Joël Inleiding
Wanneer ons terugkyk oor die afgelope klompie jare, dan staan jy verstom oor hoeveel natuurrampe die wêreld getref het. Die eerste grote was seker tsunami wat die eiland Phuket getref het en waar duisende mense dood is. Dit laat ‘n mens met baie meer vrae as antwoorde. Toe gebeur die tsunami wat Japan ‘n paar jaar later tref en vul jou met afgryse. Dit sit nog vars in jou geheue. Dan is daar die super-siklone wat Amerika tref en totale verwoesting saai. Vulkaniese uitbarstings in Ysland lê die hele Europa lam. Maar ook Suid-Afrika spring nie die rampe vry nie. Versengende droogtes wat 'n groot stad soos Kaapstad lamlê, verwoestende vloede wat die Durban omgewing tref - alles in die oortreffende trap. Nét verlede week is 'n paar dorpe skaars 'n hanetreetjie van waar ek woon totaal verwoes deur 'n orkaan! En natuurlik kan ons nie die nagmerrie van Covid-19 weglaat nie, 'n natuurramp wat die hele wêreld lamgelê het!
En dan vra ons die vraag: Hoe is God hierby betrokke? Watter verband is daar tussen God en hierdie rampe? Is dit God se manier om die mensdom te straf vir al die Goddeloosheid wat op die aarde aangaan? Steur God Hom hoegenaamd aan al die onreg wat plaasvind, die verskriklike ellendes wat mense mekaar aandoen? Is God dalk ongevoelig as Hy mense op hierdie manier straf? Waar is Sy genade dan? Sal dit óóit met ons beter gaan?
Sjoe! Sulke soort vrae laat my darem verskriklik swartgallig klink! Maar dit is dikwels die vrae wat mense, dikwels selfs gelowiges vra. En dit is juis oor hierdie soort vrae wat Joël met sy lesers wil gesels.
Hierdie boek wil gelowiges gerusstel en dit baie duidelik maak dat God baie beslis nie ongevoelig staan teenoor die dinge wat met ons gebeur nie. Joël wil dit ook beklemtoon dat rampe nie God se straf is oor ons dade nie. Hy wil wél vir ons sê dat God verantwoording eis van ons vir die dinge wat ons verkeerd doen en dit sluit óók die gelowiges in! As ek ‘n bank gaan beroof dan gaan ek tronk toe, of ek ‘n gelowige is of nie. En al het ek berou gaan ek steeds verantwoording moet doen vir my daad. Gelowiges verkeer dikwels onder die wanindruk dat, omdat God ons vergewe het is ons outomaties ook gevrywaar van die gevolge van ons misstap. Dit is nie waar nie. Wat wél waar is, is dat God ons die genade gee om daardie gevolge te kan verwerk.
Wat wil Joël dan hiermee vir ons sê? Hy wil ons oproep tot bekering! Ons moet die ou lewe agterlaat en die rug daarop draai en nuut begin lewe. Maar Joël wil ons terselfdertyd ook die versekering kom gee dat God nooit diegene wat getrou aan Hom is, in die steek sal laat nie. Ten spyte van die ramp wat ons tref, moet ons weet dat die Here ons beslis nie vergeet het nie. Hy wil ons toerus om as gelowiges voluit te kan leef en Hy wil betrokke wees by ons. Maar die grootste troos wat die boek ons gee is dat God vergewe sodat ek en jy ‘n splinternuwe lewe kan leef!
Die boek Joël het die slim manne regtig hard laat kopkrap want nêrens is daar ‘n verwysing oor wanneer die boek ontstaan het nie. Die meeste Skrifkenners stem egter saam dat dit ná die ballingskap, dus ongeveer 500vC of selfs heelwat later eers gefinaliseer is. Die eerste mense wat dus hierdie boek gelees het was die gelowige Jode van Jerusalem in die tydperk tussen 450 en 350vC. Dit was ‘n bitter moeilike tydperk vir hierdie mense wat so pas as ballinge teruggekeer het uit Babilonië na hulle land van herkoms, Juda. Dit is dalk wonderlik om uiteindelik na jou vaderland te kon terugkeer, maar hulle het omstandighede daar aangetref wat skrikwekkend was. Skielik was dit nie meer net Jode wat die land bewoon het nie, maar nou moes hulle die land deel met ‘n magdom vyandige volke. Om sake te vererger het hulle ou aardsvyande, die Edomiete en die Egiptenare hulle nie rus vir hulle siel gegee nie. Dit was maar ‘n droewige prentjie. En dit was vir hierdie mense, gebuk onder ‘n swaar las, wat Joël skryf. Sy taak is om hulle weer moed te gee om aan te gaan met die lewe.
Ons mag egter nooit vergeet nie, dat die Bybelboeke wel geskryf is deur mense vir bepaalde lesers van hulle tyd maar dat die inspirasie van die Heilige Gees dit tydloos maak. En so is dit ook die geval met Joël. Vandag is die konteks dalk baie anders maar steeds gesels Joël vandag met my en jou presies net soos met sy eerste lesers, meer as tweeduisend jaar gelede. Eintlik is dit die Heilige Gees wat met ons gesels deur die vergeelde bladsye van die boek Joël. Sy boodskap is steeds een van God se groot genade. Hy wil so graag hê dat ons wegbreek van die sonde en dat ons ‘n volle lewe van dankbaarheid sal lewe!
Hoe kan ons seker wees dat dit wél die Heilige Gees is wat met ons praat deur die boek? Die antwoord kry ons in die héél eerste versie van Joël: “Dit is die woord van die Here aan Joël, seun van Petuel.” Wanneer ons hierdie woorde lees, dan kan ons nie anders nie as om ag te slaan op wat hierdie onbekende profeet skryf, want dit is nie sy eie woorde nie maar “die Woord van die Here.”
Gebed:
Here, dankie vir U groot, groot genade oor my. Ek moet vanoggend bely dat ek nie lewe soos U dit van my verwag nie. Help my asseblief om terug te draai na U toe!