Filippense 3:7-12
In ‘n grot-skuiling naby Port St Johns, het ‘n baie snaakse karakter, Ben Dekker gewoon. In ‘n artikel ‘n paar jaar gelede in een van die gewilde skinder-tydskrifte, word Ben beskryf as iemand wat die dinge in die lewe, wat vir ander mense baie saak maak, weggegooi het. Vir hom het sulke luukshede totaal waardeloos geword. Hy was op ‘n tyd ‘n baie gewilde akteur in verskeie rolprente, soos in die reeks: “Die Wildtemmer”. Ook nie ’n dom man nie - hy het ’n honneursgraad verwerf in filosofie. Hy het dit alles egter prysgegee vir ‘n lewe van leeglê, rooiwyn drink en op die strand rondflenter, gewoonlik kaal, saam met mooi meisies. Die stadsgeraas het vir hom te veel geword, en toe vlug hy. Met sy wilde bos baard en dikwels net ‘n doekie om die lyf, was Ben die tipiese Hippie van ouds, wat vrede en liefde as die enigste norm van die lewe beskou het.
In ‘n sekere sin het Paulus dieselfde uitkyk, veral wanneer hy sê dat die dinge in die lewe wat eers baie saakgemaak het, nou vir hom waardeloos is. Hy het 'n suksesvolle loopbaan as Fariseër gehad, en hy was 'n fanatiese navolger van die Wet. Ja, nes Ben Dekker het Paulus ook ’n goeie opvoeding gehad. Sy mentor was niemand anders nie as die beroemde Gamaliël. Die groot verskil tussen Paulus en Ben is egter dat leeglê beslis nie plek het in Paulus se lewe nie. “Om Christus Jesus te ken” is wat vir Paulus saakmaak!
So dikwels hoor jy dat iemand vertel van sy opvoeding in ‘n Christelike huis. Ja, ek het sélf ook daardie wonderlike voorreg gehad. Dit is vir jou ‘n baie groot bate, want dit berei jou voor en maak jou ryp en gereed vir die Evangelie. Om as kind te kan opgroei in ‘n pastorie, waar jou pa as predikant al die antwoorde het op jou geestelike vrae, en waar jy as’t ware onder die geklank van die Woord kan opgroei, is ‘n heerlike voorreg. Potensiëel hou dit egter ‘n groot gevaar in, want jy kan so maklik die gedagte begin kry dat hierdie Christelike opvoeding die basis is vir die hoop op die ewige lewe. Dan is jou Godsdiens nie meer gevestig op Jesus as enigste Bron nie, maar op jou opvoeding. Dan is dit nie meer ‘n voordeel nie, maar ‘n groot nadeel.
Die probleem is dat hierdie dinge kan inskuif tussen jou en Jesus Christus en dat dit as’t ware vir Jesus kan verdring. Dit kan maak dat jy nie meer vir Jesus ken as Here van jou lewe nie, en dat daardie lewende, persoonlike verhouding met Hom ontbreek. Dieselfde gevaar bedreig predikante en pastore. Jy moet gedurigdeur waak daarteen dat jou posisie as bedienaar van die Woord jou nie te veel selfvertroue gee nie, en dat jy dalk kan begin vergeet van jou verhouding met Jesus. “Ek het nie nodig om stil te word saam met die Here nie, want ek is mos besig om 'n preek voor te berei vir Sondag. Dit is oorgenoeg stiltetyd!” Rêrag? In kort kom dit daarop neer dat ‘n evangeliebediening net eenvoudig nie kan gebeur as die bedienaar nie ‘n lewende verhouding met Jesus het nie.
As gelowige moet ek dus by die punt kom waar ek ‘n doelbewuste besluit moet maak. Ek moet soos Paulus sê dat ek alles prysgee, my mooi opvoeding, kennis, voorbeeldige lewe, my stoere voorgeslagte, my ywer vir die kerk. Al hierdie dinge moet ek as waardeloos ag “sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees” (Filip 3:8,9). Paulus voeg dan ook hier by: “Ek is vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo” (v 9). Dit is baie belangrik om hierdie gedagte te begryp en altyd te onthou, dat wetsonderhouding NIE vryspraak bring nie, maar slegs geloof in Jesus. Dit is nie my eie prestasies, mooi lewe en goeie hoedanighede nie, maar dat ek Jesus ken.
Dit is interessant om te weet dat die Hebreeuse woord vir “ken” ook gebruik word vir geslagsgemeenskap, en dit word parallel gebruik met “liefde”. Dit wys net op die geweldige intimiteit van ‘n verhouding met Jesus. Hierdie “ken” van Jesus is ook nie maar ‘n passiewe verhouding nie: In vers 12 sê Paulus: “ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het”. In vers 10 sê hy: “Al wat ek wens, is om Christus te ken”.
Ons kan dus nie soos ‘n Ben Dekker agteroor gaan sit en wag vir die volgende kan wyn wat gratis sy kant toe kom nie, maar ons moet die verhouding met Jesus aktief najaag en daarna soek met ‘n smagtende, honger hart. Dit verg van ons baie meer as om maar net kerk toe te gaan en Bybel te lees. Dit vra van ons ‘n aktiewe kommunikasie met die Here en ‘n gedurige soeke na Sy Woord. Dit vra van ons om gedurigdeur te wil weet wat Sy wil is, en om daarna te smag om te lewe soos wat Jesus graag wil hê dat ons moet lewe. Waarom? Suiwer omdat ons deur hierdie verhouding ‘n onblusbare liefde vir Hom opbou. Hy het ons immers eerste onmeetbaar baie liefgehad!
Gebed:
Dankie Here, dankie vir U groot, groot liefde vir my, en vir al die genade wat U op my uitstort. Ek smag na ‘n sinvolle, intieme verhouding met U. Trek my asseblief nader aan U en gee my meer liefde.