Johannes 6:60-71
Jesus se woorde het Sy volgelinge geskok tot in hulle fondamente.
Dit was heerlik om agter Jesus aan te loop. Die blote gedagte dat Hy dalk die Messias kon wees, het mense opgewonde gemaak. Hy het altyd die mooiste dinge gesê, en Hy was so toegeeflik en liefdevol. En daardie ongelooflike wonderwerke! Blindes het gesien, lammes kon weer loop, dowes kon hoor! Jesus kon elke kwaal onder die son genees, selfs duiwels uitdryf! Natuurlik was die kersie op die koek daardie dag toe Hy vir derduisende mense kos gegee het uit feitlik niks! Hoe het Hy dit reggekry? Hy móés net eenvoudig die Messias wees! Dit was heerlik om agter Jesus aan te loop!
Maar skielik het Jesus omgedraai en vir hulle die allerverskriklikste dinge gesê - goed waarvan hulle net mooi niks gehou het nie. Hy wou hê dat hulle sy liggaam moes eet en sy bloed drink! Dis walglik! Hoe kón Hy?
Een-vir-een het die mense begin omdraai en huistoe gaan. Hulle het genoeg gehoor. Hulle borrel was gebars! Dié Jesus wat hulle wou sien, het nie gematerialiseer nie. Hulle was bitter teleurgestel.
Jesus het hulle weemoedig agternagekyk: “Gee dit julle aanstoot?” Ja, natúúrlik het Hy geweet dat die dinge wat Hy so pas gesê het hulle sou afskrik. “Wat dan as julle die Seun van die Mens sou sien opvaar na waar Hy voorheen was?” Jesus gooi die vraag in die lug, as die stroom verlaters al hoe groter word. Hulle het ‘n aardse Messias verwag, Een wat sou regeer soos Koning Dawid. Hy sou al hulle vyande vermorsel en weer van die volk Israel ‘n groot volk maak. Hierdie Messias moes net aangename dinge doen en mooi dinge sê. En boonop moes Hy vir ewig hier bly! Wat sou dit help as Hy weer vertrek hemel toe? Nee wat, hulle sou maar liewer weer terugkeer na die ou gebaande weë soos wat Moses en die Fariseërs dit uitgestippel het, dit was baie makliker!
Uiteindelik het net ‘n klein handjievol volgelinge oorgebly. Jesus het die twaalf uitgesoekte manne vraend aangekyk: “Julle wil tog seker nie ook weggaan nie?”
Dit is ‘n baie somber prentjie wat hier afgespeel het. Het Jesus totaal Sy doel gemis? Moes Hy dan nie soveel mense as moontlik bereik het in die drie jaar nie? Sê nou maar net daardie duisende wat die wonderbrood gekry het kon almal dissipels word en begin om die Woord uit te basuin - sou dit nie wonderlik gewees het nie? Hulle sou die ganse wêreld vir Jesus kon oorwin in ‘n kort tydjie! Of hoe?
Jesus het egter totaal anders gedink as die mense. Hy het nie reuse getalle nodig gehad nie. Hy het verkies om te werk met klein groepies mense. Uiteindelik sou dit net die twaalf - eintlik elf - wees wat oorbly, asook ‘n paar vroue. Maar hierdie klein groepie sou later só kragtig werk nadat die Heilige Gees oor hulle gekom het, dat hulle die ganse wêreld aan die brand sou steek met die onblusbare vuur van die Evangelie!
Ons staar ons dikwels so blind teen getalle. In die kerk kerm en weëklaag ons dat dit maar weer net dieselfde ou paartjies is wat alles moet doen. Dit is dieselfde ou handjievol wat reageer as daar ‘n oproep is. Ons soek die Mighty Men getalle, en ons raak opgewonde as daar ‘n paar honderd-duisend manne bymekaar kom en mekaar aan die brand steek. Dit is alles mooi en goed, maar steeds is dit die klein groepies waar die groot dinge gebeur.
Inderdaad was dit vir hierdie dosyn manne wat Jesus uitgekies het maar moeilik. Hulle het baie gou agtergekom dat dit nie maklik was om Jesus te wil volg nie. Dit kos harde werk! Kyk maar hoe hulle moes bontstaan om daardie groot skare mense kos te gee! Dikwels was daar bitter teleurstellings, soos die een wat hulle so pas beleef het. Net toe dit gelyk het asof hulle Meester se bediening ‘n hoogtepunt bereik het, loop al Sy volgelinge weg. As hulle geweet het wat presies vorentoe op hulle sou wag, dan wonder ek of hulle nie dalk óók die hasepad sou gekies het nie! Die volgende jaar of twee sou met duwweltjies en distels besaai wees. Hulle Meester sou dinge doen wat volgens hulle tradisies totaal onaanvaarbaar was en die owerhede sou hulle naarstigtelik vervolg. Boonop sou een van hulle groep uitdraai om ‘n verraaier te wees. Hulle sou dikwels honger en moeg moes gaan slaap op die klipharde grond!
Vandag, as jy werklik bereid is om Jesus voluit te volg, is dit steeds nie ‘n maklike pad nie. Jy moet jou maar klaarmaak vir teleurstellings, vervolging en swaarkry. Dit is egter oor en oor die moeite werd! Die arbeidsvreugde wat jy ervaar, is onbeskryflik groot. Die lewensvreugde wat daarmee saamgaan is borrelend. Maar die héél grootste van alles, is die wonderlike eendag waarna jy kan uitsien - die dag wanneer Jesus weer op die wolke gaan verskyn soos wat Hy opgevaar het!
Gebed:
Here, ek wil my álles vir U gee. Ek wil U voluit volg. Gee my asseblief die krag daarvoor.