Joh. 18:1-11 & Matt. 26:47-56
Dit is twaalf bedrukte manne wat die Olyfberg in doodse stilte opstap. Wanneer die twaalf by hulle gereelde slaapplek in die tuin van Getsemane kom, sê Jesus vir hulle: “Bid dat julle nie in versoeking kom nie.”
“Wat bedoel die Meester daarmee?” wonder Petrus. Hy is doodmoeg van al die dag se drama. Jesus vra vir Petrus, Johannes en Jakobus om saam met Hom te kom, Hy wil gaan bid. Hulle stap 'n ent weg en Petrus gaan sit teen die skurwe stam van 'n olyfboom terwyl die Meester koers kies die nag in. In die flou maanlig kan Petrus die knielende gestalte van sy Meester uitmaak, daar waar Hy met die Vader worstel. Dit is beslis 'n worsteling, want kort-kort kan Petrus uitmaak dat die Meester baie benoud met God praat.
“Vader, as U wil, neem tog die lydensbeker van My af weg,” snik die Meester dit uit. En Petrus kan sien hoe Jesus se liggaam ruk van ontsteltenis. Dan hoor hy só duidelik dat die Meester bid: “Laat nogtans nie My wil nie, maar U wil geskied!”
Petrus wil só graag sy Meester aan die skouers gaan vat en Hom verseker dat hy by Hom sal staan. Maar hy het nie die krag om op te staan nie. Sy ooglede raak swaar.
Dan skrik Petrus as hy skielik nóg 'n figuur by Jesus sien. Die vae buitelyne van iemand het net uit die niet verskyn, en hy staan met geboë hoof by Jesus. “Dis 'n engel!” besef Petrus. Hy hoor nou hoe die Meester al hoe meer benoud raak – Hy verkeer in doodsangs.
Maar Petrus se loodswaar ooglede val toe en hy slaap die slaap van 'n dooie.
“Petrus! Petrus!” word hy uit sy diep slaap geruk. Petrus sit skielik regop. Die ander twee kom ook orent.
“Wat is fout, Meester?”
“Waarom slaap julle? Petrus, kon julle nie eers een enkele uur saam met My waak en bid nie? Staan op en bid dat julle nie in versoeking kom nie!” beveel Jesus hulle.
Die drietal maak soos Jesus versoek, en terwyl Hy weer eenkant gaan bid, bid die drie soos Jesus gevra het. Maar dit hou nie lank nie en een-vir-een val hulle om en slaap verder.
'n Tweede keer kom Jesus terug en maak die manne wakker om te bid, maar weereens is die slaap te groot. Wanneer die Meester die derde keer die manne wakker maak, is dit nie om verder te bid nie. “Die uur het gekom.....” hoor Petrus, en skielik is hy wawyd wakker. “Kom ons loop. Die man wat My gaan verraai is alreeds hier naby.”
Nou is die ander manne ook by, hulle het wakker geword van al die gepraat en hulle kom kyk wat aan die gang is.
Dan, asof uit die niet staan Judas voor hulle, 'n baie skuldige Judas. En agter hom 'n horde manne, tot die tande toe gewapen met swaarde en stokke en enige ding wat kan seermaak. “Goeie môre, Rabbi,” groet Judas skynheilig, en dan tree hy vorentoe en soen vir Jesus.
Petrus voel hoedat die woede in hom kook: “So 'n vermetele verraaier!” stoom dit in sy gemoed. Hy voel-voel waar sy swaard is – iets wat hy nog nóóit nodig gehad het om te gebruik nie.
“Vriend, doen wat jy gekom het om te doen!” sê Jesus moeg vir Judas.
Die tempelwag se soldate spring vorentoe, gryp vir Jesus en neem Hom gevange.
Dan breek iets in Petrus. Verwoed pluk hy sy swaard uit en kap woes daarmee na enigiets wat naby hom beweeg. Die arme slaaf van die hoëpriester is op die verkeerde tyd op die verkeerde plek, en sy oor kruis die pad met Petrus se swaard. Die man kerm as hy krampagtig gryp na die bloeiende wond waar daar netnou nog 'n oor was.
“Sit jou swaard terug, Petrus!” beveel Jesus. Verbouereerd maak Petrus soos die Meester sê. Hy skrik vir sy eie daad.
Dan steek Jesus Sy hand uit na die kermende slaaf se oor en onmiddellik is dit genees.
Die elf manne, Petrus inkluis, is in doodsangs vir hierdie woedende gepeupel wat nou dreigend ook in hulle rigting mik. Hulle spring haastig om en kies die hasepad.
As die lawaaierige groep met hulle gevangene Jerusalem se strate afstap, hoor 'n jong kêrel die rumoer. Nuuskierig kom kyk hy wat aangaan. In sy haas het hy net 'n doek gegryp en om hom gedraai. Een van die soldate sien die komiese kêrel agter hulle aandrentel: “Wat soek jy?” wil hy weet. Hy gryp na die kêrel, en kry hom aan die doek beet. Die man ruk hom los, maar die soldaat bly staan met sy doek in sy hand. Poedelkaal en verskrik hardloop die kêrel die straat af terwyl dit bulder soos die manne lag.
Jesus se laaste lydenspad het pas aangebreek.
Ek wou iets sê oor die gebeure, maar ek kan nie, die emosie is te groot. My Here, my Verlosser, my Heiland is verneder, verloën, verraai, alleen gelaat om die bitter beker tot die laaste druppel te drink.
Gebed:
Here, my gemoed skiet vol, elke keer as ek hierdie verhaal hoor. U het dit alles vir my, ellendige sondaar gedoen. Genade, slegs genade.........!