Lukas 4:14-30
Dit is ‘n groot dag in die dorpie Nasaret: ‘n Seun van hulle eie gemeenskap, wat al baie roem verwerf het elders, kom die Sabbatsoggend preek in hulle eie sinagoge. Sedert die Babiloniese ballingskap het die Jode begin om in elke dorp sinagoges te bou waar hulle kan bymekaarkom om saam te bid, die Wet te lees en onderrig te word. Hierdie oggend is die sinagoge stampvol, want almal wil hoor waaroor die groot bohaai gaan. Dalk sal Hy hier ook van die wonderwerke doen waarvan hulle gehoor het dat Hy in Kapernaum doen! Daar heers al hoeka ‘n ontevredenheid dat Hy hulle hier in Nasaret afskeep en elders Sy groot wonders verrig en preek.
Die sinagoge-amptenaar haal die groot boekrol van die rak af en rol dit oop by die profeet Jesaja. Die lywige manuskrip word vir Jesus aangegee en Hy begin lees. “Toevallig” is die gedeelte in Jesaja 61 waar die man vir Jesus oopgemaak het, een van die talle profesieë wat spesifiek op Jesus betrekking het. Nee, absoluut niks is toeval nie: God het dit so bewerk dat die man hier móés oopmaak want dit was waaroor Jesus se preek daardie oggend MÓÉS gaan.
Nadat Hy die gedeelte aan die skare voorgelees het, maak Hy die swaar ou boekrol toe en gee dit terug vir die amptenaar. ‘n Doodse stilte heers in die vertrek, ‘n gees van groot afwagting om te hoor hoe hulle dorpsgenoot preek. Hulle hang aan Sy lippe as hy begin: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.” Sy woorde is soos heuning vir hulle - wat ‘n mooi gedagte is dit nie wat Hy uitspreek! Is Hy nie dalk ook ‘n profeet soos sy nefie Johannes nie? Almal maak hulleself reg vir ‘n heerlike soetsappige preek waar hulle net mooi dinge hoor van bevryding en herstel en alles wat mooi is. “En om te dink dat hierdie wonderlike prediker al die tyd reg in ons midde was!” fluister hulle vir mekaar.
Maar dan bars die bom: “Geen prediker word aanvaar in die plek waar hy grootgeword het nie!” sê Jesus vir hulle. Die klomp begin ongemaklik rondskuif, Hy moet darem nou nie kom staan en persoonlik raak nie. Jesus haal voorbeelde aan uit die geskiedenis van hoe die profete dikwels deur hulle eie mense geminag is, en weldra is daar ‘n gebrom van ontevredenheid. Dit is tóg snaaks, dat toe Johannes hulle sleggesê het en al hulle sondes oopgekrap het, het hulle hulleself gewilliglik deur hom laat kasty. Maar wanneer Jesus dit maar ligtelik doen, raak hulle kwaad, want Hy is één van hulle en nie ‘n buitestaander nie. So woedend raak hulle, dat hulle Hom die dorp uitjaag, en dan drom hulle saam en druk Hom teen ‘n afgrond vas. Vandag is die dag wat hulle hierdie jong kêrel wat dink dat Hy vir húlle kan preek, oor die krans gooi. Hulle het egter nie met God rekening gehou nie. Sonder dat hulle dit agterkom stap Jesus doodluiters tussen hulle deur en skud Hy die stof van Nasaret vir goed van Sy voete af. Eintlik was die hoofrede waarom hulle van Jesus wou ontslae raak, was omdat Hy met Sy uitspaak wou laat blyk dat Hy die Seun van God is.
Dalk gaan ek vanoggend ‘n ding of twee sê waar ek op tone gaan trap, en dit gaan seer maak. Sê maar byvoorbeeld, die prediker in jou eie gemeente is vervelig; hy herhaal te veel; sy preke is eentonig; hy preek te veel oor liefde; hy preek te veel oor sonde. Ons gaan liewer almal luister na Oom Angus. Na hóm kan 'n mens luister, al trap hy op jou tone!
Baie gelowiges hardloop van gemeente na gemeente omdat hulle nêrens tevrede is nie. Gewoonlik is hulle dan ook die mense wat die lewe van hulle mede-gemeentelede versuur in elke gemeente waar hulle kom, en die arme prediker laat voel asof hy minderwaardig is. As jy dalk een van hulle is - hou op daarmee! Gaan luister vir ‘n slag wat die Heilige Gees deur daardie “vervelige” leraar vir jou persoonlik wil sê. Die groot probleem is dat ons dikwels net die dinge wil hoor wat vir onsself aanvaarbaar is. As dit daarvan afwyk, raak jy ongemaklik, en dikwels luister jy dan nie eers verder nie, en maak net ‘n moordkuil van jou hart oor hoe pateties die prediker is.
Dalk is jy vanoggend ‘n prediker wat al klaar met ‘n yslike knop op die krop van jou maag sit oor Sondag se preek, want jy wéét al by voorbaat van die kritiek wat gaan volg. Troos jou daaraan dat selfs die baie gewilde Oom Angus Buchan swaar deurloop onder kritiek. Jesus is so byna-byna by ‘n krans afgegooi oor ‘n preek. Jy is beslis nie alleen nie! Die groot geheim is, dat jy jou laat lei deur die Heilige Gees met elke preek wat jy voorberei. Wanneer jy dus preek, is dit nie jy nie maar die Heilige Gees wat deur jou praat.
Dit bring my by ‘n ander baie belangrike punt: indien jy iemand is wat gedurigdeur kritiseer, dan is dit in der waarheid nie die prediker wat jy kritiseer nie, maar eintlik die Heilige Gees, want jy sê dat die Heilige Gees liewer iets anders vir jou moet sê. Jy kritiseer vir God omdat jy wou gehad het dat die Here anders moes optree of redeneer, of dinge op 'n ander manier vir jou moes sê.
Dink asseblief biddend daaroor!
Gebed:
Here, vergewe my asseblief vir al die kere wat ek U Heilige Gees gekritiseer het.