Jona 3:1-4
Het jy al 'n tweede kans in die lewe gekry nadat jy lelik verbrou het? Natúúrlik! Ek het al verskeie gekry! En Jona?
Wanneer Jona op die strand uitspoel, is hy 'n baie dankbare mens. Hy het ook sý tweede kans in die lewe gekry. Eintlik moes hy na regte dood gewees het, maar deur 'n groot wonderwerk het God sy lewe gespaar. Hy het steeds vir Jona 'n taak gehad.
In die Bybelverhaal word die detail weggelaat, want dit is nie belangrik hoe Jona weer by die huis gekom het nie. Maar as ek my verbeelding gebruik, dan sien ek 'n bedremmelde man met stukkende klere wat stink na vis, op 'n strand iewers aan die kus van Noord Afrika. Hy begin al strandlangs aanstap in die algemene rigting van Joppe. Deur sy kop maal die gebeure van die afgelope paar dae. Hy kan nie begryp waarom God hom na alles nog stééds genadig was nie. “Wat het ek gedoen om dit te verdien? Waarom het Hy my gered? Ek is dit nie waardig nie!”
Uiteindelik na baie dae se stap waarin hy hope tyd gehad het om met God te worstel, te gesels en te huil in boetedoening, kom Jona weer by sy huis aan.
In Jona 3:1,2 lees ons die enkele woorde: “Die woord van die Here het ‘n tweede keer tot Jona gekom: ‘Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan met die boodskap wat Ek jou sal gee.’”
Jona het die nag op sy bed gelê toe hy baie duidelik die stem van die Here hoor, presies net soos die keer voor hy probeer vlug het. Hy het dit so half-en-half verwag, maar eintlik het hy nie rêrag gedink dat die Here hom weer sou vertrou met so 'n opdrag nie!
Hierdie slag is Jona egter gehoorsaam. Nie baie gewillig nie, maar ten minste doen hy wat God vra!
Halfhartig begin Jona sy goedjies inpak. Hy moet maar raap en skraap want alles wat hy op sy vorige reis saamgeneem het, het in die storm vergaan. “Here, ek dink nog steeds dat ek nie die regte persoon is om hierdie taak aan te pak nie,” protesteer Jona, “ek doen die hele ding onder protes!”
En só, met 'n lang gesig val Jona in die pad, rigting noord-oos na die groot stad Nineve, die hoofstad van goddeloosheid. Elke paar moeisame treë wat Jona gee, sug hy swaar......
“Here, U is onregverdig!” kerm Jona.
“Het ek jou nie uit die kloue van die dood gered nie, Jona?”
“Ja, Here, maar......”
“Jona, is jy dan nie dankbaar oor jou redding nie?”
“Ja Here, natúúrlik is ek dankbaar.......”
“Is dit dan te veel gevra om 'n eenvoudige taak vir My te doen? Daarmee sê jy eintlik vir My dankie.”
“Maar Here, ek gaan mos nou soos U gevra het.”
“Ja Jona, maar waarom so halfhartig, so onder protes?”
Dit is moontlik die gesprek wat gevoer is tussen Jona en die Here op pad na Nineve. Ons weet nie wat alles gesê is nie, maar ek kan maar net raai......
Die Here het vir elkeen van ons, soos vir Jona, alreeds 'n tweede of derde of dalk honderdste kans gegee. Die vraag is: Wat maak ons daarmee?
Kom ons begin by die begin. Ek en jy is alreeds 'n tweede kans op lewe gegun die dag toe die Here in ons lewe gekom het. Toe ek, na die hóéveelste uitnodiging van Jesus aan my om deel te word van God se familie, uiteindelik die uitnodiging aanvaar het, het Hy my gered van 'n sékere dood. En nie sommer maar net die gewone dood nie, maar die ewige verderf saam met die duiwel en al sy grusame trawante!
Soos ons almal weet het hierdie tweede kans nie goedkoop gekom nie. Jesus het 'n baie duur prys hiervoor betaal. Hy moes van die eerste dag af vernedering-op-vernedering verduur. Dit het gekos dat Hy, die Allerheiligste, Koning van die Heelal moes neerdaal tot op die vlak van die sondige mens en gebore word in 'n vuil stal omdat niemand vir Hom plek gehad het nie. Na 'n lewe van dertig jaar waarin Hy talle male verwerp, beledig en selfs met die duiwel vergelyk is, moes Hy die grusame kruisdood sterf. Dit het gepaard gegaan met 'n onmenslike liggaamlike sowel as geestelike marteling!
As iemand jou so duur red, sal jy dan nie dankie sê nie?
'n Lewe van dankbaarheid behels véél meer as net 'n lofprysing tydens 'n Erediens. Dit behels baie meer as net Bybel lees, kerk bywoon, aan 'n selgroep behoort en bid. 'n Dankbaarheidslewe beteken gehoorsaamheid aan God – ongekwalifiseerde gehoorsaamheid!
Maar gehoorsaamheid met 'n swaar sug en 'n lang gesig is eintlik nie veel werd nie. Ware gehoorsaamheid beteken om te doen wat die Here van my vra met groot entoesiasme en saam daarmee blydskap. Habakuk het gesê: “......nogtans sal ek jubel in die Here!” (al gaan dit ook hóé moeilik). En Paulus beklemtoon borrelende blydskap dwarsdeur al jou swaarkry in sy brief aan die Filippense.
Gebed:
Here, leer my ware gehoorsaamheid en saam daarmee 'n borrelende blydskap in U, my Here en Redder!