Nog ‘n Grote Val

16 February, 2026
Luister Na Hierdie Dagstukkie Nog ‘n Grote Val

1 Korintiërs 10:11-14

VIDEO | LUISTER

Vrydag het ons gehoor van Moses en die Israeliete, en die wonderwerke wat hulle beleef het. Paulus sê dat hierdie verhale dien as ‘n voorbeeld vir die gemeente in Korinte. Inderdaad dien dit presies nét so as voorbeeld vir ons vandag!

Ons is so geneig om die Ou Testament weg te gooi. Ons lees miskien die Psalms, Spreuke en Hooglied, maar die res vermy ons, want dit is propvol geweld en allerhande ou uitgeleefde wette. As ons byvoorbeeld Eksodus lees, dan sien ons twee dinge: aan die een kant die Israeliete se gemor, opstand, losbandigheid, afvalligheid en ongeloof. Aan die ander kant sien ons weer God se herhaaldelike wonderwerke, liefdeshandelinge, genade en vergifnis ten spyte van die Israeliete se swak gedrag. Maar ons sien ook God se toorn wanneer dinge totaal handuit ruk en die Israeliete Hom uittart.

Dit is waarom Paulus in 1 Kor 10:12 sê: “Daarom, wie meen dat hy staan moet oppas dat hy nie val nie.” Ja, die Bybel en veral die Ou Testament is propvol voorbeelde van sulke mense. Die grootste hiervan (letterlik) was seker die reus Goliat. As daar darem nou óóit ‘n indrukwekkende man was, dan was dit daardie reus. ‘n Volle drie meter lank in sy leersandale! En sy wapenrusting was ewe-indrukwekkend. Enigeen wat dit oor sy pad sou waag, sou binne minute ‘n stukkie bloederige maalvleis wees. Maar hy het die fout gemaak deur die Israeliete, en dus óók vir God te beledig, en so die Here uit te tart met sy arrogansie. Ons ken almal die verhaal van die jong rooigesig skaapwagtertjie wat Goliat in die stof laat byt het met ‘n enkele gladde klippie uit sy slingervel.

Goliat was nie die enigste groot held wat geval het nie. Inderdaad laat sy val ons juig, want hy was goddeloos. Maar dan lees ons later van die geliefde Dawid se val. Die einste Dawid wat vir Goliat laat sneuwel het was later daardie wonderlike koning wie se liedere ons vandag nog in die kerk sing, en wie se gedigte ons so graag lees. Dawid het uitgestyg as ‘n geloofs-reus, waarlik iemand wat God liefgehad het. Maar dan sien ons hoe hy baie hard tot ‘n val kom, as hy van sy balkon af ‘n beeldskone vrou sien bad. Dawid het net een ding op die brein gehad, en uiteindelik lei dit tot ‘n lafhartige moord. Dawid het gedink hy staan, maar hy het geval - sommer baie hard! Sy seun, Salomo, het dieselfde lot getref. Hy was ‘n ware man na God se hart, en hy het die verruklike liefdesboek, Hooglied in die Bybel geskryf. Weereens was dit sy groot liefde vir vroue wat sy ondergang veroorsaak het. Salomo se duisend vroue het uiteindelik gelei tot afgodery. En hy het hard geval!

‘n Klompie jare voor hierdie gebeure was dit weer die groot kragman, Simson. Hy het sy lewe aan God gewy, maar toe hy deurmekaar raak met ‘n heidense vrou, was sy val weereens baie groot. Sy oë is wreedaardig uitgesteek, en vir die res van sy dae moes hy die werk van ‘n donkie doen in ‘n kerker. Sy dag het egter gekom ná sy berou, en met sy reuse krag het hy die tempel van Dagon laat ineenstort op ‘n horde mense wat besig was om God te verkleineer.

Daar is nog talle sulke voorbeelde van groot pilare wat gedink het hulle staan, en toe val hulle eintlik. Die interessante is dat hulle val gewoonlik eenvoudige versoekinge van die lewe was. Nie een van hierdie helde is bo hulle krag beproef nie. Hulle was almal gedryf deur die een of ander sondige begeerte. In die musiekblyspel “My Fair Lady” sing die een karakter: “The Lord above gave liquor for temptation, to see if man can stay away from sin. But with a little bit of luck, when temptation comes, you’ll step right in!” Hierdie is presies hoe baie mense die versoekings van die lewe sien - hulle gaan soek hulle eintlik! “God sal nie toelaat dat jy bo dit waartoe jy in staat is getoets word nie”, sê Paulus in 1 Kor 10:13. Hy gaan voort deur te sê dat God selfs ook die uitkoms sal gee as sulke dinge oor jou pad kom.

As gelowiges raak ek en jy dikwels té gerus. Ons begin ons totale afhanklikheid van God vergeet, veral wanneer dit die dag begin goed gaan. Jy begin vergeet om gedurig in gesprek met Hom te wees, en dan begin jy op jou eie krag vertrou - jy het immers baie daarvan! En dit is net dáár waar die groot val begin, want jy dink dat jy hierdie ou versoekinkie wat oor jou pad kom baie maklik self kan oplos. “With a little bit of luck - when temptation comes, you’ll step right in!” Oor die afgelope paar jaar het ons keer op keer gesien hoe groot steunpilare, rolmodelle van die samelewing, selfs predikante tot ‘n groot val gekom het toe hulle van God vergeet het, en hulle in die versoekings verlekker het.

Paulus maan die Korintiërs om weg te bly van afgodery. In daardie tyd was dit die grootste versoeking. Vandag se “afgodery” is baie meer subtiel. Seks, drank, dobbel, sport, ja selfs ons geliefde spel, rugby kan ‘n afgod word! Leef naby aan God, in volle afhanklikheid aan Hom, en jy sal veilig wees, selfs wanneer die versoekings oor jou pad kom.

Gebed: Here, ek laat myself so maklik in die versoeking lei. Hou asseblief my hand styf vas, en lei my daardeur!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026