Nag van Visvang

24 April, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Nag van Visvang

Johannes 21:1-14

VIDEO | OUDIO

Petrus sug swaar – hy is verveeld. Vir drie jaar het hy en die ander manne dag-vir-dag saam met Jesus deurgebring. Hulle het gewoond geraak aan die harde werk van skare-beheer en mense organiseer sodat elkeen van die duisende hoopvolles by die Meester kon uitkom.

Maar skielik is die Meester nou nie meer daar nie! 'n Paar weke het nou al verbygegaan vandat hulle laas vir Jesus gesien het en hulle weet nie wat om met hulleself aan te vang nie. Petrus sug weer baie swaar: “Ek gaan visvang.”

Thomas is dadelik opgewonde: “Ek gaan saam!”

Ja, hy is die een wat gesê het dat hy nooit in der ewigheid sou glo dat Jesus waarlik leef nie, maar toe hy die dag vir Jesus voor hom sien staan in lewende lywe, toe verkrummel hy. “My Here en my God!” het hy uitgeroep en voor Jesus in aanbidding neergeval.

Natanael, Jakobus, Johannes en nog twee manne is saam met Petrus, en dadelik spring hulle ook op om saam te gaan. “Ons is almal mét jou, ou maat!” jubel hulle, té bly om iets te kry om te doen.

En so huppel die groepie manne af strand toe terwyl die dag sy laaste asem uitblaas. In die laaste strale van die son kry hulle haastig die nette reg en wanneer die skemering soos 'n kombers oor hulle toevou, roei hulle oor die eerste brandertjies.

'n Entjie van die strand af besluit Petrus dat hierdie 'n goeie plek is om die nette uit te gooi. Hy ken mos hierdie see soos die palm van sy hand en hy weet presies waar die regte plekke is om die blinklywe hok te slaan.

Maar na 'n volle uur se net sleep is daar nie 'n enkele glinsterinkie van 'n vis wanneer hulle die net in die skuit bymekaarmaak nie. Petrus is bitter teleurgesteld – hy verstaan dit gladnie (soos gewoonlik!) Hy is mos die groot visserman – wat het dan nou skeef geloop?

“Ek ken 'n baie goeie plek,” kondig Jakobus aan, “ek en Johannes het daar al sakke vol vis uitgetrek!”

En so roei hulle na die twee broers se gunsteling visvangplek en begin van voor af om die net in 'n groot halfmaan uit te gooi oor die rand van die skuit. 'n Uur later word die net vol groot verwagting weer in die skuit bymekaargemaak.

Maar al wat in die net is, is verwagting. Nie eers 'n ou sardientjie van 'n dag oud nie!

Radeloos gooi Petrus sy hande in die lug: “Kom ons gaan probeer dáár oorkant,” en hy beduie 'n ent strand-af. “Daar het ek darem altyd nog 'n paar visse gekry.” En so roei die manne na waar Petrus beduie en gooi die nette in, roei in 'n halfmaan en trek hulle weer in. Maar weereens is daar niks!

Wanneer die dag uiteindelik rooi begin breek, roei die moedelose manne strand toe sonder 'n enkele ou vissie in hulle skuit. Nog nóóit het Petrus in al sy jare van visvang so 'n troostelose vangs belewe nie.

Wanneer hulle naby die strand kom, staan daar iemand wat vir hulle wuif: “Het julle iets gevang om te eet?” skree die persoon daar van vêr af.

“Nee, niks!” antwoord Petrus moedeloos.

“Gooi net julle net aan die ander kant van die skuit.” skree die man vir hulle terug.

“Wat weet hierdie man van visvang af!” brom Petrus, “dink hy miskien dat dit sal help? Wel ek het nuus vir hom!”

“Petrus, dink jy nie ons moet maar probeer nie? Wat kan ons verloor man?”

“Ja goed dan......” En hy gryp die net en begin dit onwillig aan die anderkant van die skuit uitgooi. Skaars begin hulle die net intrek, of Petrus sien die woeling in die water. Dit wriemel en kook soos honderde visse spook om uit die greep van die net te kom. Petrus se oë rek groot. En dan besef hy skielik dat daardie vreemdeling op die strand niemand anders is as die Meester nie!

“Dis die Here!” bevestig Johannes sy vermoede. Petrus gryp sy hemp en trek dit haastig aan. Dan los hy die ander nét so en spring in die see en swem die honderd meter land toe om by sy Meester te kom.

Wanneer die ander manne met 'n groot gesukkel hulle swaar vrag op die strand uitsleep, brand daar reeds 'n vuurtjie om 'n vars vis te braai vir ontbyt. 'n Honderd-drie-en-vyftig groot visse word uit die net gehaal.

“Vissers van mense,” dink Petrus terwyl hy knus langs sy geliefde Meester sit, “vissers van mense! Van nou af sal ek liewer die visvang vir ander los en 'n visser van mense word, soos wat die Meester vir my gesê het!”

Ek en jy is ook vissermanne (en vroue). Petrus se verhaal leer ons egter ‘n baie kosbare les. Waarom is dit dat ons beste evangelisasiepogings dikwels ‘n totale mislukking is? Al ons beplanning en al ons harde werk lewer dikwels absoluut niks op nie. Petrus moes op die harde manier leer dat hy op sy eie stoom nêrens kon kom nie. Die oomblik toe die Here bykom, was daar sukses. Die Heilige Gees gee ons ál die toerusting wat ons nodig het vir sukses in ons mense-visvangs.

Gebed:

Here, dankie dat ek ook 'n visser van mense kan wees. Leer my asseblief om altyd totaal van U afhanklik te wees!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026