Daniël 11:5-21
Die engel het in ‘n paar woorde vir Daniël die geskiedenis saamgevat tot met die verdeling van die Macedonies-Griekse Ryk. Nou gee hy meer detail oor kleinere ryke wat hieruit voortgevloei het. Hierdie is nie sommer net geskiedenis nie, maar alles loop uit op dinge wat ‘n groot invloed het op die Volk van God - dus geskiedenis met ‘n doel. Hoe dit ookal sy – dit klink soos ‘n moderne sepie gelaai met intriges!
Alles begin met een van Alexander die Grote se bekwaamste generaals, Ptolemeus I. Hy bou vir homself ‘n ryk op in Egipte (die koning uit die Suide). Een van sy generaals, Seleukos I, verower weer Babel en vorm die Seleukidiese Ryk in die Noorde. Na 61 jaar poog hierdie twee ryke om kragte saam te snoer. Om goeie betrekkinge op te bou, gee die Egiptiese koning Ptolemeus II sy dogter, Bernice as vrou vir die Siriese koning, Antiochus Theos (die goddelike). Antiochus was egter reeds getroud met Laodicea. Hy skop haar uit om plek te maak vir die nuwe jong blaartjie, Bernice. Maar dinge werk nie lekker uit nie en hy los haar en vat weer vir Laodicea terug. Haar eer was egter gekrenk, en sy laat vir Bernice sowel as haar troonopvolger-kind en haar hele Egiptiese huishouding uitmoor! Bernice se broer, Ptolemeus III neem wraak en trek met ‘n groot leër op na Antiochië en vermoor Laodicia. In die proses buit hulle ‘n reuse fortuin, onder meer 2’000 ton silwer, ‘n groot klomp goud en 2’500 afgodsbeelde!
Dit het oorlog beteken! Sirië en Egipte takel mekaar in bloedige oorloë waar daar onder meer van olifante gebruik gemaak is wat as “tenks” gedien het. Tienduisende soldate sneuwel. En tussen hierdie twee vegtende nasies, was die klein Joodse volkie vasgevang! Uiteindelik kry Sirië die oorhand en bevry in die proses die Jode wat swaar onder die Egiptiese juk gely het. Die Siriese koning, Antiochus, besluit om witvoetjie te soek by die Egiptenare, en gee sy dogter, Cleopatra as vrou vir Ptolemeus V van Egipte. Sy verskuilde agenda was egter dat Cleopatra dan oor Egipte sou regeer, maar dit het nie lekker uitgewerk nie.
Intussen verskyn daar ‘n splinternuwe aanspraakmaker op wêreldroem op die toneel - die Romeine! Toe Antiochus die Grote die Griekse gebied wou annekseer, loop hy hom vas teen die Romeinse mag. By Magnesia sneuwel 50’000 van Antiochus se soldate en Sirië word gedwing om ‘n reuse oorlogskuld te betaal!
Sirië is geknak, verneder en verarm. Nou was die verhoog gereed vir die Ou Testamentiese Antichris. Nóg die koning van die Noorde, nóg die koning van die Suide kon dit regkry om ‘n wêreldmag tot stand te bring. Albei was verarm en verneder. Uit hierdie puin sou die “Antichris” verrys. Die res van hierdie hoofstuk in Daniël handel dan ook oor hierdie “veragtelike persoon” (v. 21).
Ná die slag van Magnesia oorhandig Antiochus die Grote ‘n aantal vooraanstaande Siriërs aan die Romeine as gyselaars, onder meer sy eie seun, Antiochus IV. Hy dien vir tien jaar gevangenisstraf uit in Rome. Gedurende daardie tyd was sy broer (die Siriese koning Seleukos IV) se seun Demetrius tydens ‘n staatsgreep gevang en na Rome gestuur om Antiochus IV as gyselaar te vervang. Demetrius was die troonopvolger, maar sy pa word vermoor deur sy minister van finansies, terwyl Antiochus IV as vry man wegstap. Op pad huistoe hoor Antiochus van hierdie moord op sy broer, en hy begin links en regs vry by ander konings om hom te help om aan bewind te kom. Hy is suksesvol en só bestyg hy die troon. Dit was ‘n totale onverwagse wending van sake, want wie sou óóit kon dink dat iemand wat vir tien jaar in die tronk was, in aanmerking kom vir die koningskap? Sy slinkse streke het hom die troon besorg!
In die volgende aantal verse van Daniël 11 sien ons hoe karakterloos hierdie man se optrede sou wees. Met listige sluheid sluit hy verbonde met ander vorste, nét om hulle op die mees strategiese oomblik weer uit die weg te ruim! Hy het met mooi woorde die inwoners van die vrugbaarste dele van die land aan die slaap gesus, en dan die land leeg geplunder. Die buit het hy met uitermatige verkwistende vrygewigheid onder sy aanhangers verdeel om sodoende groot invloed oor hulle te kry. As dit eers gebeur het, het hy hulle in sy mag gehad.
Die geskiedenis herhaal homself telkemale! Oor die 2000 jaar wat volg was daar al weer talle soortgelyke despote wat op baie slinkse maniere lande ingepalm het, verwoesting gesaai het en miljoene lewens geëis het. Dink maar aan Djengis Khan – Sy Mongoolse Ryk het groot dele van Asië en Europa verwoes. Miljoene mense is in die veldtogte dood. Napoleon Bonaparte se veldtogte het die Europese kontinent geskud. Miljoene mense is in die Napoleontiese oorloë dood. Adolf Hitler het sowat 60 miljoen lewens geëis. Josef Stalin het met hongersnode, suiwerings en dwangarbeid miljoene mense doodgemaak. Mao Zedong se programme soos die Groot Sprong Vorentoe en die Kultuur Revolusie het volgens ramings 30–45 miljoen sterftes veroorsaak. Idi Amin was bekend vir massaslagtings en onderdrukking. En vandag gaan dit steeds aan in Gaza, die Oekraïne, Noord-Korea en verskeie Afrikalande!
Gebed:
Here, dankie vir die dinge wat ons kan leer uit die geskiedenis. Vanoggend wil ek elkeen in Gaza, die Oekraïne, Noord-Korea en Afrikalande wat gebuk gaan onder die verskriklike verdrukking aan U opdra in gebed!