'n Nuwe Mens

11 June, 2026

2 Korintiërs 1-9

Oor die volgende week of wat benut Paulus sy tyd om die brief aan die gemeente in Korinte te skryf, en Timoteus het die taak om Paulus se gedagtes op papirus neer te pen.

Terloops, waarop was Paulus se briewe oorspronklik geskryf? Waarskynlik op papirus, omdat dit goedkoper was en meer algemeen gebruik was vir briewe. Dit kon egter ook op perkament gewees het. Ons kan egter nie met sekerheid sê nie.

Paulus voel gefrustreerd dat daardie gemeente nie altyd mooi verstaan wat hy vir hulle skryf nie. Hoe kan hy dit duideliker stel? Hy probeer verduidelik: “Ons skryf immers aan julle niks anders as wat julle lees en ook verstaan nie. En ek hoop dat julle later ten volle sal verstaan soos julle ons ook ten dele verstaan het – dat ons op die dag van ons Here Jesus julle tot roem sal wees, net soos julle ook vir ons.” (2 Kor. 1:13,14)

Timoteus skud sy kop. Hy kan ook nie verstaan waarom die mense nie kan verstaan nie. Alles is tog so helder en duidelik gestel!

Inderdaad is daar 'n paar dinge wat ék eendag vir Paulus wil vra, want ek verstaan óók nie altyd mooi presies wat hy bedoel het nie. En dan sal Paulus daaroor lag. Sommige van die dinge wat hy geskryf het, het sy lesers al baie laat kopkrap, en daar is selfs tradisies geweef rondom sommige van die dinge, bloot omdat hulle misverstaan is. Vat nou byvoorbeeld die hoed: vir baie jare het almal geglo dat 'n vrou 'n hoed móét dra in die kerk! En dit bloot omdat ons nie verstaan het wat hy bedoel het nie!

In sy brief aan die gemeente in Korinte skryf Paulus mooi dinge. Hy skryf oor die triomf wat die Evangelie behaal het, waar die Here onder meer in Troas die deure wyd oopgemaak het vir die Evangelie. In Masedonië is die kennis van Christus versprei soos 'n aangename geur. Vir diegene wat Jesus se verlossing aangeneem het, was dit 'n lewensgeur. “Ons is nie soos so baie ander wat smous met die woord van God nie; maar ons praat in opregtheid, asof vanuit God, voor God, en dit in Christus,” skryf Paulus (2 Kor 2:17)

Maar dan is hy baie vinnig om te sê dat hy hiermee geensins sy eie stert probeer prys nie. “So 'n vertroue op God het ons deur Christus. 5 Nie dat ons uit onsself bekwaam is om te reken dat iets uit onsself kom nie – nee, ons bekwaamheid kom van God. 6Hy het ons bekwaam gemaak om bedienaars van 'n nuwe verbond te wees – nie van die letter nie, maar van die Gees. Want die letter maak dood, maar die Gees maak lewend.” (2 Kor 3:4-6).

Paulus gee die troos in 2 Kor. 4 dat ons soos kleipotte is, broos en maklik breekbaar, maar dat dít wat binne-in ons is, kosbaar is. In vers 16-18 skryf hy dat ons liggame dalk verniel of gebreek mag word, maar Jesus word juis sigbaar in ons sterflike bestaan: “Daarom gee ons nie moed op nie, want selfs al vergaan ons uiterlike mens, word ons innerlike mens van dag tot dag vernuwe. Want ons ligte en tydelike verdrukking bewerk vir ons 'n gewigtige en allesoortreffende ewige heerlikheid, terwyl ons nie let op die sigbare nie, maar op die onsigbare dinge; want die sigbare is tydelik, die onsigbare ewig.”

Dan gaan hy aan in hoofstuk 5:1 met die triomferende woorde: “Ons weet tog dat wanneer ons aardse tentwoning afgebreek word, ons 'n gebou het wat van God kom, 'n ewige woning in die hemele, wat nie met hande gemaak is nie.”

Paulus besef ook dat versoening noodsaaklik is. In vers 17-18 skryf hy: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword. En dit alles kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen het, en aan ons die bediening van die versoening gegee het.” Paulus pleit by die lesers: “Om Christus ontwil: Laat julle met God versoen!”

En dan skryf Paulus in 2 Kor. 6:14 een van daardie dinge wat baie lesers al laat kopkrap het: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie.” Beteken dit vandag dat ek nie saam met 'n ongelowige mag werk nie? Geensins, dis nie wat hy bedoel nie. Dit gaan oor intieme verbintenisse waarin jou geloof en lojaliteit aan Christus in gedrang kan kom. Die vraag is dus: Gaan hierdie verhouding my nader aan Christus bring of my wegtrek van Hom af?

Dan doen Paulus in hoofstuk 8 en 9 'n beroep op die Korintiërs: die gemeente in Jerusalem trek finansieel baie swaar. Nou vra hy dat die Korintiërs hulle hande diep in hulle sakke sal steek om hulle te help. Hy sê dat die gemeentes in Masedonië alreeds ruim bygedra het hiervoor, al gaan dit daar ook maar dikwels broekskeur. Hy sal vir Titus stuur om hulle bydraes te gaan haal. En terloops, hy was só bly toe Titus die dag by hom opdaag uit Korinte om vir hom die goeie nuus te kom vertel, dat dit goed gaan in die gemeente.

Oor hierdie bydraes, maak Paulus dit duidelik dat dit vrywillig is. Elkeen moet self besluit hoeveel hy sal gee, nie uit teësin of dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief. Maar onthou: “Wie karig saai, sal karig oes; en wie oorvloedig saai, sal oorvloedig oes!” (2 Kor. 9:6)

Paulus sluit die brief af en stuur dit saam met Titus na Korinte. Ja, jy het reg gelees: die oorspronklike 2 Korintiërs-brief het net gegaan tot by hoofstuk 9. Paulus het eers 'n paar maande later hoofstukke 10-13 geskryf, en as 'n aparte brief aan hulle gestuur. Dus het hy altesaam 5 briewe aan die Korintiërs geskryf waarvan ons weet. Daar mag dalk nog meer gewees het, maar daaroor is ons nie seker nie…...

Gebed:

Here, dankie vir al die wonderlike waarhede in Paulus se brief. Help my asseblief om waarlik soos 'n nuwe mens vir U te leef!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Jesus Word Verheerlik
13 October, 2026
Om Op Water Te Loop
12 October, 2026
Kos vir ‘n Reuse Skare
9 October, 2026
Vervolging
8 October, 2026
Persecution
8 October, 2026