Neem ‘n Geloofstap

23 January, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Neem ‘n Geloofstap

Genesis 12:4-9

VIDEO * OUDIO

Alles is in rep en roer in die Abraham-huishouding. Jare en jare se goed wat Sarai versamel het word opgepak vir die groot trek (ja, dalk het Abraham ook so ’n ou klein aandeeltjie gehad!) Daar word gehiet en gebied: “Versigtig met daardie kruik, hy is kosbaar!” Van heinde en verre kom familie en vriende om vir oulaas te groet. Hulle skud hulle koppe meewarig: Wat het die ou man tog besiel om op vyf-en-sewentigjarige ouderdom te wil staan en trek? Nou nie dat hy juis beplan om na ‘n aftree-oord te gaan nie. Nee, hy wil op sy oudag nuwe wêrelde gaan ontdek. Hulle sê dat hy nie eers weet watter rigting hy gaan inslaan nie, glo net iewers suid .......

Die familie is vies vir Abraham, want ‘n ordentlike man los mos nie sy familie sommer net so nie! Maar Abraham is so opgewonde soos ‘n klein seuntjie wat op pad is Margate toe!

Nefie Lot kom so deur die oppakkery na die ou man toe: “Oom Abraham, hoe lyk dit, kan ek nie maar saamgaan nie?” Hy sien net opwinding voorlê. Abraham kyk sy broerskind op en af. Sal die mannetjie ooit opgewasse wees vir hierdie soort ding? Hy is maar ‘n bietjie van ‘n losbol. Mens weet nooit waarmee jy daar in die vreemde te doene gaan kry nie. Daar is juis fluisteringe van reuse en allerhande skrikwekkende barbare daar langs die Dooie See. En dan is daar die gerugte van die Goddeloosheid van die mense, glo iets aller-ysliks! “Ja, toe, pak dan maar op. Ons vertrek oor ‘n week!”

Dit was ‘n reuse trek! Daar was kamele en nóg kamele, almal gelaai tot brekens toe. Die slawe het in stringe geloop, en dan was daar Abraham se vee, groot kuddes wat hy vir homself versamel het in Haran. Ja, Abraham kon sékerlik tevrede gewees het met homself oor hierdie rykdom wat hy opgebou het. Die Here was vir hom baie goed.

Dit het amper ‘n halfdag geneem vir almal om in beweging te kom. By die poorte van Haran staan skares familie en vriende en huil oor Abraham. Dit is ‘n groot verlies.

Die Bybel sê nie vir ons hoe lank dit Abraham geneem het om te kom by die plek wat die Here hom sou aanwys nie, maar sy reis moes sékerlik ‘n maand of drie geduur het. Soos die kraai vlieg is dit meer as seshonderd kilometer van Haran af tot by Sigem, waar Abraham vir die eerste keer uitgespan het. Daar by die groot waarsêersboom het die Here met Abraham gepraat. Daar het Abraham weer daardie stem in sy binneste gehoor, klokhelder, asof die Here hier reg voor hom staan: “Aan jou nageslag gee Ek hierdie land!”

Abraham se mond het oopgeval: “Aan mý, Here? Gee U hierdie hele groot land aan my en my nageslag?” Dit het Abraham nooit in sy wildste drome verwag nie. Eers was daar die belofte dat die Here hom ‘n nageslag sou gee, en dit terwyl sy liewe Sarai onvrugbaar is. En nou hiérdie belofte!

Abraham het in aanbidding voor God neergeval. Dit is ‘n mooi land. Wat het hy gedoen om dit te verdien? “Dankie Here, dankie,” het hy geprewel terwyl hy begin om klippe bymekaar te maak. “Hier moet ek ‘n altaar bou,” besluit hy, “’n altaar vir God. Hier sal ek ‘n offer bring aan die Here wat my veilig gebring het deur die gevaarlike, onherbergsame wildernis tot hier.”

God se genade is inderdaad groot! God bou ‘n geloofsgemeenskap. Hoe doen Hy dit? Hy roep en Hy belowe. Geen dwang, die mens moet self kies. Hy word voor ‘n keuse gestel: hy kan in Haran bly, in die paradys, die land van oorvloed, daar waar hy soveel rykdom kon opgaar. Daar kan hy voortgaan met sy óu lewe, waar al sy vriende en familie waarskynlik afgodsaanbidders was. Of hy kan hierdie verskriklike waagstuk aangaan, om die onherbergsame wildernis aan te durf op pad na ‘n bestemming wat totaal onbekend is aan hom. Sou hy God genoeg vertrou om hierdie waaghalsige stap te neem?

Hy besluit om God onvoorwaardelik te vertrou. En wanneer hy dit doen, kom die groot verrassing: daar wag ‘n tweede belofte op hom, die belofte van ‘n hele groot land wat aan hom sou behoort.

Abraham antwoord deur die Here aan te roep (met woord), en deur ‘n altaar te bou (met daad). En dan begin hy deur die hele land te trek en oral tent op te slaan. Sodoende neem hy simbolies die land in besit. Nee, hy verower nie die land met ‘n groot gedruis nie, maar neem dit bloot simbolies in ontvangs. Dit is mos ‘n geskenk van God!

Hoe ver is ek bereid om God te vertrou? Ek het al dikwels gesien hoedat mense die sendingveld invaar met slegs ‘n belofte van God. Net gisteroggend het iemand vertel hoedat hulle sendingwerk gaan doen het in die Amasone, suiwer in vertroue op God! Dikwels is hulle bereid om alles prys te gee en te waag. En dan skud die familie en vriende meewarig die kop. Maar as jy hom ‘n ruk later raakloop, en jy sien dat sy klere deurgeskaaf is, maar die blydskap straal uit hom uit, dan weet jy dat dit nooit ‘n waagstuk was nie, maar dat hy slegs op God vertrou het. En God was getrou! Sy genade is baie groot!

Gebed:

Here, so dikwels is my vertroue so klein. Versterk asseblief my lam knieë!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026