2 Tessalonisense 1:3-12
Die son trek sy laaste strale tussen die sekelbosse in en die nag kom gooi ‘n pikswart kombers oor die Laeveld. Skielik is dit nag. Pikdonker, steenkoolswart, hartomklemmend nag. Die maan kom eers laatnag op en daar is nêrens die vaagste sweempie van ‘n ou liggie nie, net die duistere, onheilspellende bos. ‘n Leeu brul. Nog ‘n leeu val in saam met sy maat. En dan val die hele trop in uit volle bors sodat die vensters amper ratel! Daar’s nie krag nie en ons ou flikkerende kersie beur teen die nag se swart, maar sy powere liggie kom nie veel verder as die stoep se rand nie.
Iewers in die onheilspellende bosse kerm 'n hiëna: "Hoeeep, hoeeeep!" Sy onaardse krete weerklink tussen die doringtakke deur. 'n Naguiltjie sing onheilspellend: "Maak dood die wewenaar!" Ek pak haastig nog ekstra hout op die vuur en sy knetterende vlamme bring 'n bietjie gerusstelling in my hart. Die leeus begin weer brul - hierdie slag baie nader en my hart mis 'n paar slae. Skaars 'n halwe kilometer van die huis af het die leeus een nag 'n man verskeur en opgevreet. 'n Koue rilling gaan deur my lyf! Hoe verskriklik! Ja, hy wás wel 'n man van die nag en die goed wat hy daardie nag gesteel het, het naby sy oorblyfsels gelê. Maar hy was steeds 'n mens, een met 'n siel soos myne én vrese en sekerlik ook hoop.
'n Takkie kraak - ek skrik my boeglam, en ek gryp na die flitslig: drie koedoes staan hier vlakby ons. Weereens weergalm die leeus se brulle. En dan is dit stil, onheilspellend stil. En donker..... pikdonker!
“Kyk!” hoor ek Mosbolletjie sug. Deur die vaal boomgeraamtes steek die maan haar kop oor die horison. Met groot afwagting kyk ons hoe sy haar rustig oplig uit die grypende vingers van die doringbome, totdat sy skitterwit in die lug hang, verhewe bo die duistere dinge van die bos. Met verligting sien ons hoedat die wêreld om ons oopvou in die helder strale van die maan. Die duisternis is oorwin!
In ‘n sekere sin is vervolging en lyding dieselfde as so ‘n skrikwekkende duisternis. Soms voel dit vir jou soos ‘n pikdonker mag waarteen jy baklei, maar jy kom net nêrens nie, want die oormag is net eenvoudig té groot. Jy probeer jou ou kersie skyn in die donker, maar sy liggie kom nie veel verder as net hier naby jou nie. As jy om jou kyk, en die sonde van korrupsie, moord, rooftogte, kapings en verkragting sien, dan voel dit asof jy teen ‘n verskriklike oormag veg. Wat help dit tog om nog te probeer? Help dit ooit om nog jou kersie te laat skyn? Maak dit ooit énige verskil? Kan een enkele ou liggie in die oormag duisternis énigiets verander?
Ek het al vergeet hoeveel lig ‘n eenvoudige ou kersie kan maak. Op die stoep is daar net twee doodgewone kersies, en al verlig hulle nou nie juis die bos daar buite nie, is hier ‘n helder ligglans op die stoep - oorgenoeg vir ons behoeftes. Iemand stuur ‘n rukkie gelede vir my ‘n reeks foto’s wat uit die ruimte geneem is van die wêreld in die nag. Dit is absoluut ongelooflik om te sien hoedat die groot stede as helder ligkolle uitstaan in die donker. Baie liggies saam maak ‘n reuse verskil! As elke gelowige maar net sy geloofskersie wil laat skyn, sal ‘n helder glans van geloof die wêreld verlig!
Paulus skryf juis aan die gemeente in Tessalonika dat hy baie trots is op hulle omdat hulle só te midde van al die vervolging wat hulle moet verduur, steeds aanhou om hulle geloofslig uit te straal. Hy dank God omdat hulle volhard en omdat hulle liefde vir mekaar net groter en groter word. As ons soms moedeloos raak oor al die onreg rondom ons, moet ons Paulus se woorde aan die Tessalonisense onthou: “Dit is 'n bewys van die regverdige oordeel van God dat julle waardig geag word vir die koninkryk van God, ter wille waarvan julle ook ly (vers 5). Ja, die wiel draai - dalk stadig, maar draai, draai hy!
Soos wat maanlig die duisternis sagmaak, so sien ons ook hoedat onreg dikwels op die lappe kom, en die misdadigers swaar gestraf word. Natuurlik is dit nie eers naastenby genoeg om alle onreg uit te wis nie. Maar die helder son van God se oordeelsdag gaan eendag opkom. Dan sal elke skaduweetjie van duisternis uitgewis word. Hoe verskriklik gaan die oordeel nie wees oor diegene wat volhard het in hulle sonde nie - diegene wat botweg geweier het om God se genade-aanbod te aanvaar. Maar hoe heerlik sal dit wees vir elke gelowige - die wonderlike wete dat alle ongeregtigheid finaal en totaal uitgewis is!
Die nag het gekom, en die nag het gegaan - ‘n splinternuwe dag het aangebreek. Die skoonheid van die bos is verruklik: ‘n witpensspreeu met sy spierwit hemp en glimmende pers baadjie, twee rooikop houtkappertjies met hulle vlammende rooi serpe sing ’n duet, ’n troppie tarentale, ’n koddige geelbek lyster, en selfs ‘n duikertjie – ag, almal is hier om die skitterhelder dag te vier! Die Here is groot en goed en wonderlik! Dankie Here!
Gebed:
Here, dankie dat U die lig in my lewe is. Gee my asseblief krag om my kersie te laat brand in alle omstandighede, tot eer en verheerliking van U wonderbare Naam!