWE SEE! Daarmee het Petrus nou nie juis rekening gehou nie. Om op water te loop, dié kon hy dalk nog baasraak. Hier kom egter nou die skrikwekkende golwe op hom afgestorm. Skielik sien hy nie meer vir Jesus nie, maar net hierdie verskriklike golwe. En dan sink hy. Die oomblik as hy sy oog van Jesus af wegneem, is alles verlore. Jesus gryp hom aan die hand en help die arme bedremmelde Petrus die skuit in.
“Hou die oë op Jesus” sing ons. Maar dan sink ons wanneer ons Hom uit die oog verloor. Inderdaad sou Petrus ook nog ‘n hele paar keer lelik sink op sy pad vorentoe!
Is daar nie dalk maar ‘n Petrus in ons elkeen se lewe nie? Ons is dikwels geteister deur bangheid, ongeloof en kleingeloof. Soms kom daar selfs oomblikke dat ons oor God twyfel, dat ons totaal die oog van Hom af wegneem. Dan vra ons ook soos Petrus: “As dit werklik U is…….” (vers 28). Maar dan, as ons (soos Petrus) die Woorde van die Here hoor wat ons uitnooi: “Kom!” is ons in staat om bo die twyfel en angs uit te styg en letterlik op water te loop.
Ons moet egter onthou dat dit nie hier oor menslike bravade gaan nie, maar oor ‘n “loop in die geloof”. Jy is maar gedurig bewus van jou eie twyfel. Kort-kort is daar ‘n insinking waaruit Jesus ons moet red. Tog hoor ons elke keer weer die Here se stem: “Kom!” Hy wil hê dat ons dit sal waag op die pad van radikale liefde en gehoorsaamheid om so ons bangheid en kleingeloof te oorkom. Petrus het uiteindelik geseëvier ná Pinksterdag. Toe het hy uitgestyg as ‘n hoekpilaar in die geloof. Ek en jy kan ook. Nes Petrus, het ons ook die Heilige Gees ontvang wat ons al die nodige krag gee.
Gebed:
Here, dankie dat U ook vir my U Heilige Gees gegee het, en dat U daardeur vir my onbeperkte krag gegee het. Here, versterk asseblief elke dag my geloof en vertroue in U.