Filippense 2:5-11
Hoeveel maal in jou lewe het jy al gehoor of gelees van Jesus se versoening? “Dit is al ou nuus,” mag jy dalk maklik sê. “Ek het dit al baie honderde kere gehoor!” Ja, dit mag dalk “ou nuus” wees, maar ek dink nie dat ons genoeg daaraan herinner kan word nie. Elke keer as jy dit hoor, is dit weer vars en nuut. Dit is dáárom dat Paulus dit in elke brief beklemtoon en dikwels ‘n paar keer herhaal in dieselfde brief. Inderdaad is dit die héél belangrikste boodskap wat die mensdom nog ooit in sy geskiedenis gehad het.
Wanneer ons aan Jesus se drie en dertig jaar as Mens dink, dan is daar twee dinge wat jou onmiddellik opval. Die een is die geweldige opofferings wat Hy gemaak het en die tweede, Sy onbeskryflike nederigheid. Hy, die Almagtige God, het die opoffering gemaak om vir ‘n tyd lank as doodgewone Mens hier op die aarde tussen ons te kom leef. Kan jy jou voorstel dat Koning Charles die luukse van Buckingham Paleis vir ‘n tydlank sou prysgee en in een van ons plakkerskampe kom bly onder haglike omstandighede? Dis lagwekkend! Daar is nie elektrisiteit of lopende water of selfs ‘n toilet nie. Die dak en mure lek soos ‘n sif en van privaatheid is daar géén sprake nie. Van jou lewe is jy nooit seker nie. Sy Koninklike Hoogheid sal nie vyf minute daar uithou nie!
Vir Jesus moes dit nog veel erger gewees het want om die onbeskryflike skoonheid en heiligheid van die hemel te verruil vir ‘n vuil stal vol stinkende diere in ‘n wêreld waar sonde die botoon voer, moes ‘n verskriklike opoffering gewees het! Boonop is Hy vervolg van dag een af. Sy blote teenwoordigheid as baba het ‘n bloedbad veroorsaak toe Herodus al die seuntjies laat uitmoor het om Jesus te probeer elimineer. Menslik gesproke moes Hy net daar al besluit het om terug te gaan hemel toe en die ondankbare mense aan hulle eie lot oor te laat! Niemand het Hom waardeer nie! Maar Hy het besluit om die volle pad van versoening te loop, maak nie saak wat dit sou kos nie.
Jesus kon baie maklik Sy tyd hier as koning kom uitleef in ‘n luukse paleis en mense wat aan Hom hulde bring en Hom vereer. Dit was binne Sy mag om vir Homself die magtigste Koninkryk van alle tye op aarde te kom vestig en in weelde te leef. Nogtans het Hy besluit om die pad van eenvoud en nederigheid te loop. Paulus sê in vers 7 dat Hy die gestalte van ‘n slaaf aangeneem het. Ja, Jesus het gewerk soos ‘n slaaf sonder om enige vergoeding te kry daarvoor. Hoe het ‘n tipiese dag in Jesus se lewe gelyk? Hy en Sy dissipels het dikwels iewers in die veld op die harde grond geslaap. Skaars is die son op, of die eerste mense begin Hom al soek, desperate mense met allerhande kwale, want Hy kan hulle mos genees. ‘n Uur of twee later drom duisende mense om Hom saam en elkeen soek Sy persoonlike aandag. Dit moes uitputtend gewees het! Tussendeur moes Hy tyd maak om te preek vir hierdie mense, want om gesond te maak sonder dat hulle weet waaroor dit alles gaan, sou nie sin maak nie. En dan was daar die alewige Fariseërs en Skrifgeleerdes wat gedurig op die loer was om Hom uit te vang en om Sy lewe te versuur. En wanneer die son sak moes Hy maar weer ‘n plekkie gaan soek in die stof op die harde grond, want dikwels was daar nêrens anders blyplek nie.
Jesus het ook nie geskroom om Hom met die semels te meng en selfs te kuier saam met verfoeilike tollenaars en sondaars nie. Hy was selfs bereid om met afstootlike Samaritane, selfs dié met ’n baie duister verlede, te gesels en sodoende Sy hele reputasie as Jood op te mors.
En dan praat ons nie eers van die verkriklike lyding wat Hy moes ondergaan aan die einde nie.
Jesus sou nooit van my en jou verwag om dieselfde pad as Hy te loop nie, dis menslik onmoontlik! Hy vra egter dat ons so ‘n klein ietsie daarvan in ons lewens inbou, net ‘n bietjie opoffering vir ons medemens. Dit kan jy net regkry as daar liefde in jou lewe is - ‘n klein bietjie van die onbeskryflik-groot liefde wat Hy vir ons uitgeleef het. Dan vra Hy terselfdertyd ook dat ons Sy nederigheid moet navolg. Natuurlik kan ons dit nooit so groot doen soos Hy nie, maar iets van Jesus se nederigheid moet ook in ons lewens wys. Eersug en selfsug durf nie ‘n plek in my lewe hê nie, want hulle is presies die teenoorgestelde van opoffering en nederigheid.
Vandag is Jesus natuurlik weer op Sy regmatige plek in die hemel as heerser oor alle dinge. Hy is verhef tot die hoogste eer denkbaar. Nie alleen moet ons Hom eer vir die geweldige opoffering wat Hy gemaak het vir ons versoening nie maar ons moet Hom ook eer vir Wie Hy is, die Koning van alle tye. Dit is onverstaanbaar dat daar enige mens is wat Hom betwyfel. En daarom is dit ook my en jou plig om dit wyd en syd te verkondig: “Jesus Christus is die Here!” sodat elkeen op aarde Hom kan aanbid.
Gebed:
Aanbiddelike Here Jesus, vanoggend val ons voor U neer en bring aan U al die eer want alleen U is waardig!