Genesis 35:1-15
Elke dag in jou lewe behoort ‘n Sabbat te wees, ‘n dag aan God toegewy. In die praktyk werk dit egter nie so nie, en die mees toegewyde gelowige versamel dikwels so deur die loop van die lewe sondetjies waaraan hy gewoond raak. Naderhand sien hy dit as deel van sy gelowige lewe. Die toegewyde gelowige kom elke week saam met ander gelowiges saam om versterk te word, te aanbid en die Here te loof. En dan is daar selbyeenkomste, Bybelstudiegeleenthede ensovoorts waar ons as gelowiges opgebou word. Maar al hierdie dinge is nie heeltemal genoeg nie. Daar kom ‘n tyd in elke gelowige se lewe dat jy net weer ‘n baie spesiale tydjie saam met die Here moet deurbring om weer totaal tot stilstand te kom en weer ‘n slag gereinig word van die vuil wat jy met jou saamsleep. ‘n Tyd van hertoewyding aan die Here. Hierdie is gewoonlik die grootste hoogtepunte in ‘n gelowige se lewe. Dit is tye wat jy koester en vir altyd onthou, beslis baie spesiale tye.
Baie jare het nou al verby gegaan sedert Jakob gevlug het vir sy broer. Maar dit was ook dieselfde tyd toe hy vir die eerste keer werklik met God kennis gemaak het by Bet-El. En nou het dit tyd geword dat Jakob weer herinner word aan dit wat daardie nag gebeur het. Hy moet herinner word aan die beloftes wat hy daardie tyd aan die Here gemaak het, die tyd toe hy in groot nood was. Hy het daardie oggend ná sy droom vir die Here belowe dat as Hy by hom is en hom beskerm en vir hom kos en klere gee, sal hy Hom dien. Die Here het baie meer as net dit gedoen. Hy het vir Jakob ‘n baie ryk man gemaak, en Hy het hom ryklik geseën. En nou het die Here hom teruggebring in sy geboorteland, die beloofde land.
Wanneer die Here dan vir Jakob sê dat hy na Bet-El toe moet gaan, is die eerste gedagte wat deur Jakob se kop gaan: “Kan ek voor die heilige God gaan verskyn net soos ek is?” En dan besef Jakob dat hy beslis nie waardig is om voor die Here te gaan staan nie. Hy het vir jare gebly in ‘n heidense land waar afgode aanbid is. Sy vroue het selfs uit ‘n huis gekom waar afgodery aan die orde van die dag was, en nou het die tyd gekom dat hulle finaal gespeen word van die ou dinge waaraan hulle nog vasgeklou het. Waarom Jakob nie al lankal met sy vroue oor hierdie dinge gepraat het nie, gaan jou verstand te bowe.
Jakob roep almal bymekaar: “Kom, uit met al die afgodsbeeldjies wat julle nog het!” Elke dingetjie wat hulle nog herinner het aan hulle ou heidense lewe word aan Jakob oorhandig, en daar begrawe hy dit onder ‘n boom. Nou is hulle ou lewe simbolies dood en begrawe. As ‘n simbool van vernuwing en aanvaarbaarmaking voor God, was hulle hulle en trek skoon klere aan. Daar heers ‘n stemming van groot opgewondenheid onder hulle: “Ons gaan Bet-El toe!” sing hulle sekerlik al die pad.
Hierdie dinge het nie ongesiens verby gegaan nie. Die mense van die omgewing het gesien wat Jakob-hulle doen, en hulle was baie bang. Hulle was natuurlik ook baie deeglik bewus van wat met Sigem en sy trawante gebeur het. Daardie dag is die ganse stad en sy inwoners verwoes deur Jakob se seuns.
Simbolies gereinig van hulle ou lewe, pak hulle op en trek na Bet-El. Vir Jakob is hierdie ‘n baie emosionele oomblik wanneer hulle aankom by die plek waar hy vir God gesien het. Hy bou ‘n altaar vir die Here en hernoem die plek na El-Bet-El wat beteken: “God van Bet-El.” Daarmee word die ou bedeling afgesluit, en dit is nou ‘n splinternuwe Jakob wat voor die Here staan. Hulle het ál die ou dinge agtergelaat.
Maar die Here was nog nie klaar met Jakob nie, want nie lank daarna nie verskyn die Here weer aan Jakob en sê vir hom: “Jakob, van nou af sal jy nie meer Jakob wees nie. Jy sal nou Israel genoem word.”
Wanneer die Here vir die tweede keer vir hom sê dat sy naam verander is, word Jakob daaraan herinner dat die ou Jakob, die bedrieër dood is, en dat dit nou die nuwe Israel is wat voor God staan. Die Here herhaal dan ook die beloftes wat Hy vroeër aan hom gemaak het, dat hy ‘n groot nasie sou word en dat die ganse land aan sy nageslag sou behoort.
Die dag toe die Here in jou lewe gekom het, is jy nuut gemaak. Jy het ‘n nuwe naam gekry, die naam van Gelowige, kind van God. Die probleem is dat ons die dinge begin vergeet. Wanneer die geleentheid dus op jou pad kom om weer opnuut aan God toegewy te word, om weer herinner te word aan die nuwe naam wat jy gekry het, moet jy dit met albei hande aangryp. Dit is baie spesiaal!
Die beste is egter nog steeds om elke dag só te lewe asof vandag daardie spesiale dag is. Die Here het vir ons Sy Woord gegee sodat dit ons elke dag kan herinner aan die beloftes wat Hy ons gegee het, elke keer wanneer ons daaruit lees. Elke keer wanneer ek die Bybel oopmaak, is dit ‘n ontmoeting met God. Ek en jy is soveel meer bevoorreg as wat Jakob was. Kom ons benut daardie voorreg ten volle!
Gebed:
Here, dankie dat ek elke dag herinner kan word aan U beloftes. Dankie dat U net ‘n gebed ver is, en dat dit nie net by spesiale geleenthede is wat ek met U kan praat nie, maar elke dag, enige tyd van die dag of nag.