Amos 5:21-27
Het jy al ooit mooi gekyk na ‘n kruishout? ‘n Kruis is propvol gelaai met simboliek. Daar is twee aparte elemente in ‘n kruis, eerstens die regop paal wat vertikaal staan, en dan die dwarsbalk wat horisontaal lê. Saam vorm die twee balke ‘n onlosmaaklike eenheid. Die kruis simbool speel ook ‘n belangrike rol in ons geloofslewe. Die vertikale “regop-paal” stel ons verhouding met die Here voor, en die dwarsbalk ons horisontale verhouding met ander mense. Die een kan nie sonder die ander nie, want dan is dit nie meer ‘n kruis nie.
Ons weet almal hoedanig ons vertikale verhouding met die Here behoort te wees, maar dit is gewoonlik die horisontale verhouding met ander mense wat totaal afgeskeep word. Wanneer dit gebeur, kan ons net sowel ons verhouding met die Here vaarwel toeroep, want sonder die regte verhouding met mense is ‘n poging om die Here te aanbid nutteloos.
Amos stel dit baie kras en absoluut onomwonde as hy vir Israel sê hoe die Here voel oor hulle Godsdiens: “Ek haat, Ek verafsku julle feeste”, is sy skok-boodskap, “Gee pad voor My met die rumoer van jou gesing; Ek wil nie jou harpmusiek hoor nie!” Hoe verskriklik! Dink net: Hoe sou ons voel as die Here vir ons moet sê: “Oor ‘n paar weke wil julle alweer Kersfees vier, en later Paasfees en Goeie Vrydag? Moenie eers daaraan dink nie! Ek, die Here het ‘n afsku in julle skynheilige fees!” Dit sou ‘n skokkende ding wees om te sê, en ek dink baie mense sou my wou kruisig as ek so ‘n stelling sou wou maak. Maar ek dink dit is presies wat die Here dink van sommige van ons gelowiges se mooi poging om wél hierdie feeste te vier. Ek ken mense wat slegs tweekeer per jaar in die kerk kom: op Kersdag en op Goeie Vrydag, net om te wys dat hulle nie totaal van die Here vergeet het nie!
Maar dit is nie waaroor dit hier gaan nie. Amos verduidelik waarom die Here hulle feeste haat: Hulle, die volk van God, Israel het net die vertikale verhouding met God onderhou, en die horisontale verhouding met hulle medemens totaal afgeskeep. Die “reg en geregtigheid” waarvan ons gister gepraat het, het totaal ontbreek. En waar dit nog voorgekom het, was dit maar baie sporadies.
Het jy al ooit langs die strand gaan sit en totaal in jou gedagtes verlore geraak as jy kyk na die branders wat so aangerol kom? Daar is mos nie ‘n einde aan die branders nie! As die een sy laaste druppels spoel oor die strand, rol die volgende brander alweer aan, nimmereindigend! Ja, met laagwater is die branders wel kleiner, maar steeds rol en rol en rol dit voort. En dan kom die hoogwater en springgety weer waar reuse golwe voortbulder, dag en nag, week na week, jaar na jaar. Net so, sê Amos, moet ‘n gelowige se “geregtigheid” wees - ‘n nimmereindigende waterstroom. Die golwe aan ons kus hou nooit, ooit op nie. Hulle gaan staan nooit stil nie. Net so kan ‘n gelowige ook nie sy “geregtigheid” vir ‘n tydlank staak nie! Dit moet ‘n standhoudende rivier van geregtigheid wees.
Wat word bedoel met “geregtigheid”? Ons het uit vorige dagstukkies gesien dat die welaf Israeliete diegene wat op die tak laer af gesit het, verdruk het. Hulle het liefdeloos opgetree. “Geregtigheid” het vir ons ‘n baie wyer betekenis, want Jesus het dit duidelik uitgespel wat God van ons verwag ten opsigte van ons medemens - ‘n onvoorwaardelike liefde, selfs al is hy jou vyand! Toe Jesus gevra is om die wet op te som, het Hy gesê dat dit behels om God lief te hê, maar dat die tweede gebod wat daarmee GELYKSTAAN is om jou medemens lief te hê. Dit is nie ‘n minderwaardige gebod nie, maar is gelykstaande aan jou liefde vir God! Die een kan nie sonder die ander nie. As jy slegs mense liefhet is dit humanisme. As jy slegs vir God liefhet, is dit skynheiligheid! Albei is ewe belangrik.
Die vraag wat ek myself vandag moet afvra is: hoe moet daardie “geregtigheid” - die liefde vir my medemens lyk? O, ek weet hoe my liefde vir God moet lyk, en ek probeer hard om dit tot uiting te bring. Maar my naasteliefde? As ek vieslike of afbrekende grappies stuur oor Whatsapp van bekende mense - is dit liefde? As ek iets kwetsend sê oor ‘n kollega wat nou nie juis so gewild is nie - is dit liefde? Paulus som ware Goddelike liefde so mooi op in 1 Kor 13, as hy sê dat liefde geduldig en vriendelik is, en dat dit nie afgunstig, grootpraterig of verwaand is nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie en soek nie eie belang nie. Dit is nie liggeraak nie en hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie in die onreg nie, maar verheug hom in die waarheid.
Hierdie is ‘n baie groot mondvol, maar dit is waaroor ons liefde teenoor ons medemens waarlik gaan, selfs al is hulle jou vyand! Ons kan dikwels so pragtig bid en so sielsverrykend lof- en aanbiddingsliedere vir God sing, maar dit is alles tevergeefs as ons nie terselfdertyd die liefde waarvan Paulus praat, ten volle uitleef nie.
Gebed:
O Here, ek staan vanoggend alweer diep skuldig voor U, want my liefde vir my medemens skiet baie ver tekort.