Matteus 14:22-33
Om mense gesond te kan maak, is dalk nog aanvaarbaar. Om water in wyn te laat verander, is asemrowend. Om vir ‘n skare van vyftien duisend kos te gee uit niks, is die absoluut onmoontlike! Maar om op die water te kan loop - dis iets wat slegs die gode beskore is - altans só het die mense van die antieke tyd geglo. As jy op die see kon rondloop, dan het jy die godewêreld betree!
Maar wag, nou loop ek mos die storie vooruit!
Na die episode om vir derduisende mense 'n middagete te voorsien, is Simon totaal uitgeput! Hy kyk na sy maters en hy sien dat hulle almal se gô uit is. Jesus wink die groepie nader: "Manne, julle lyk moeg! Simon, vat jou skuit en dan roei julle solank oorkant toe. Ek sal die mense wat nog oor is huistoe stuur dan sluit Ek weer later by julle aan."
Wanneer die laaste mense teen skemeraand hulle loop kry klim Jesus teen die berg op om te gaan bid sodat Hy Sy kragte kan herwin. Dit wil voorkom asof Jesus die grootste deel van die nag in gebed deurgebring het. Dit beklemtoon ook net weereens die ontsettende waarde en noodsaaklikheid van gebed vir ons as gelowiges.
Intussen roei en stoei Simon en sy maters met die see. Hulle kry letterlik die wind van voor en dit voel asof hulle maar net nie kan vorder nie. Skielik tref iets vir Simon - hoe gaan hulle Rabbi by die huis kom? Moes hulle nie eerder maar vir Hom gewag het nie? Die nag is al amper verby voordat die wind gaan lê, maar die see bly onstuimig en die golwe groot.
Skielik gee Thomass 'n gil en beduie na iets in die see. Simon volg sy bewende wysvinger - in die wasige mistigheid van die vroeë oggendskemering sien hy daardie spookagtige wit figuur oor die see aangeloop kom, reg op hulle af. Hy en sy maat skrik hulleself skoon in ‘n ander geloof in, want wat hier gebeur is die absolute onmoontlike. Het hulle nou die gode- of geesteswêreld betree? Dit kan maar net ‘n spook wees! Hulle kerm van angs!
Ek kan my nogal assosieer met die manne. ‘n Geheimsinnige figuur wat oor die woeste golwe na jou toe aangestap kom, en daar is nêrens waarheen jy eers kan vlug nie! Ek dink dat dit bloedstollend, skrikwekkend vir die arme manne moes wees.
Dan kom hulle Meester se gerusstellende woorde: “Hou moed, dit is Ek; moenie langer bang wees nie.” Jesus se woorde: “Dit is Ek” herinner ons aan Eksodus 3 - Moses se ontmoeting met God by die brandende bos waar God Homself bekendstel aan Moses as: “EK IS WAT EK IS.” Skielik word ‘n vreesaanjaende situasie ontlont. Jesus sê hiermee eintlik vir hulle dat Hy dieselfde troue Verbondsgod is wat aan Moses verskyn het en aan Moses en die Israeliete uitkoms gegee het en wat ook NOU uitkoms in húlle nood kom gee. Hy is Immanuel, God Met Ons! Alle mag behoort aan Hom, selfs die totaal onmoontlike soos om op die water te kan loop! Hierdie twee gedagtes bring onmiddellik vir hulle kalmte.
Skielik skep Simon moed: "Meester, ek wil óók op die water loop soos U!"
Ja, ons het mos nou al vir Simon leer ken as die een wat altyd dinge gedoen en gesê het op die ingewing van die oomblik, sonder om behoorlik te dink. Vuriglik impulsief! En kort-kort laat dit hom in die moeilikheid beland. En nou wil hy sowaar die totaal onmoontlike doen, die ding wat alleen die “gode” beskore is, nét omdat hy vir Jesus dit sien doen het.
"Kom Simon," nooi Jesus hom vriendelik uit. Getrou aan sy impulsiewe aard, dink hy nie tweekeer nie en spring oor die rand van die skuit. Die manne snak na hulle asems en Simon se oë rek groot as hy sy eerste treë op die water te gee.
"Ek het dit reggekry! Ek staan op water!" Sy maters kan hulle oë nie glo nie, want hier loop hy, Simon, ‘n doodgewone mens op die rowwe see. DIE ROWWE SEE! Daarmee het Simon gládnie rekening gehou nie! Om op water te loop, dié kan dalk nog gaan. Hier kom egter nou skielik skrikwekkende golwe op hom afgestorm. Nou sien hy nie meer vir Jesus nie, maar net hierdie verskriklike golwe!
En Simon sink!
Die oomblik toe hy sy oog van Jesus af wegneem, is alles verlore. Jesus gryp hom aan die hand en help die arme bedremmelde Simon in die skuit in.
“Hou die oë op Jesus” sing ons. Maar dan sink ons wanneer ons Hom uit die oog verloor. Inderdaad sou Simon-Petrus ook nog ‘n hele paar keer lelik sink op sy pad vorentoe!
Is daar nie dalk maar ‘n Simon in ons elkeen se lewe nie? Ons is dikwels geteister deur angs en kleingeloof. Soms selfs twyfel oor God as ons die oog van Hom af wegneem. Dan vra ons ook soos Simon in vers 28 “As dit werklik U is…….” Maar dan nooi Hy ons weer uit: “Kom!” en ons styg bo die twyfel en angs uit om letterlik op water te loop!
Onthou egter, dit gaan nie hier oor menslike bravade nie, maar oor ‘n “loop in die geloof”. Ek is maar gedurig bewus van my eie twyfel en kort-kort moet Jesus my uit 'n insinking red. Tog hoor ons elke keer weer Sy stem: “Kom!” Hy wil hê dat ons dit sal waag op die pad van radikale liefde en gehoorsaamheid om so ons angste en kleingeloof te oorkom. Simon-Petrus het uiteindelik geseëvier ná Pinksterdag en uitgestyg as ‘n hoekpilaar in die geloof. Ek en jy kan ook!
Gebed:
Here, dankie dat U ook vir my U Heilige Gees gegee het, en dat U daardeur vir my onbeperkte krag gegee het. Here, versterk asseblief elke dag my geloof en vertroue in U!