Nag langs ‘n Hooimied

14 November, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Nag langs ‘n Hooimied

Rut 3:10-18

Van slaap is daar vir Boas géén sprake nie. Toe hy vir Rut hier by sy voete ontdek, het hy ál die slaap uit hom weggeskrik. ’n Warboel gedagtes maal deur sy kop, wat moet hy tog doen? Hy hou baie van hierdie meisie, sy laat beslis sy hart vinniger klop. Maar daar is net eenvoudig te veel struikelblokke in die pad. Boas hoor Rut se rustige asemhaling. Hy voel die warmte van haar liggaam by sy voete. “Here, God van Abraham, Isak en Jakob, gee my asseblief wysheid om hierdie netelige saak te hanteer, en bewaar my asseblief dat ek nie verkeerde dinge aanvang nie.” bid hy baie ernstig. “Hoe kan ek óóit so ‘n moeilike saak aanpak sonder U? Hoe kan ek énige saak aanpak sonder U?” Boas bely daar op die dorsvloer dat sy enigste vertroue nog altyd in God was.

Boas voel hy kan sy tong afbyt oor die lomp manier wat hy dinge gesê het toe hy vir Rut ontdek: “Mag die Here jou seën, my dogter.” het hy vir haar gesê. Ja, en toe vertel hy vir Rut dat sy agter ‘n jongman kon aanloop, of dalk iemand kry wat ryk is. Maar wat sy aan hom doen, is selfs nog beter as die wonderlike liefde wat sy aan Naomi bewys. “Ek kon dit soveel meer romanties gestel het!” dink hy. En dan nog boonop die belofte dat hy as haar losser sal optree.

Maar dan trek Boas se maag op ‘n knop - daar is ‘n ander aanspraakmaker op Rut, een wat nader familie is. Sê nou net die kêrel besluit om sy reg uit te oefen en vir Rut te vat? “Nee, dit sal nie deug nie!” sê Boas hardop, en dan skrik hy vir sy eie woorde. “Ek sal ‘n plan moet beraam! Rut het diep in my hart ingekruip, ek wil haar nie verloor nie. Daar moet ‘n manier wees!”

Iewers kraai ‘n haan, en dan besef Boas dat die dag binnekort gaan breek. Rut moet net eenvoudig hier wegkom voordat iemand haar sien. Saggies skud hy haar wakker. “Kom hier”, beduie hy vir haar, “gee my jou tjalie.” Boas bind die tjalie in ‘n sak, en hy gooi hom tot oorlopens toe vol gars. Dan help hy vir Rut om dit op haar rug te laai. Stilletjies sluip sy van die dorsvloer af weg sodat sy niemand wakker maak nie.

Maar Boas is ook haastig, hy wil nie nog tyd mors nie. Hy moet sommer dadelik nog die wiel aan die rol sit, sommer vandag nog! Wanneer die manne teen dagbreek een-vir-een wakker word, ontdek hulle tot hulle verbasing dat Boas klaar weg is, terug na Betlehem. Vandag sal hulle maar moet dors sonder hom. “Waarom sou hy dan so vroeg al weg wees?” wonder hulle.

In Betlehem stap Naomi ongeduldig op en af. Sy het die hele nag nie ‘n oog toegemaak nie. Sy het heelnag lank gebid vir haar skoondogter. Wanneer sy iemand in die verte sien aangehardloop kom, weet sy sommer dat dit Rut is. Sy hardloop haar skoondogter tegemoet. Naomi kan bars van nuuskierigheid: “Vertel! Vertel!” por sy vir Rut aan, nog voordag die arme Rut haar asem kan terugkry. “Wat het gebeur? Toe, vertel tog!”

Naomi merk nie eers die reuse sak gars waaraan Rut so swaar dra nie. By die huis gooi sy die sak verlig neer: “Van Boas af, Mamma, hy sê ek mag nie met leë hande hier by my skoonma aankom nie.”

Dan wéét Naomi, nog voordat Rut haar vertel wat gebeur het, en trane van dankbaarheid stroom oor haar wange. “Dankie Here!” prewel sy.

Wanneer hulle tot ruste kom, vertel Rut haar die hele verhaal, tot in die fynste detail. Naomi drink elke woord in, soos ‘n dorstige spons. Oopmond hang sy aan Rut se lippe wanneer Rut vertel hoe sy daar moes wegkruip sodat niemand haar sien nie. “Dit was so opwindend!” straal Rut, “maar teen laatmiddag was ek soos ‘n snaar gespan van spanning. Toe die son sak, en ek ruik die heerlike kos wat Boas vir sy manne gegee het, het my maag geskreeu van die honger, maar ek moes uithou. Ek was so verskriklik moeg van al die spanning. Maar ek het besef dat as ek nou moed opgee, dan sou dit alles verniet wees.”

Sy vertel vir Naomi hoe verskriklik bang sy was toe sy die kamp binnesluip, en hoe wild haar hart geklop het toe sy by Boas se voete inkruip. “Ek het net die hele tyd gebid, en dit is al wat my daar deur gedra het. En Boas - ek het veilig gevoel by hom! Hy het nooit probeer om die situasie uit te buit nie. Hy is so ‘n dierbare man!” Rut bars in trane uit van pure verligting dat dit nou alles verby is.

Rut, ek het elke oomblik van die nag vir jou gebid.” troos Naomi, “en die Here was getrou, Hy het jou bewaar. Maar wag, jy sal sien, dinge gaan nou vinnig gebeur. Boas gaan beslis nie rus voordat die saak vandag nog afgehandel is nie!”

Ons verwag altyd die ergste wanneer so ‘n moeilike situasie opduik - mense gee hulleself maar oor aan hulle drange. Beide Rut en Boas het bewys dat jy jouself kan beteuel. Menslik gesproke is dit nie moontlik nie, maar met die krag wat die Here jou gee, is dit wél moontlik, en kan jy jou lewe skoon hou selfs onder die moeilikste omstandighede.

Gebed:

Here, bewaar my asseblief elke oomblik van die dag, veral wanneer die duiwel listig is met versoekinge om my te probeer verlei.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026