Genesis 12:1-3
In Sarai se kop weergalm Abraham se woorde: “Kom, ons moet oppak!” Eers wou sy bly word, want sy het gedink dat hulle dalk vir die familie in Ur gaan kuier, maar toe sien sy die kyk in haar man se oë, en sy weet: hierdie “oppak” beteken dat alles, ALLES opgepak moet word, en dat hulle gaan wegtrek.
Abraham is gebore in Ur in die ooste, die huidige Irak, naby die Persiese Golf. Oorspronklik was sy naam Abram, maar God het hom later herdoop na Abraham. Later het sy pa, Tera besluit om na Haran te trek, iewers op die grens tussen die moderne Turkye en Sirië. Een van die sytakke van die Eufraatrivier ontspring hier, en dit vorm ‘n lowergroen landstreek wat vandag totaal oordek is met vrugbare landerye. In hierdie land het Abraham skatryk geword met talle slawe en groot troppe vee.
Op ‘n dag praat God met Abraham: “Gaan weg uit jou land, weg van jou familie en jou ouerhuis, na die land wat Ek jou sal wys.” (Gen. 12:1)
Daardie nag kan Abraham nie slaap nie. Hy lê heelnag en rondrol. Langs hom lê Sarai en sy weier om met hom te praat. “Ek sal jou ‘n groot nasie maak,” weerklink die Here se belofte deur Abraham se kop. “Ek sal jou seën en jou naam groot maak, sodat jy 'n seën sal wees.” Wat sou al hierdie dinge tog beteken? Gaan hy nog ryker word daar in die nuwe land? Gaan hulle hom dalk kroon tot koning oor die hele land? Nee wat, koning wil hy tog nie wees nie – konings maak net oorlog! Hy is mos ‘n man van vrede!
Skielik sit Abraham regop op sy slaapmatjie, sy oë wawyd oop. “Sarai, Sarai!” Hy skud sy wederhelf wakker. Sy máák in elkgeval tog maar net of sy slaap. “Ek het skielik die laaste deel onthou van God se boodskap.” Sarai deel nou nie juis in Abraham se entoesiasme nie. Sy is in elkgeval nog vies vir hom oor sy skielike trekgier. “Wat is dit dan tog Abraham?”
Die Here het gesê: “deur jou sal al die grootfamilies van die aarde geseënd wees.” Wat sou dit beteken? Nou is Abraham helder wakker. Hy staan op en gaan sit buite sy tent en kyk na die sterre. “Here, wat beteken dit alles? Waarheen wil U my stuur? Hoe kan ek ‘n groot nasie word as my mooi Sarai onvrugbaar is?” Maar daar kom geen antwoord nie. “Here, hierdie ding is hééltemal te groot vir my verstand om te begryp.” Bo hom hang die heelal, gevul van hoek tot kant met wonderwerke, ‘n reuse skilderdoek, beskilder met lewende elemente wat beweeg en flikker en vir Abraham wink. “Ek verstaan ook nie die gewelf hier bo my nie,” sug hy vir die Here. “Maar ek glo dat elke klein liggie die werk van U hande is.” Trane loop oor sy wange as hy bely: “Here, en ek glo met my hele hart dat ek in U hande is, en dat U my sal lei waarheen ek ookal moet gaan.” Een ster staan vanaand helderder uit as al die ander sterre in die hemelruim.
Tweeduisend jaar later, toe Abraham se afstammelinge al meer as die sandkorrels van die woestyn was, het daar ook een aand ‘n helder ster geflikker - een wat baie helderder was as al die ander sterre. Wyse manne uit die Ooste het dit gevolg tot by ‘n klein dorpie in die hartjie van die beloofde land, en daar het hulle ‘n Baba gekry in ‘n stal. Hulle het goud en wierook en mirre vir Hom gegee as geskenke, want Hy was gebore as Koning. Nie sommer net enige ou koning nie, maar dié Koning van alle konings van alle tye.
Maar Sy geboorte was nie om koningskap op aarde oor te neem nie. Die omstandighede van Sy geboorte - die vuil stal en die stinkende diere om Hom - alles het gedui daarop dat Sy lewe nie maklik sou wees nie, om die minste te sê! Op ‘n jeugdige drie-en-dertig jaar is Hy tragies dood. Hy is onskuldig tereggestel op die wreedste moontlike manier. Selfs die regter het Hom onskuldig bevind!
Maar toe gebeur die wonderwerk: drie dae later staan Hy uit die dood op. En elkeen wat in Hom glo, kry die ewige lewe, nie alleen Jode nie, maar ook Grieke en Romeine en Assiriërs - en selfs Suid-Afrikaners. In Hom rus onmeetlike seën.
Hy was ‘n direkte afstammeling van Abraham!
Ja, Abraham sou ‘n volle tweeduisend jaar moes wag om die belofte wat God hom daardie dag gegee het te sien waar word. Al sou hy ook so oud word soos sy oer-oupa Metusalag, sou hy dit nie beleef nie. Maar die hoop het nie beskaam nie, en die dag toe die wyse manne hulle geskenke in Betlehem afgegee het, het Abraham lofliedere gesing en gejubel en gedans daar aan die voete van die Heilige God wat eenmaal vir hom belowe het dat dit sou gebeur. Tóé het hy niks daarvan verstaan nie, maar hy het bly glo.
Ek en jy wonder dikwels oor die ongelooflike beloftes wat dieselfde God vir ons gegee het in Sy Woord. Die nuwe hemel en aarde en die nuwe Jerusalem met sy goue strate en die ewige lewe. God hou by Sy beloftes!
Gebed:
Here, ek klou vandag vas aan elke belofte wat U my gee. Dankie dat U getrou is!