Handelinge 10:23-48
Pas nadat die haan gekraai het, is Petrus op. Haastig pak hy die nodigste goedjies. Hy het maar bitter min geslaap – heelnag gelê en rondrol en wonder hoe hy hierdie situasie moet hanteer. Maar dan kom die visioen van die laken vol onrein gediertes elke keer by hom op. En God se woorde: “Wat God rein gemaak het mag jy nie as onrein beskou nie, Petrus!”
Vanoggend wéét hy dat hy hierdie manne met vrymoedigheid kan vergesel, al voel hy maar bitter ongemaklik in hulle teenwoordigheid. Hulle is en bly immers heidene! Hy besluit dat hy hierdie ding nie alleen kan aanpak nie, en hy gaan soek 'n paar ander gelowiges om saam te gaan. Dit kos sommer sakke vol oorredingsvermoë om hulle sover te kry om “ja” te sê.
Dit is 'n volle twee dae se reis na Sesarea, al langs die weskus op. Uiteindelik stap hulle die pragtige hawestad binne. Die manne beduie vir Petrus dat die mooi huis dáár voor hulle baas s'n is. Dan kom 'n man geklee in die uniform van 'n Romeinse offisier vir Petrus-hulle tegemoet. Hy kniel eerbiedig voor Petrus.
Petrus voel verskriklik verleë: “Asseblief, staan op, ek is maar net 'n doodgewone mens!” Wanneer die hartelike groete afgehandel is, stap die twee saam na Cornelius se huis asof hulle óú vriende is – 'n Jood en 'n Romein!
By die huis word hulle ingewag deur 'n horde mense. Al Cornelius se familielede en sy vriende is daar om Petrus 'n hartlike ontvangs te gee. Petrus is skoon uit die veld geslaan. Maar dan moet hy eers verduidelik: “Julle almal is natuurlik daarvan bewus dat ons Jode nie met ander volke mag omgaan nie. Ons mag nie eers in iemand wat nie 'n Jood is se huis kom nie, want volgens ons wette is alle ander volke onrein en onheilig. Nou wonder julle sékerlik waarom ek dan vandag die vrymoedigheid het om saam met julle te kuier.”
Petrus se oë gly oor die klomp hier voor hom. Hulle lyk dan nes gewone mense! Wie is hy as mens om hulle as onrein en onheilig te mag klassifiseer?
“God het my gewys dat ek géén mens as onheilig of onrein mag beskou nie, en daarom het ek met volle vrymoedigheid na julle gekom. Maar nou weet ek nog steeds nie waarom ek eintlik hier is nie. Waarom het julle my laat haal?”
Dan vertel Cornelius van sy geestesvervoering vier dae gelede, en van die engel in die blink klere. Hierdie engel het vir Cornelius die opdrag gegee om iemand na Joppe te stuur om 'n persoon met die naam Simon Petrus by Simon die leerlooier te gaan haal. “En nou is ons almal hier in die teenwoordigheid van God om te hoor wat die Here alles aan u opgedra het,” verduidelik Cornelius vol afwagting.
“........tot aan die uiteindes van die wêreld....” weerklink Jesus se woorde in Petrus se gemoed.
“Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie,” sug Petrus. En dan begin hy vir die mense vertel van Jesus, van hoe Hy met die Heilige Gees gesalf is en met krag toegerus is. Hy vertel van die wonderlike dinge wat Jesus gesê en gedoen het, van al die wonderwerke en die talle genesings. “En ons is getuies van hierdie dinge,” vertel Petrus, “ek het dit alles met my eie oë aanskou.”
Die mense hang aan Petrus se lippe en drink elke woord van hom in. Hy gaan voort en vertel hoe die Joodse leiers Jesus doodgemaak het, hoe hulle Hom aan die kruis laat spyker het. Hy vertel ook met groot opgewondenheid van Jesus se opstanding, en dat hulle by verskeie geleenthede daarna persoonlik vir Jesus gesien het, met Hom gesels het en selfs saam met Hom geëet het voordat Hy in die hemel opgeneem is. “Oor Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, deur sy Naam vergewing van sondes ontvang.” sluit Petrus af.
En dan gebeur die wonderwerk: Die Heilige Gees kom op al die mense wat na Petrus sit en luister, soos wat dit gebeur het op Pinksterdag en die mense begin in tale spreek en God loof!
Petrus en die paar gelowiges wat saam met hom gekom het, is totaal uit die veld geslaan. Skielik besef hulle dat die Heilige Gees nie gereserveer is vir uitgesoekte Jode nie, maar vir álmal! “Hierdie mense het nét soos ons ook die Heilige Gees ontvang!” sê Petrus vir die ander, en dan besluit hulle dat hierdie mense mos dan nou ook gedoop kan word.
Petrus en sy maats word hartlik uitgenooi om 'n paar dae by die Sesereane oor te bly en Petrus aanvaar dit met groot dank. Hierdie besluit sou egter verreikende gevolge hê wanneer die gelowiges in Jerusalem daarvan te hore kom. Maar dit is 'n storie vir 'n ander dag!
Die Here vra soms ook van jou en my om na mense te gaan met 'n totaal ander kultuur of selfs geloof as ons. Maak dit jou ongemaklik om met 'n Hindoe of 'n Moslem te gesels of te kuier, of iemand in 'n ander sosiale klas of kultuur as jy? Onthou dan dat ons nie onderskeid mag tref nie! Voor God is almal eenders – wie is ek dan om myself te gaan verhef bo enigiemand anders?
Gebed:
Here, ek is dikwels daaraan skuldig dat ek onwillig is om die grense oor te steek. Gee my asseblief die moed om dit vrymoedig te doen!