Filippense 3:7-12
Wanneer ons aan Fariseërs dink, dan sien ons sommer dadelik 'n klomp slegte ouens wat net moeilikheid beteken! Tóg was hulle allesbehalwe dit! Hulle was eintlik goeie ouens..... Dink 'n bietjie mooi - hierdie manne het die wet nagevolg met 'n passie. Hulle het gedoen presies volgens die voorskrifte van die Bybel. Hier verwys ek natuurlik na die Ou Testament en nie die Bybel soos ons dit vandag ken nie. Hulle het elke gebod streng nagevolg en selfs 'n hele klomp ekstra wette bygebring sodat daar nie per ongeluk 'n wet oortree word nie. Verder het hulle elke moontlike en onmoontlike godsdienstige ritueel wat voorgeskryf was slaafs nagekom. Hulle het gereeld gebid en hulle godsdiens was werklik vir hulle 'n saak van erns!
In kort kan ons dus sê dat hulle goeie mense was!
Paulus was ook aanvanklik een van hulle en hy het dit baie ernstig opgeneem. Tóg sê hy nou hier dat die dinge in die lewe wat eers baie vir hom saakgemaak het, nou vir hom waardeloos is. Hy het 'n suksesvolle loopbaan as Fariseër gehad en hy was 'n fanatiese navolger van die Wet. Hy het boonop ’n goeie opvoeding gehad. Sy mentor was niemand anders nie as die beroemde Gamaliël. Wat het nou skielik gemaak dat Paulus anders gedink het? “Om Christus Jesus te ken” was wat nou vir Paulus saakgemaak het!
Só dikwels hoor jy dat iemand vertel van sy opvoeding in ‘n Christelike huis. Ja, ek het sélf ook daardie wonderlike voorreg gehad. Dit is vir jou ‘n baie groot bate want dit berei jou voor en maak jou ryp en gereed vir die Evangelie. Om as kind te kan opgroei in ‘n pastorie, waar jou pa as predikant al die antwoorde het op jou geestelike vrae en waar jy as’t ware onder die geklank van die Woord kan opgroei, is ‘n wonderlike voorreg. Potensieel hou dit egter ‘n groot gevaar in, want jy kan só maklik die gedagte begin kry dat hierdie Christelike opvoeding die basis is vir die hoop op die ewige lewe. Dan is jou Godsdiens nie meer gevestig op Jesus as enigste Bron nie maar op jou opvoeding. Dan is dit nie meer ‘n voordeel nie, maar ‘n groot nadeel!
Die probleem is dat hierdie dinge kan inskuif tussen jou en Jesus Christus en dat dit as’t ware vir Jesus kan verdring. Dit kan maak dat jy nie meer vir Jesus ken as Here van jou lewe nie en dat daardie lewende, persoonlike verhouding met Hom ontbreek. Dieselfde gevaar bedreig predikante en pastore. Jy moet gedurigdeur waak daarteen dat jou posisie as bedienaar van die Woord jou nie te veel selfvertroue gee nie en dat jy dalk kan begin vergeet van jou verhouding met Jesus. “Ek het nie nodig om stil te word saam met die Here nie want ek is mos besig om 'n preek voor te berei vir Sondag. Dit is oorgenoeg stiltetyd!” Rêrag? In kort kom dit daarop neer dat ‘n evangeliebediening net eenvoudig nie kan gebeur as die bedienaar nie ‘n lewende verhouding met Jesus het nie.
As gelowige moet ek dus by die punt kom waar ek ‘n doelbewuste besluit moet maak. Ek moet soos Paulus sê dat ek alles prysgee, my mooi opvoeding, kennis, voorbeeldige lewe, my stoere voorgeslagte, my ywer vir die kerk. Paulus skryf in Filippense 3:8 dat ek al hierdie dinge as waardeloos moet ag: “Inderdaad reken ek alles as verlies, ter wille van die uitnemendheid daarvan om Christus Jesus, my Here, te ken. Ter wille van Hom, het alles vir my 'n verlies geword, en beskou ek dit as vullis, sodat ek Christus as wins kan verkry!" Dan gaan hy aan in vers 9 en sê dat ek vrygespreek is, nie omdat ek die wet onderhou nie maar omdat ek in Christus glo. Dis baie belangrik om hierdie gedagte te begryp en altyd te onthou, dat wetsonderhouding NIE vryspraak bring nie, maar slegs geloof in Jesus. Dit is nie my eie prestasies, mooi lewe en goeie hoedanighede nie, maar dat ek Jesus ken.
Dit is interessant om te weet dat die Hebreeuse woord vir “ken” ook gebruik word vir geslagsgemeenskap en dit word parallel gebruik met “liefde”. Dit wys net op die geweldige intimiteit van ‘n verhouding met Jesus. Hierdie “ken” van Jesus is ook nie maar ‘n passiewe verhouding nie: In vers 12 sê Paulus: “Nie dat ek dit al verkry het of reeds volmaak is nie, maar ek streef daarna om dit my eie te maak, omdat Christus Jesus my reeds sy eie gemaak het.”. In vers 10 sê hy dat al wat hy wens, is om Christus te ken.
Ons kan dus nie gaan sit en wag dat alles maar in jou skoot val nie, maar ons moet die verhouding met Jesus aktief najaag en daarna soek met ‘n smagtende, honger hart. Dit verg van ons véél meer as om maar net kerk toe te gaan en Bybel te lees. Dit vra van ons ‘n aktiewe kommunikasie met die Here en ‘n gedurige soeke na Sy Woord. Dit vra van ons om gedurigdeur te wil weet wat Sy wil is en om daarna te smag om te lewe soos wat Jesus graag wil hê dat ons moet lewe. Waarom? Suiwer omdat ons deur hierdie verhouding ‘n onblusbare liefde vir Hom opbou. Hy het ons immers eerste onmeetbaar baie liefgehad!
Gebed:
Dankie Here, dankie vir U groot, groot liefde vir my en vir al die genade wat U op my uitstort. Ek smag na ‘n sinvolle, intieme verhouding met U. Trek my asseblief nader aan U en gee my meer liefde!