Handelinge 2:43-47
Ons sluit die reeks oor Pinkster af met hierdie beskrywing oor hoe Pinkster die geloofsgemeenskap se lewens verander het.
As jou lewe aan die ryper kant van sewentig trek, dan kan jy vanoggend saam met my terugdink aan ‘n eenvoudige lewe waar mense nog waarlik vir mekaar omgegee het. In die dae voor rekenaars, selfone, internet en TV was dit soveel rustiger en eenvoudiger. Kuier was ‘n alledaagse ding. Nie partytjies nie maar eenvoudige kuier, waar vriende of familie saam op ‘n Saterdag iewers in die veld langs ‘n waterstroompie piekniek gaan hou het. Saam met ‘n groot groep vriende het ons dikwels Waterval Boven se talryke berge en klowe ingevaar en die heerlike skoon lug en asemrowende natuurskoon geniet.
Sondag na kerk was dit familietyd en dan is daar gekuier, gesels, onthou-stories vertel en saamgeëet. Ons het waarlik vir mekaar omgegee en mense het uit hulle pad gegaan om mekaar te help. Niemand was ryk nie maar ons was dolgelukkig want almal het vir mekaar omgegee!
Wat het gebeur dat dit alles so verander het? Ons het te besig geword! Dit begin in die gesin - waar ons saans dinge saam gedoen het, om die tafel gesit en kaart gespeel het, ook daar geëet en gesels het is ‘n gesin vandag vasgenael voor die TV, selfoon of rekenaar wanneer hulle by die huis is en daar word skaars met mekaar gepraat! Naweke kuier vriende selde, buiten moontlik as hulle saam om die TV is vir die een of ander “belangrike” rugbywedstryd. Familie ken mekaar skaars, buiten vir WhatsApp boodskappies!
Vakansies was vir my as kind ‘n groot lekkerte! Xai-Xai was ons gereelde vakansiebestemming en hordes familie en vriende het gewoonlik saamgepiekel. Die oumense het in lekkende houthuisies gebly en al die ander het tente opgeslaan. Dit was gróót sports! Soms het ons saam die magtige Limpopo aangedurf in roeibootjies waar ons tot by die riviermonding gevaar het om te gaan visvang. Almal het dan sommer so op die sand onder die sterre geslaap vir ‘n paar nagte. Gemaklik was dit beslis nie en die krappe het snags oor jou geloop! Maar die wonderlike samesyn en kuier tot laatnag om ‘n vuurtjie was ‘n heerlike belewenis wat ek vir altyd sal onthou!
Lukas beskryf in Handelinge 2:42-47 die leefstyl wat die nuwe Christengelowiges in Jerusalem gehandhaaf het. Dit was ‘n dinamiese, Geesvervulde gemeente waarmee ons hier te doen kry. Daar was ‘n paar uiters belangrike aspekte van hulle leefstyl waarna ons moet kyk:
Hulle onderhou die leer van die apostels getrou. Wat beteken dit? Die leer van die apostels het gewentel om die persoon en werk van Jesus Christus. Dit het onder andere die verkondiging van die Woord van God behels. Jesus was dus die middelpunt van die mense se lewens!
Hierdie mense is onderling aan mekaar verbonde. Daar is dus ‘n baie spesiale gemeenskapsband wat hulle aan mekaar bind. Lukas gebruik die woord “koinonia,” wat beteken dat daar ‘n splinternuwe band van liefde tussen die gelowiges gevorm het. Hulle is nou nie meer vreemdelinge nie maar broers en susters. Hulle is bloedfamilie binne die nuwe gesin van God.
Hulle het gemeenskaplike maaltye geniet. In daardie tyd was ‘n maaltyd baie meer as net om gou ‘n stukkie kos af te sluk, soos so dikwels vandag ons lot is. Dit was dikwels ‘n godsdienstige ritueel waar familie saam was en die kos ‘n geestelike betekenis gehad het. Hierdie nuwe gelowiges het die tradisies voortgesit maar met ‘n héél nuwe betekenis. Tydens die maaltyd is daar gedink aan Jesus se groot offer en veral ook aan die teenwoordigheid van die opgestane Here in hulle midde!
Dan was daar die kwessie van volgehoue gebed wat ‘n kenmerk was van die gemeente. Waar die Gees aan die werk is, is gebed ‘n integrale deel van jou lewe!
Eensgesindheid is ‘n ander wonderlike kenmerk van hierdie gemeente. Só heg het hierdie band geword dat mense selfs bereid was om hulle besittings met mekaar te deel. Daar het ware broederskap geheers want mense het waarlik vir mekaar omgegee en hierdie omgee prakties en effektief uitgeleef.
Ek dink ek en jy het beslis baie om te leer van hierdie eerste gemeente. Dit het tyd geword dat ons gelowiges weer as een saamgebind word as die gesin van God en dat ons familiebande ons nader aan mekaar trek. Dit help egter nie om maar net daaroor te filosofeer nie! Ons moet daadwerklik ‘n besluit neem en iets daaromtrent doen! As ons bereid is sal die Heilige Gees ons daarmee help. In ons gemeente het die omgee vir mekaar 'n kenmerk geword en die hegte gesinsbande wat daar gesmee word is goud werd! Kom ons begin weer die “koinonia” waarvan Lukas praat, prakties uitleef in ons gemeentes!
Gebed:
Dankie Here, vir wonderlike herinneringe. Help ons asseblief om weer waarlik omgee-Christene te word!