Handelinge 20:1-3 en Romeine 1:1
In Masedonië is daar 'n geniepsige byt in die lug as die winter vinnig die wêreld in 'n ysige plek verander. Paulus vertrek suid na Agaje, oftewel Griekeland, waar die weer darem effens warmer is. Hy besluit om vir drie maande te vertoef in Korinte, en die winter daar deur te bring. Dit is dus Paulus se derde besoek aan Korinte. In die lente wil hy na Jerusalem gaan om daar te wees tydens die paasfees.
En dan besluit Paulus om wéér 'n brief te skryf. Hierdie een sou egter totaal anders wees as al die ander. Tot dusver het hy geskryf aan gemeentes waar hy alreeds gewerk het. Hierdie nuwe brief wil hy egter skryf aan 'n groep gelowiges wat hy nog nooit besoek het nie - die gelowiges in Rome. Hy wil hulle bemoedig, want hy besef baie goed dat hulle in uiters moeilike omstandighede en onder groot verdrukking leef.
Die Romeine-brief moet die manifes wees van God se opmars na die bose stad asook die res van die wêreld. Uiteindelik sou dit ‘n beslissende rol speel op deurslaggewende oomblikke in die geskiedenis van die kerk om gelowiges te laat agterkom hoe hulle verhouding met God daar moet uitsien. Die klem van wêreldse redding val op menslike prestasie, onderhouding van die wet en dooie formalisme. Die helder ligboodskap van die Romeinebrief weerklink egter te midde hiervan: Vryspraak deur geloof alleen!
Wanneer Paulus aan sy nuwe brief begin skryf, hou hy sy visitekaartjie uit na die lesers, en die eerste indrukke wat hy skep is dat ons hier met iemand te doen het van groot statuur. Maar dan staan daar in die heel eerste sinnetjie dat hy inderdaad slegs ‘n slaaf is. Nou weet ons mos dat slawe in die Romeinse Ryk nou nie juis die bopunt van die sosiale lewe gehaal het nie. Hulle was as’t ware niks, maar as ‘n slaaf darem aan ‘n baie hooggeplaaste amptenaar behoort het, kon hy wél status hê in die samelewing, mits sy baas hom natuurlik die mag sou gee. As hy die keiser se slaaf was, dan het mense geluister na wat hy sê, al was hy ook maar net ‘n slaaf, want hy het gepraat met die outoriteit wat die keiser hom gee. Paulus stel homself voor as die slaaf van niemand anders nie as Christus Jesus. Wanneer Jesus se Naam in hierdie volgorde gebruik word, beklemtoon dit die feit dat Hy die oorwinnaar is oor lewe en dood. En dit is van hierdie oorwinnende Christus wat Paulus die slaaf is!
Vir Paulus is daar dan ook geen groter status as om die slaaf van Jesus te wees nie! Jare later skryf hy uit die tronk in Rome aan die Filippense: “Om Christus Jesus, my Here te ken, oortref alles in waarde.” (Fil. 3:8 – 83 vert.) Al beweeg jy ook in die heel hoogste sosiale kringe, bly die heel belangrikste steeds om jou Christenskap voorop alles te plaas. Daar is niks belangriker nie!
Christenskap beteken egter veel meer as net ‘n titel - dit is terselfdertyd ook ‘n werk of roeping. Paulus stel dit baie duidelik dat Christus hom geroep en afgesonder het vir ‘n baie belangrike taak, naamlik om die Evangelie van God te verkondig. Hy noem homself ook ‘n “apostel”, ‘n Griekse woord wat beteken om “gestuur” te wees. In die konteks wat Paulus hier skryf beteken dit dus dat hy die gevolmagtigde gestuurde van Christus Jesus is, met ‘n spesifieke opdrag. Indrukwekkend!
Maar ons het darem mos ook al gesien dat Paulus nie maar net gesag van Jesus gekry het, en toe begin preek het nie. Paulus het ‘n leeftyd van studie van die Skrif deurgeloop. Een van sy leermeesters, Gamaliël, was ‘n hoogs gerespekteerde “professor”. Paulus het dus ook die nodige kennis gehad om die Evangelie te verkondig. Tóg moet hy verdere “nagraadse studie” doen om hom op hoogte te bring met die Christelike leer. Boekgeleerdheid was nie genoeg nie!
Inderdaad kry ek en jy ook daardie indrukwekkende besigheidskaartjie wat Paulus gedra het. Ons kan met presies dieselfde gesag as Paulus praat. Dit verg egter van ons ook ‘n paar dinge, net soos wat dit van Paulus geverg het. In die eerste plek moet ons besef dat om slaaf van Jesus te wees, beteken dat jy in Sy diens staan, en dat daar dus werk is om te doen. Hoe die werk gedoen word, en wat presies jou plig is, verskil van persoon tot persoon. Die feit is egter dat jy nie ‘n werk behoorlik kan doen sonder die nodige opleiding nie. Net so het elke mens wat in diens van Christus staan opleiding nodig. Sommige van Sy “dienaars” kry opleiding op universiteit om herders of leraars in ‘n gemeente te word. Jy kan egter uitstekende diens lewer met “in-diens-opleiding”, deur gedurigdeur te soek na kennis in die Woord.
Daar is talle nuttige kursusse soos byvoorbeeld EE III en Getroue Getuies wat beslis ‘n móét is vir enigiemand wat evangelisasiewerk wil doen. Sulke kursusse gee jou nie alleen die nodige kennis en vaardigheid nie, maar die inspirasie wat jy daar kry maak jou brandend om aktief in die Meester se diens te staan. Persoonlike Bybelstudie met behulp van ‘n goeie Bybelkommentaar is van groot waarde, maar dan moet jy ook besef dat dit uiters belangrik is om saam met ander gelowiges rondom die Skrif te sit en gedagtes uit te ruil.
Die héél belangrikste is egter dat jou gemoed en hart deurentyd oop sal wees vir die influistering van die Heilige Gees, want dit is Hy wat jou ál die nodige inspirasie gee en ook die harte voorberei van mense teenoor wie jy van Jesus getuig!
Gebed:
Dankie vir die wonderlike “besigheidskaartjie” wat U vir my gegee het, Here. Gee my asseblief die vrymoedigheid om dit oral te gebruik met trots!